Vervang jou skoonheidprodukte dán

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Manu Carmargo)

Wanneer laas het jy ʼn paar van jou ooggrimeringstelletjies uit jou grimeersakkie gegooi of seker gemaak jou haarsproei en skeermeslemmetjies doen nog hulle werk?

As sommige van die items in jou grimeersakkie, op jou spieëlkas of in die stort reeds jare oud is, sal jy verras wees om te hoor dat dié produkte lankal reeds verval het en ʼn nadelige uitwerking op jou gesondheid kan hê.

Nie net sal skoonheidsprodukte wat verval het minder doeltreffend wees nie, maar dit kan tot irritasies en infeksies lei as dit deur bakterieë besmet is.

Die meeste skoonheidsprodukte het ʼn vervaldatum wat op die verpakking aangedui word, maar daar is ʼn paar maklike riglyne wat jy kan volg om te weet wanneer om jou grimering te vervang.

Volgens dr. Joshua Zeichner, ʼn New Yorkse dermatoloog, behoort produkte wat direk met jou vel in kontak kom, soos maskara en oogomlyner, meer gereeld vervang te word. Dit word aanbeveel dat maskara elke drie maande vervang word, lipstiffie elke jaar en oogomlyner elke drie tot ses maande, hoewel potlode ʼn langer leeftyd het as vloeibare oogomlyner.

“Een van die maklikste maniere om jou oogpotlood se rakleeftyd te verleng, is deur dit voor elke gebruik skerp te maak,” sê Jessica Wu, professionele dermatoloog van Los Angeles en assistent‑ kliniese professor in dermatologie aan die Universiteit van Suidelike Kalifornië.

Lipglans behoort elke jaar vervang te word, en selfs meer gereeld indien moontlik. “Lipglans word gereeld deur die vingers hanteer, veral wanneer dit in ʼn potjie is wat met ʼn vingerpunt aangewend moet word. Koorsblare is ʼn groot risiko wat met gekontamineerde lipglans gepaard gaan en sodra jy ʼn koorsblaar gekry het, moet jy daardie lipglanshouertjie weggooi,” sê Wu.

“Jy kan jou lipglans se rakleeftyd verleng deur dit spaarsamig te gebruik en dit nie met ander te deel nie.”

Onderlae en poeierprodukte soos blosser en oogskadu hou sowat twee jaar voordat dit vervang moet word.

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Ashley Piszek)

Ander skoonheidsprodukte, soos vloeimiddels en rome wat in pompbotteltjies is, kan langer as ʼn jaar hou, terwyl dié wat jy met jou vingers uitskep sowat ses tot nege maande hou, aangesien bakterieë meer geneig is om daarin te groei.

Dit is ook baie belangrik om die gereedskap wat jy gebruik om jou grimering en ander produkte aan te wend, soos kwaste, borsels en sponsies, gereeld skoon maak en dit behoort ook elke paar maande vervang te word.

Die meeste dermatoloë sal jou aanmoedig om jou grimeringsgereedskap ten minste een maal per week skoon te maak om te voorkom dat dit vuil raak en bakterieë daarop begin aanpak.

ʼn Mens bestee baie geld en tyd aan goeie gesigsreinigingprodukte, maar dit help nie as jy elke dag jou grimering met ʼn vuil kwas of spons aanwend nie. Om jou gereedskap gereeld skoon te maak, sal ook die aanwending van grimering verbeter omdat daar nie ou produk aan vassit nie.

Die algemene riglyne is dat jy gereedskap wat jy vir nat produkte soos onderlaag gebruik, een maal per week moet skoonmaak, en borsels wat jy vir droë produkte soos oogskadu gebruik, ten minste een maal elke twee maande skoonmaak.

Gebruik louwarm water en ʼn sagte soort seep van jou keuse. ʼn Bietjie opwasmiddel of babasjampoe werk ook goed. Die gesigsreinigingsproduk wat jy gebruik, kan ook jou grimeergereedskap skoon maak.

Weggooibare skeermesse behoort elke twee weke vervang te word. Ou, stomp en gekontamineerde lemmetjies kan rooi knoppies en ander velirritasies veroorsaak en jy is ook meer geneig om jouself met ʼn ou skeermes raak te skeer, sê Michele Green, New Yorkse dermatoloog.

“Skeermesse se rakleeftyd kan verleng word deur dit uit die stort te verwyder en dit te laat droog word na elke gebruik,” voeg Green by.

Bykomende bron: Today.com, Everydayhealth.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.