Voorkom uitbranding met dié selfsorgwenke

(Foto: Pablo Heimplatz/Unsplash)

Baie van ons beskou selfsorg as selfsugtig en onnodig. Helene Vermaak, besigheidsdirekteur by die korporatiewe kultuurkenners The Human Edge, sê egter dat wanneer dit kom by die mense vir wie ons lief is, ons nooit aan selfsorg as ʼn selfsugtige daad dink nie. Waarom is dit dan so moeilik om dit vir onsself toe te laat?

“Selfsorg is nou meer as ooit nodig as ons uitbranding wil voorkom. Die eerste stap om jou behoeftes te prioritiseer is om die manier hoe jy daaroor praat, te verander,” sê Vermaak.

Die beste manier om dit te doen, is om jou behoeftes op dieselfde manier te benader as die behoeftes van iemand vir wie jy omgee. Deur dit te doen, maak jy die regte keuses vir jouself.

Aangesien baie van ons nog steeds tuis werk, self-isoleer of sosiale interaksie vermy, moet ons aktief maniere vind om uitbranding te hanteer. Vermaak sê dit is belangrik om te onthou dat uitbranding die gevolg is van die omstandighede waarin ons verkeer en dat niemand dit veroorsaak nie.

Die probleem is dat wanneer jy uitbranding ervaar, jy dikwels nie by alles kan uitkom wat jy nodig het nie, jy te veel het om te doen, en in die proses van die balle in die lug mis. Dit lei daartoe dat ons slegter oor onsself voel en ʼn bose kringloop skep.

Vermaak sê dat die wenke van Justin Hale, opleidingsontwikkelaar by VitalSmarts, oor die hantering van uitbranding help wanneer sy in hierdie maalkolk beland. Hier is Hale se ses wenke wat jou sal help om uitbranding te voorkom.

Bepaal wat jou uitbrand

Identifiseer goed soos take of situasies wat jou uitput en wend dan ʼn poging aan om dit uit jou gedagtes en sig te verwyder. In die oomblik kan jy dit hanteer deur alles wat jou energie tap, neer te skryf. Oor ʼn langer tydperk kan jy die gewoonte aanleer om alles wat gedoen moet word op papier te sit en nie in jou gedagtes te hou nie.

Definieer dit wat jou energie tap

Noudat die goed wat jou uitput neergeskryf is, moet jy vir jouself twee vrae oor elke punt vra: eerstens, wat is die uiteinde hiervan en hoe sal dit lyk as hierdie punt afgehandel is? En tweedens, wat is die volgende aksie wat ek moet neem? Skryf die antwoorde op hierdie vrae langs elke item neer.

Besluit hoe om die lys te hanteer

Dit is vir party mense moeilik om te aanvaar dat hulle nie by alles op die lys kan uitkom nie en dat dit soms nodig is om vir iets nee te sê. Sodra jy krities na jou lys gekyk het, kan jy onderskei tussen dit wat jy gaan hanteer; take wat jy gaan los, of dit nou ter wille van jouself is of vir die persoon aan wie jy toegewyd is om dit te doen, en watter punte jy gaan herondersoek. Die herondersoekproses is om te bepaal hoeveel jy bereid is om te doen of wanneer jy daarby gaan uitkom sodat jy jou eie verwagting, asook die mense rondom jou sʼn, beter kan bestuur.

Skrap nóg punte van die lys

Dit is waarskynlik so dat jy steeds te veel balle in die lug moet hou en daarom is dit nog om weer deur jou lys te werk en nog take te skrap. Dit mag dalk na ʼn drastiese stap klink, maar jy moet gefokus wees as jy dinge wil voltooi en nie jouself in die proses wil laat uitbrand nie.

Organiseer die lys

Nadat jy nog items op jou lys geskrap het, neem die oorblywende take en organiseer dit op jou kalender of deel dit in lyste volgens tema (huis, werk, oproepe, familie, ensovoorts).

Handel take af

Wanneer dit tyd is om die take aan te pak, gaan na jou kalender of lyste en kies hoe jy jou tyd wil bestee. Aangesien jy nou die lyste het, is dit goed om eers asem te skep: gaan stap ʼn ent, dut vir sowat 20 minute, speel saam met jou kinders of lees ʼn boek. Waarom sou dit nodig wees? Omdat jy nou op daardie taaklyste kan vertrou. Om produktief te wees, gaan nie net daaroor om meer doenig te wees nie, maar om op die regte manier met jou werk en jou persoonlike lewe besig te wees.

Maak selfversorging deel van jou daaglikse roetine

Vermaak stel voor dat jy ʼn paar selfversorgingsgewoontes deel van jou daaglikse roetine maak. “Om die nodige uitkoms te hê, moet jy onthou dat dit nie selfsugtige dade is nie, maar eerder broodnodige selfversorging, waar jy die regte keuses volgens jou behoeftes maak.”

Hier is Vermaak se wenke oor hoe om selfversorging by jou daaglikse roetine in te sluit:

Maak jouself ʼn prioriteit deur jou fisiese en emosionele energie, tesame met jou konsentrasievermoë aan te vul. Jy kan dit doen deur goeie slaap- en eetgewoontes, oefeninge, sosiale verhoudings en dit wat kalmte en welstand in jou lewe bevorder soos om te mediteer, dagboek te hou en die natuur te geniet.

Soek ʼn ondersteuningsnetwerk van mense wat jy vertrou, wees op die uitkyk vir ryk interpersoonlike interaksie met mense wat ondersteuning bied, kan help om probleme te identifiseer, en wat saam met jou vir oplossings sal soek.

Doen iets interessants in plaas daarvan om te konsentreer op die beperking of vermyding van werk in jou ontspanningstyd.

Neem ʼn vakansie, of bly by die huis, en ontkoppel ten volle. As jy kan, doen jou bes om tydens jou vakansie van die huis af weg te wees en van soveel as moontlik verantwoordelikhede af weg te kom. Vakansie is ʼn noodsaaklike tyd om fisies, geestelik en emosioneel gesond te bly. Jou doeltreffendheid by die werk hang af van die tyd wat jy afneem, en jou gesin verdien ononderbroke tyd saam met jou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.