Uitbranding: Alles wat jy moet weet

(Foto: Anna Tarazevich/Unsplash)

Volgens ’n studie deur The American Institute of Stress word sowat 77% van alle mense fisiek deur onbeheerde stres geraak. Stres beïnvloed jou liggaam, en jou liggaam beïnvloed weer jou gees. Uitbranding is ook ’n werklikheid vir baie mense wat oorsee werk en ver van hulle ondersteuningstelsel is. Dit is belangrik dat jy nie alleen daardeur probeer werk nie en weer met ’n kritiese oog na al die hooi op jou vurk kyk!

Volgens die Woordeboek vir Maatskaplike Werk is uitbranding die gevolg van werkverwante stres en frustrasie wat deur wisselende grade van depressie en apatie gekenmerk word. Ons almal voel met tye moeg en uitgeput, maar dit is belangrik dat jy weet wanneer jy jou omgewing, gewoontes of werkslading moet begin aanpas.

 Wat veroorsaak uitbranding?

Uitbranding word veroorsaak deur langtermynstressors. ’n Stressor is ’n chemiese middel, omgewingstoestand of eksterne gebeurtenis wat as sneller dien vir die afskeiding van streshormone soos kortisol. Eksterne gebeurtenisse wat stres veroorsaak, is byvoorbeeld die verkeer, ’n gebrek aan fisieke aktiwiteit, die eise wat familie stel, oorbeligting en verlore sleutels. Stressors veroorsaak fisieke, chemiese en geestelike reaksies in jou liggaam en op lang termyn kan dit jou immuunstelsel afbreek.

 Simptome van uitbranding

Wanneer jy op ’n gereelde basis onder stres is, kan jy sukkel om daaglikse kwessies te hanteer en al hoe meer negatief op jou omgewing reageer. Simptome soos slaaploosheid, vergeetagtigheid en swak konsentrasievermoë is die eerste waarskuwingstekens. Volgens Goeiehuishouding.co.za onttrek mense wat aan uitbranding lei hulle aan vriende en familie en raak besluiteloos en apaties oor hulle verantwoordelikhede. Hulle loop ook gevaar om afhanklik te raak van energiedrankies, slaappille of ander middels.

In die finale stadium van uitbranding raak ’n mens depressief. Dit is belangrik om betyds hulp te kry om te verhoed dat selfvernietigende gedagtes die oorhand kry. Uitbranding kom veral voor onder omgeeberoepe soos maatskaplike werkers, dokters en verpleegsters, maar deesdae ervaar al hoe meer mense in ander professionele beroepe dit ook.

 Hoe werk jy uitbranding teen?

Om uitbranding te verhoed, moet jy jou immuunstelsel regruk, genoeg slaap en stresvlakke onder beheer kry. Hoe doen jy dit? Mediteer gereeld, deel jou probleme en uitdagings met vriende en familie, oefen meer en eet gesond. Meditasie beteken om vir minstens vyf minute per dag stil te raak en asemhalingsoefeninge te doen.

Volgens die 4-7-8-tegniek moet jy vir vier sekondes deur jou neus inasem, vir sewe sekondes jou asem inhou en vir agt sekondes deur jou mond uitblaas; herhaal dit vier keer. Meditasie beteken nie net om jou gedagtes leeg te maak van afleidings of gedagtes nie, maar ook om dit te vul met iets positiefs. Mediteer oor ’n Bybelvers of iets waarvoor jy dankbaar is.

Omdat stres jou liggaam en gees beïnvloed, moet jy dit beveg deur fisiek aktief te raak en jou gedagtes te fokus op iets waaroor jy wíl dink. As jy sukkel om dit self te doen, is dit wys om ’n kliniese sielkundige te gaan spreek.

Dit is altyd goed om na te dink oor jou situasie, waarmee en met wie jy jouself omring. Wees eerlik met jouself oor jou gedragspatrone en jou daaglikse besluite oor hoe om jou tyd te bestee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.