Veelvuldige sklerose: Syfer styg skerp

(Foto: iStock)

Internasionale Veelvuldige Sklerosemaand word jaarliks in Mei gevier en plaas die kollig op dié progressiewe, neurodegeneratiewe siekte van die sentrale senuweestelsel wat miljoene mense raak en waarvoor daar nog geen geneesmiddel gevind kon word nie.

Volgens die mees uitgebreide wêreldwye studie tot nog toe is daar nagenoeg 2,8 miljoen mense wêreldwyd met veelvuldige sklerose (MS). Dié syfer het tussen 2013 en 2020 met meer as 20% toegeneem. Dit beteken dat daar elke vyf minute iemand êrens in die wêreld met MS gediagnoseer word.

MS ontstaan wanneer die liggaam se immuunstelsel foutiewelik die sentrale senuweestelsel aanval en beskadig. Hierdie inflammasie kan dan verskillende dele van die liggaam, waaronder die brein, optiese senuwee en rugmurg, op verskillende tye beïnvloed en ’n wye verskeidenheid van simptome oplewer.

Soorte en simptome

Volgens dr. Dirk Lombard, mediese dokter van Kempton Park, kan daar tussen drie soorte MS onderskei word. “In die vroeë stadiums van MS is daar tydperke van terugslag en remissie, met stadige progressie van die siekte wat oor die daaropvolgende dekades waargeneem kan word. Hierdie verloop is van toepassing op sowat 85% van MS-diagnoses.

“Baie van hierdie pasiënte sal uiteindelik sekondêre progressiewe MS ontwikkel. In sekondêre progressiewe MS versamel en vererger die simptome sonder enige remissie. Daar kan tydperke wees waarin die simptome stabiel is, maar die algehele verloop is een van verergering.

“Die derde soort staan as primêre progressiewe MS bekend en verteenwoordig sowat 12% van MS-diagnoses. Die oorblywende 3% word as MS van ’n onbekende aard beskryf,” sê hy.

Volgens Lombard is die aanvanklike diagnose van MS moeilik omdat van die simptome nie eksklusief tot MS beperk is nie. “Dit beteken dat die teenwoordigheid van ’n spesifieke simptoom nie beteken dat MS beslis teenwoordig is nie. ’n Diagnose vereis ook dat ander toestande wat soortgelyke simptome het, uitgesluit word, waaronder lupus en Sjögren se siekte.

“Die diagnose word gemaak op grond van die ‘disseminasie in tyd en ruimte’-beginsel. Dit behels inligting uit die pasiënt se mediese geskiedenis, ’n neurologiese ondersoek, laboratoriumwerk en diagnostiese radiologiese ondersoeke.

“Die simptome kan sigbaar of onsigbaar vir ander wees, dis onvoorspelbaar en wissel van persoon tot persoon en van tyd tot tyd in dieselfde persoon. Dit sluit sensoriese simptome soos gevoelsveranderinge, tinteling en brandsensasies in. Motoriese simptome sluit swakheid, styfheid, lompheid en probleme met stap in. Visuele veranderinge soos verlies van visie, onstabiele visie en dubbelvisie kan ook voorkom. Sommige pasiënte ervaar ook fisieke moegheid en verstandelike afstomping wat met hulle gewone daaglikse take inmeng. Verandering in blaas- en dermgewoontes kom ook by sommige pasiënte voor,” sê hy.

Pasiëntprofiel en behandeling

Meer as tweederdes van MS-pasiënte is vroue tussen 20 en 40 jaar oud. Die risiko om MS te ontwikkel as ’n broer of suster MS het, is gering (1% tot 2%), maar in die geval van ’n homosigotiese tweeling is die risiko hoër, sê Lombard.

“Omgewingsfatore sluit in ’n lae vitamien D-inname as kind, Epstein-Barr-virus, sigaretrook en geografie (verder weg van die ewenaar is gelykstaande aan ’n groter risiko). Dit is verder belangrik om daarop te let dat baie ander siektetoestande MS kan naboots. Dit sluit ander outo-immuunsiektes, infeksies, sekere soorte migraine, kanker, beroerte en vaskulitis in.”

Ofskoon daar nog nie ’n geneesmiddel vir MS is nie, kan behandeling help om die herstel van terugslae te bespoedig, die verloop van die siekte te verlangsaam, die simptome te bestuur en breinfunksie te bewaar, meen Lombard.

“Die behandeling van MS is ingewikkeld en hoogs gespesialiseerd. Hoe vroeër ’n diagnose egter gemaak en ’n behandelingsprotokol ingestel kan word, hoe beter kan die persoon se lewensgehalte bestuur word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.