Vetsug en Covid: Wat is die risiko’s?

(Foto: pixabay)

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is meer as die helfte (53%) van Suid-Afrikaanse volwassenes oorgewig of vetsugtig. Hierdie statistieke is kommerwekkend aangesien ʼn hele paar internasionale navorsingsverslae ʼn verbintenis tussen vetsug en ernstige Covid-19-infeksies toon.

Navorsing toon dat mense met onderliggende mediese toestande ʼn groter risiko loop om komplikasies te ontwikkel as hulle die Covid-19-virus opdoen.

Dr. Gert du Toit, ʼn chirurg by die Netcare St. Augustine-hospitaal, sê ’n onlangse studie het bevind dat 73% van Covid-19 pasiënte óf oorgewig is óf vetsug het. Terwyl daar nog nie plaaslik hieroor navorsing gedoen is nie, is daar aanduidings dat hoë bloeddruk, diabetes en vetsug algemeen was onder Covid-19-sterftes in Suid-Afrika.

“Verder is 90% van die sterftes weens Covid-19 in Suid-Afrika aangeteken vir individue ouer as 40, die segment in die populasie waar vetsug, diabetes en hoë bloeddruk die meeste voorkom,” sê Du Toit.

Hy verduidelik dat ʼn hele rits kondisies hand aan hand gaan met vetsug, soos onder meer tipe-2 diabetes, metaboliese sindroom, hipertensie, hartsiektes en slaapapnee.

“Studies toon dat ouer pasiënte en diegene met mediese kondisies soos hipertensie, diabetes of kardiovaskulêre siekte ʼn hoër risiko het om infeksie op te doen as gevolg van Covid-19,” sê hy.

“Dit is belangrik om te weet dat pasiënte met hoë suikervlakke ook dikwels ernstige simptome toon, wat voorstel dat hulle hoër morbiditeit toon as mense met normale suikervlakke.

“Ons is nog nie heeltemal seker wat die waarheid is nie en daar is nog baie om te leer oor Covid-19. Dit mag wel wees dat oorgewig mense ʼn aangepaste inflammatoriese reaksie het wat lei tot ʼn oor-aggressiewe immuunstelsel. Dit veroorsaak dan dat die immuunstelsel oorreageer op infeksies,” verduidelik Du Toit.

Verder plaas oormatige vet op die bors en maag druk op die longe en maak dit moeilik vir oorgewig mense om behoorlik hul longe te vul tydens asemhaling selfs onder normale omstandighede. Dit verminder die asemhaling-kapasiteit en dra by tot respiratoriese spanning in Covid-19-pasiente.

Du Toit moedig almal, nie net oorgewig individue nie, aan om die nodige voorsorg te tref om infeksie te voorkom.

“Dit is belangrik om te verstaan dat daar geen indikasies is dat mense met vetsug die virus makliker opdoen nie. Daar is wel rede om te glo dat wanneer mense met vetsug die virus opdoen, hul risiko vir verdere komplikasies groter is.

“Vetsugtige Suid-Afrikaners moet dieselfde maatreëls volg: Handhaaf sosiale afstand, was hande gereeld, dra ʼn gesigmasker ensovoorts. Verder moet mense wat reeds met vetsug-verwante siektes gediagnoseer is, hul mediese besoeke en behandelings getrou volhou.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rentia ·

SO as drank dan so sleg is, rook maak jou dood – gaan julle volgende winkels sluit want dit maak mense vet? Of al die lekkergoed verban? Wat goed is vir een geld vir ‘n ander…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.