Vrou skud 89 kg af danksy ‘die regte manier’

Janja Wills hard aan die werk. (Foto: Verskaf)

Van vier brode per dag, plus aandete, tot gesonde porsies en harde oefening. Dít is hoe 33-jarige Janja Wills, ʼn enkelma van Norkem Park, Johannesburg, daarin geslaag het om in drie jaar ʼn volle 89 kg af te skud.

“Ek het dit op die regte manier gedoen,” sê Wills. Sy vertel aan Maroela Media dat haar gewig handuit geruk het omdat sy opgehou het om vir haarself om te gee. “Party dae wou ek nie eens my hare kam nie.” Ná haar egskeiding en ʼn groot gesondheidskok, wat sy gedink het ʼn hartaanval was, het Wills besluit genoeg is genoeg.

“Ek het een middag oudergewoonte ʼn hele pak spek gaargemaak om saam met ʼn hele brood te eet en terwyl ek besig was, het ek ʼn pyn oor my hart gekry. Ek het gedink dit is ʼn hartaanval, maar die dokter het bevestig dat dit spanning en angsaanvalle was, wat ook deur my gewig veroorsaak is.”

Sy het kort daarna by ʼn gimnasium aangesluit en ook met Marek Zadlo, ʼn konsultant by Dis-Chem, gaan praat oor die aanvullings wat sy kan gebruik. Zadlo het 16 jaar ondervinding as persoonlike fiksheidsafrigter en is tot vandag nog vir Wills ʼn afrigter. “Die eerste dag wat ek in die bad kon pas, het ek kliphard van opgewondenheid gegil.”

Janja Wills en haar dogterjie, Zinike. (Foto: Verskaf)

Sy vertel verder dat Zinike, haar sewejarige dogtertjie, vreeslik trots is op haar mamma se gewigverlies. “Ek wil vir haar ʼn voorbeeld wees en dinge saam met haar doen. Ek wil nie hê haar maats moet haar spot oor haar ma oorgewig is nie. Sy doen soms ook die oefeninge saam met my.”

Wills se volgende mikpunt is die titel as Suid-Afrika se top-fiksheidsmodel, maar om dié doel te bereik sal sy nóg ʼn verdere 15 kg moet verloor. Sy sal ook plastiese sjirurgie moet ondergaan om al die los velle saam te vat.

“Ek kan reeds vir die operasie in aanmerking kom, maar hoe meer ek verloor, hoe minder is my risiko vir bloedklonte en hoe meer velle gaan daar wees om te verwyder.

“Ek gaan my arms, my borste, my maag en my rug gelyk laat doen. Ek weet dit gaan seer wees om alles op een slag te doen, maar dan doen ek dit een keer, het vier weke hersteltyd en dis oor en verby.”

Om geld vir die sjirurgie in te samel, verkoop Wills tans vetkoeke. Sy glo egter dat sy nie teen Januarie, wanneer die operasie moet geskied, genoeg geld ingesamel sal hê om voort te gaan nie. “Daarna is dit ook ʼn nuwe klerekas wat aangekoop moet word.”

Dit is egter die laaste 15 kg wat vir Wills die uitdagendste is. Terwyl die ander gewig vinnig afgeval het, is die gewig wat sy nou moet afskud moeiliker om te verloor. “Ek moet net nie moed opgee nie en maar deurdruk. Hoe meer jy insit, hoe meer gaan jy uitkry.”

Wills wil ook graag ʼn ateljee begin waar sy kinders wat reeds met gewigprobleme sukkel asook volwassenes kan help.

Janja Wills. (Foto: Verskaf)

“My boodskap aan ander mense wat nou ook in 200 kg-skoene staan, is om nie moed te verloor nie. Daar is mense wat dit regkry om die gewig af te skud, soos wat ek gedoen het. Die maklike manier [sjirurgie] is nie altyd die maklikste en beste manier nie. Wees aktief en moenie bang wees om jou lewe te verander nie.”

Wills meen mense wat besluit om maagomleidingsoperasies te ondergaan, leer nie hul liggame hoe om die gewig af te hou nie. Daar is boonop talle risiko’s verbonde aan hierdie soort operasies. “Ek stel ook voor dat mense met iemand gaan praat oor hul gewig, want jy moet vasstel wat die sielkundige oorsaak van jou probleem is.”

  • Lesers wat Janja Wills wil volg en haar verder ondersteun, kan gerus haar Instagram-blad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Maria ·

Ek so trots op jou weet nie maklik nie maar voel baie lekker en jong. Ek myself ook gese nooit weer nie . ASB hou aan oefen al kry jy boyfriend oefen res van jou lewe.

Petenzia ·

You go Girl

Gosh ek weet ho moeilik dit is… Ek self het 60kg verloor van Feb 2019 tot nou dis nie maklik nie maar dis die moeitewerd… Jy kan as jou kop reg is enige iets doen… Dis altyd moontlik… Jy rock… Keep it up en jy sal kom waar jy wil wees….

Stertke..

Janja Wills ·

Baie dankie mensies, ek hoop nou het dat mense my raak sien en my help met die fondse, baie baie dankie,

Iemand ·

Baie geluk en welgedaan met jou harde werk. Jy is ‘n inspirasie. Wees asb versigtig met die operasies, dit klink na groot werk. Is dit die enigste oplossing of kan die los velle met tyd self minder raak? Ek dink jy lyk great. Ook wil ek sê: Om gesond te wees is belangriker as om soos Barbie te lyk. Weereens welgedaan met jou dissipline en jou sukses

Iemand ·

My vriend het 88kg verloor en die operasie gedoen wat sy velle voor om sy middel en agter om sy rug verwyder is. Dit is Desember ‘n volle jaar terug en hy herstel nogsteeds! Hy kan glad nie oefen nie want dan swel dit verskriklik om sy lyf en hy is seer! So dai ry in die berig van 4weke wat om te herstel… Weet net waarvoor jy jouself inlaat… Meer as ‘n jaar en hy kan glad nie oefen nie, te veel stap laat hom swel.. Net ‘n vriendelike waarskuwing! Jy is ‘n goeie voorbeeld vir baie mense, hou so aan.

ChrisE ·

Dit is beslis een van die beste artikels/waarheid/nuus wat ek oor gewigsverlies gelees het. Dit is die enigste manier om gewig te verloor. Hou op om soos ‘n rusper te eet. Eet drie tot vyf klein maaltye per dag in die begin. Wanneer jy eet eet stadig. Jou maag is nie soos ‘n asdrom wat jy net kos en ander eetbare item kan ingooi nie. Kry jou stert van die bank af en doen oefening. Loop elke dag. Drink baie water. Daar is net ‘n paar maniere om gewig te verloor. Maak ‘n wilsbesluit dat jy gewig wil verloor, eet minder, kry baie oefening en byt vas. Dit is makliker gesê as gedaan. Bly weg van poeiers en pille. Wat my opvallend is mense smeer dit aan die publiek af. ‘n Poeier in die oggend en aand saam met ‘n eetplan. Wat ‘n klomp snert. Dan kos dit gewoonlik nog ‘n plaas se prys ook. Daar is net een manier en dit is die harde manier. Ek het 20kg in 10 maande so afgeskut. Ek eet net baie minder as wat ek voorheen geeët het doen gereeld oefening, drink glad nie meer bier nie. Drink geen gas koeldrank nie. Ek leef gemakliker in my eie vel.

Wow ·

Wow Janja, fantasties meisie, jy het uitstekend gedoen en vandag is jy vir my ‘n inspirasie, ek het heelwat minder ja, maar ek sukkel heelwat meer, die motivering!!!! Ek is more terug op die treadmill en goeie voorsorg & eetgewoontes.

Ems ·

Wat n prestasie! n Hoofstuk wat suksesvol in jou lewensverhaal afgesluit kan word. Ek het 44kg oor n periode van 3 jaar verloor. Die belangrikste wenke is egter
1. Jy doen dit vir jouself (hetsy gesondheid, selfvertroue, in beheer van jou eie liggaam en emosies wees)
2. Maak vrede dat dit nie vinnig gaan gebeur nie. Elke kg is n stappie nader aan jou doelwit
3. Ondersteuning is belangrik. Vertrou n vriend, dokter, fiksheidsafrigter of lewensmaat om jou verder te inspireer
4. Moet nooit, nooit moed opgee nie.
My borsrekonstruksie is afgehandel (2 ure in teater)
My maag en heupvelle volg binnekort (4 ure operasie)
Weer eens, wees realisties. Jou liggaam kan net n sekere hoeveelheid stres (narkose en pyn/skok hanteer). Doen jou navorsing oor spesialiste. Dit is die moeite werd.
Soms kan ek nie glo dat ek 6 klere nrs kleiner is nie. Ek tel my seëninge. Ek weet dat my lewensreis n kosbare les was. Moet nooit oordeel nie. Oorgewig het baie redes – soms moet jy eers “binne” genees voordat jy “buite” resultate kry.
Seënwense verder

Marinda ·

Baie goed gedoen. Beste manier is om heeltyd besig te bly. Ek het 10kilos in ñ maand verloor. Baie water gedrink, een suiker in koffie of tee, Vier stelle trape 3 maal per dag geklim, kleiner porsies begin eet, motor verder van die sentrum deure geparkeer, baie besig gebly die hele tyd.
En ja, stadiger eet help ook baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.