Tuisversorging en die virusuitdaging

(Foto: Claudia van Zyl/Unsplash.)

Deur Elize Perrin

Wêreldwyd werk gesondheidswerkers lang ure in ’n poging om ’n onsigbare vyand in toom te hou. Navorsers span al hul breinkrag in om die bedreiging te stuit. In die media skok opskrifte oor statistiek en massagrafte. Sommige wêreldlinge raak moedeloos en angsbevange. Vrae word gevra; onseker antwoorde word gegee, want hierdie Covid-19 is nog ’n onbekende leerskool.

Daar bestaan geen handleiding vir die hantering hiervan nie.

Ouer mense en diegene met onderliggende siektes word gewaarsku om ekstra versigtig te wees. Alhoewel persone in ouetehuise en tehuise vir persone met spesiale behoeftes met verskeie uitdagings gekonfronteer word, is daar wel opgeleide personeel met een of ander vorm van mediese kennis wat leiding kan neem.

Amper vergete is diegene wat onbepland as tuisversorgers vir ’n geliefde moet optree. In baie huishoudings is daar  sulke persone. Sommige word daartoe gedwing as gevolg van finansiële en/of praktiese redes. Vir ander is dit ’n keuse.

Tuisversorging is in die meeste gevalle ’n liefdestaak.

Bella Greyvenstein*, wat reeds drie van haar hartsmense versorg het, beaam dit. “Dit is ’n geestelik en fisiek uitputtende taak, maar die versorging is ’n plesier,” vertel sy. “Dit is geen opoffering nie. Dit is ’n voorreg.”

Baie van die versorgers word, sonder gepaste opleiding, by die diep kant ingegooi. Sommige is gelukkig genoeg om wel iemand te ken wat kan raad gee; ander moet self hul weg vind.

Situasies met betrekking tot tuisversorging verskil ook. Sommige tuisversorgers het hulp wat dalk ’n uur of twee per dag inkom of selfs sekere dae per week. Van die pasiënte se mediese fondse betaal hiervoor en ook vir die hulpmiddels. Ander persone se medies dek geen of beperkte hulpmiddels en in baie gevalle behoort die pasiënt nie aan ’n mediese fonds nie.

Vir Liana Viljoen, wie se man reeds byna twintig jaar in ’n rolstoel is, is dit belangrik dat tuisversorgers hulself nie moet uitbrand nie.

“Vandat ek afgetree het en op die platteland bly, kry ons elke tweede dag iemand in vir ongeveer twee uur, wat hom met die badkamerroetine help,” sê sy.

Bella sluit hierby aan. “Uit respek vir hulle kon ek hulle glad nie bad en aantrek nie. Daarvoor word ’n privaat suster gebruik.”

Susanna Brouwer* is haar man se enigste versorger en hanteer alle aspekte daarvan. “Ek het dit van die begin af so verkies,” sê sy.

Hulpbronne soos terapeute is ook nie op die platteland so geredelik beskikbaar soos in stede nie. Selfs al kan die pasiënt nie mediese dienste bekostig nie, bied staatshospitale in stede wel rehabilitasieprogramme aan. Hierdie dienste is onder normale omstandighede beskikbaar.

Covid-19 het egter alles verander en tydens die afsonderingstyd word daar meer uitdagings aan tuisversorgers gestel, veral op emosionele en selfs op finansiële gebied.

In die meeste gevalle moes meer handreinigers, ontsmettingsmiddels en selfs vitamiene vir die pasiënt aangekoop word. Daar is dus ekstra uitgawes. Hospitale en baie tehuise word hiervan voorsien of ontvang donasies. Verswakte persone is geweldig vatbaar vir siektes, kieme en/of virusse en higiëne is nou meer as gewoonlik van uiterste belang. Die persoon wat versorg word se immuniteit moet opgebou word en dis altyd ’n goeie idee om vitamiene toe te dien.

Baie van die pasiënte se roetine word beïnvloed. Uitstappies in die natuur en sosialisering met ander is taboe en kan tot frustrasie lei. ’n Ma met ’n intellektueel gestremde kind noem dat dit moeilik is om vir haar kind te verduidelik waarom hul oggendstappie tans nie plaasvind nie. Net so verstaan persone met demensie nie altyd die rede(s) vir verandering nie. Dis belangrik dat die versorger die pasiënt se gemoedstoestand en emosies hanteer.

“Die emosionele reis is dikwels baie moeiliker as die fisieke versorging,” sê Susanna.

Bella beaam dit. “Dit is baie moeilik om hulle, die pasiënte, geestelik te versterk terwyl jyself broos is.”

Noodsaaklike doktersafsprake raak skielik stresvol omdat die pasiënt meer blootgestel word.

“Ek moes my man in hierdie tyd dokter toe neem vir bloedtoetse en het ons albei gepantser met handskoene en ook ekstra handreiniger saamgevat,” vertel sy. “My man is ’n diabeet en ek kan dus nie kanse vat nie.”

In baie gevalle is daar skielik meer mense gedurende die dag tuis. Tyd wat net aan die pasiënt afgestaan is, moet nou verdeel word. Ruimte moet ook gedeel word en meer persone se behoeftes moet in ag geneem word;

In ander gevalle woon die versorger alleen saam met die pasiënt wat dit tydens die afsondering moeilik kan maak om te gaan kruideniersware koop aangesien daar nie ’n aflos is om by die pasiënt te bly nie. Susanna is in so situasie.

“Ek het voorberei vir drie weke,” sê sy.” Toe die inperking verleng word, moes ek my kruideniersware aanvul. Dis vir my baie moeilik om te vra, maar ek moes. Ek kon toe met ’n vriendin reël om my inkopies vir my te doen.”

Van die versorgers het tydens die afsondering minder tyd beskikbaar, aangesien daar geen huiswerkers is wat die huistakies kan verrig nie en dit ook die versorger se verantwoordelikheid raak. Liana noem dat dit in haar geval van groot waarde is dat die hulpversorger elke tweede dag inkom.

Hoe kan die gemeenskap betrokke raak? In die tyd van afsondering is fisieke besoeke nie ’n opsie nie, maar die tegnologie kan steeds ingespan word om te verneem hoe dit met die versorger en pasiënt gaan. Die meeste versorgers het soms net ’n oor nodig. Familielede is emosioneel dikwels te na aan die versorger en pasiënt. Dit veroorsaak dat openheid ingeboet word om ander se gevoelens te spaar.

’n Praktiese voorstel is om te verneem of die versorger dalk iets benodig wanneer jy gaan inkopies doen. Daar hoef nie fisieke kontak te wees nie. Afstand kan steeds gehandhaaf word deur inkopies by die voordeur te laat. Stel die persoon net in kennis wanneer jy dit doen sodat aankope nie onnodig buite gelaat word nie.

*Skuilname is gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.