Vetsug ’n ál gewigtiger saak

Vetsug is wêreldwyd aan die toeneem. (Foto: iStock)

Obesiteit (vetsug) is ’n pandemie waarvan die wêreldwye voorkoms steeds aan die toeneem is. Die voorkoms hiervan het net oor die afgelope paar dekades verdriebubbel.

14 Februarie is nie net Valentynsdag met sy gebruiklike uitruil en verorber van onder meer sjokolade nie, maar plaaslik is Februarie ook die nasionale bewustheidsmaand vir ’n gesonde leefstyl – die ideale geleentheid om oor dié gewigtige saak te besin.

Volgens die mediese joernaal Lancet is 40% van Suid-Afrikaanse mans en 70% van ons land se vroue oorgewig. Dit is twee uit elke drie vroue en twee uit elke vyf mans! Die Wêreldgesondheidsorganisasie het op sy beurt bevind dat byna 1,9 miljard volwassenes oorgewig is en 650 miljoen aan vetsug ly.

Nog meer kommerwekkend is die voorkoms van vetsug by kinders. Terwyl 340 miljoen kinders tussen 5 en 19 jaar oud vetsugtig is, val meer as 39 miljoen kinders onder 5 jaar in dié kategorie. Navorsing toon voorts dat meer as 50% van Suid-Afrikaanse skoolkinders nie gesonde kos inpak skool toe nie, maar (ongesonde) happies by die snoepie koop.

Oorgewig of vetsug?

Oorgewig en vetsug word gedefinieer as die abnormale of oormatige vetophoping wat jou gesondheid kan benadeel. Die Liggaamsmassa-indeks (LMI) is ’n eenvoudige (en in sommige gesondheidskringe omstrede) manier wat algemeen gebruik word om oorgewig en vetsug by volwassenes te klassifiseer.

LMI word gedefinieer as ’n persoon se gewig in kilogram gedeel deur die kwadraat van sy lengte in meter (kg/m2). Die WGO defineer oorgewig en vetsug soos volg:

  • oorgewig is ’n LMI-telling groter as of gelyk aan 25; en
  • vetsug is ’n LMI-telling groter as of gelyk aan 30.

Hoewel LMI ’n bruikbare maatstaf van oorgewig en vetsug is aangesien dit vir albei geslagte en vir alle ouderdomme van volwassenes geld, moet dit egter as ’n rowwe aanduiding beskou word omdat vetpersentasie of -inhoud van individu tot individu verskil. Vir kinders moet ouderdom in ag geneem word wanneer oorgewig en vetsug gedefinieer word.

(Foto: iStock)

Oorsake en behandeling

Die oorsake van vetsug is ingewikkeld en die behandeling daarvan behels baie meer as net die “eet minder en beweeg meer”-benadering wat alomgewild is, meen dr. Dirk Lombard, mediese dokter van Kempton Park.

“Vetsug is ’n chroniese siekte met ’n komplekse wanbalans tussen energieopname en -verbruik, met die gevolglike versteuring van metaboliese homeostase. Hoewel navorsing klinkklaar is dat vetsug soos ’n veldbrand versprei, word dit steeds te min formeel gediagnoseer en met heeltemal te min ywer en erns behandel,” sê hy.

Volgens Lombard kan genetika ’n rol speel en moet die behandelingsbenadering fokus op die fisiologiese, sielkundige én gedragskomponente wat tot gewigstoename bydra. Daar moet sterk gefokus word op strategieë wat gesonde gewig help behou sodra dit bereik is.

“Aptyt en versadigheid is sleutelkomponente tot gewigsbeheer wat deur sensoriese, kognitiewe en emosionele faktore beïnvloed word. Die hoeveelheid en die samestelling van ’n maaltyd speel ’n belangrike rol. Die motivering om te eet, kan verband hou met normale fisiologiese hongerte of om vir plesier te eet.”

Volgens Lombard word dié motivering om te eet beheer deur ’n komplekse interaksie tussen hormone wat deur die spysverteringskanaal en die brein vrygestel word. “In obesiteit word hierdie normaalweg goed gekoördineerde sisteem versteur en word abnormale gewigstoename aangemoedig en gewigsverlies beperk.

“By sommige mense is die kognitiewe beheer wat eet betref, ingeperk wat kan lei tot gedrag wat met dwelmgebruik vergelyk kan word: eetgewoontes en gedrag raak impulsief én kompulsief.”

(Foto: iStock)

Gesondheidsgevare

Daar is duidelike bewyse dat vetsug met ’n wesenlik verhoogde risiko van tipe 2-diabetes, hart- en bloedvatsiektes, lewervervetting en talle ander gesondheidsprobleme verband hou.

“Baie mense slaag daarin om ’n gesonde gewig te bereik, maar ongelukkig is gewigsverlies vir nét so ’n groot persentasie mense van korte duur. Die rede hiervoor is grootliks metabolies en neurochemies, en word vererger deur elke siklus se gewigstoename en daaropvolgende gewigsverlies. Hierdie veranderings kan vir jare voortduur en maak dit moeilik om ’n laer en bestendige liggaamsgewig te behou,” sê hy.

Afgesien van die fisiologiese gesondheidsprobleme is die stigma weens obesiteit onvermydelik. Dit word in die skoolomgewing, in die familieopset, by die werk en in die media waargeneem.

Volgens Lombard kan dit lei tot emosionele versteurings soos depressie en angs, ’n lae selfbeeld en gevoelens van mislukking en minderwaardigheid. Dit kan selfs lei tot die vermyding van sekere plekke, sekere mense en sekere aktiwiteite.

“Om gewig suksesvol te beheer, is nie ’n korttermynprojek nie maar ’n lewenslange proses. Die aanvanklike gewigsverlies is belangrik, maar meer belangrik is die langtermyn- en voortgesette aandag aan leefstylaanpassings en waar nodig voortgesette mediese toesig en behandeling om gesonde gewigsverlies te behou.

“Selfs matige gewigsverlies kan enersyds tot die afname van vetsugverwante komplikasies lei en andersyds verhoogde lewensgehalte in die hand werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

VaalDonkie ·

My pa is dood want hulle het vir hom vertel hy moet net brood en ontbytpap eet oordat hy tipe-1 diabetes het. Hy kon glad nie botter, kaas, of diervet eet nie. Net brood, pap, en hoenderborsies sonder die vel. Die feit dat hy meer as die helfte van sy liggaamsgewig verloor het voor hy uiteindelik aan “longontsteking” beswyk het, het niemand ooit laat wonder of hulle dalk verkeerd was oor die dieet nie.

Dink so daaraan: jou liggaam kan glad nie glukose hanteer nie want dit produseer nie insulien nie. So waarom sou ‘n dieet hoog in koolhidrate (wat na glukose afgebreek word) engsins ‘n goeie idee wees? Maar wat weet ek nou? Ek is mos nie ‘n dokter nie!

Miskruier ·

Suiker is die grootste moordenaar. Stysel is ook suiker.

Miskruier ·

Die grootste gros van die ” covid” sterfte was oorgewig.

VaalDonkie ·

Nee dis oumense. Hoe ouer jy is, hoe groter is die gevaar. As jy onder 45 is, hoef jy nie eens te worry nie. Maar hoe nader aan 85 jy is, hoe groter is die risiko. Gaan kyk maar dit statistieke in terme van ouderdom.

Heleen ·

Blablabla vetties het ook n reg Om te lewe Nie net planks Nie. So get n grip in life. Baie keer is vetties gesonder as planks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.