Van seer keel tot hartskade

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Dié tyd van die jaar is ʼn seer keel byna net so algemeen soos ʼn neus wat loop of ʼn lastige hoesie. Tog kan keelseer die katalisator of aanduiding wees van ʼn ernstige onderliggende gesondheidstoestand wat blywende skade aan die gewrigte, bloedvate en hart kan veroorsaak.

Rumatiekkoors, ʼn outo-immuunsiekte (wanneer die liggaam se immuunstelsel sy eie weefsels aanval) weens ʼn keel- of skarlakenkoorsinfeksie wat nie behoorlik behandel is of ten volle opgeklaar het nie, lei dikwels tot rumatiese hartsiekte waar blywende skade aan onder meer die hartkleppe aangerig word.

Omdat ʼn seer keel moontlik meer verklap oor wat in die liggaam aangaan en dikwels nie sommerso met oor-die-toonbank-suigtablette en ander medisyne reggedokter kan word nie, beklee rumatiekkoors en rumatiese hartsiekte in Augustus ʼn regmatige plek op die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgkalender.

Wat is rumatiekkoors?

Volgens dr. Dirk Lombard, ʼn mediese dokter van Kempton Park, veroorsaak rumatiekkoors dat die liggaam se immuunstelsel sy eie weefsels aanval en inflammasie (swelling) veroorsaak.

“Skarlakenkoors en streptokokkus is op hul beurt infeksies wat deur streptokokki-bakterieë veroorsaak word en met antibiotika behandel word. Rumatiekkoors is ʼn komplikasie van skarlakenkoors en streptokokkus, en kom dikwels by kinders tussen vyf en 15 jaar oud (en soms ook by volwassenes) voor wanneer een van hierdie infeksies nie (behoorlik) behandel word nie.”

Benewens ouderdom is daar verskeie ander risikofaktore vir rumatiekkoors, sê hy. Dit sluit in beperkte toegang tot behoorlike mediese behandeling; ʼn verswakte immuunstelsel (kinders wat gereeld met ʼn keelinfeksie te kampe het, kan meer geneig wees om rumatiekkoors te ontwikkel); ʼn familiegeskiedenis van rumatiekkoors; en plekke waar groot groepe mense saamkom en bakterieë makliker kan versprei.

Simptome

Rumatiekkoors (en bakteriële infeksies in die algemeen) kan mense op verskillende maniere beïnvloed, sê Lombard. “Soms ervaar mense baie ligte simptome en besef nie dat hulle ʼn streptokokkusinfeksie gehad het totdat rumatiekkoors ontwikkel nie. “Omdat rumatiekkoors ernstig kan wees, moet jy altyd jou dokter raadpleeg as jy of jou kind enige simptome toon.”

Algemene rumatiekkoors-simptome sluit in:

  • geswelde, pynlike en rooi gewrigte, veral die knieë, enkels en elmboë;
  • borspyn of abnormale hartklop;
  • knaende moegheid of ’n gevoel van uitputting;
  • hoë koors;
  • plat, rooi uitslag met ʼn gekartelde rand;
  • onverklaarbare of voortdurende hoofpyn, veral as jou kind nog nooit vantevore hiervan las gehad het nie;
  • onbeheerste rukbewegings in die hande, voete of ander liggaamsdele;
  • spierpyn;
  • klein knoppe onder die vel; en
  • geswelde, rooi mangels.

Behandeling

“Na gelang van die simptome kan ʼn keelmonster geneem word om vir streptokokki te toets. Die monster word in ʼn laboratorium gekweek en die uitslag duur ʼn paar dae. Bloedtoetse kan ook gedoen word om teenliggaampies (jou liggaam se verdediging teen die bakterieë) op te spoor wanneer die bakterieë nie meer in toetse waargeneem word nie. ʼn Harttoets, soos ʼn elektrokardiogram (EKG), kan voorts gedoen word om die hartfunksie na te gaan,” sê Lombard.

Volgens hom sluit behandeling antibiotika en anti-inflammatoriese medikasie in. “Antibiotika word voorgeskryf om die onderliggende bakteriële infeksie te behandel, terwyl anti-inflammatoriese medikasie inflammasie verminder. Hierdie medikasie kan ook simptome soos gewrigspyn verlig. Vir ernstige simptome word kortikosteroïede soms voorgeskryf.”

Rumatiese hartsiekte

“Rumatiese hartsiekte is ʼn baie ernstige potensiële komplikasie van rumatiekkoors. Die hartkleppe kan ontsteek word en mettertyd blywende skade oorhou. Dit kan lei tot ʼn vernouing of lekkasie van die hartkleppe, wat normale hartfunksionering in die wiele ry. Dit kan jare neem om te ontwikkel en eindelik tot hartversaking lei.

“Dit is daarom belangrik om nie iets skynbaar eenvoudig soos ʼn keelinfeksie ligtelik op te neem nie, aangesien rumatiekkoors bindweefsel kan aantas, veral in die hart, gewrigte, vel en brein,” meen Lombard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.