Vyf maklike wenke om vakansietyd ook oefentyd te maak

Die feesseisoen kan jou gesonde eet- en oefenprogram heeltemal omvergooi met besige skedules, wegneemetes en meer drankies as gewoonlik.

Daarom is dit nie ʼn verrassing dat jou fiksheid afgeskeep word oor hierdie tyd nie. Die voormalige Springbokrugbyspeler Stefan Terblanche gee hierdie praktiese wenke om aktief te bly terwyl jy ook nie die pret misloop nie.

Probeer iets nuut

Om die spiere te rus wat gewoonlik geoefen word, is uiters belangrik vir jou liggaam, maar dit beteken nie jy hoef heeltemal leeg te lê nie.

Stefan Terblanche (Foto: The Harvest Table)

Jy kan iets soos ʼn plaaslike Parkrun of aanlyn oefenklasse bywoon. Wees ook op die uitkyk vir plaaslike geleenthede waar jy iets uit jou gemaksone kan probeer, maar steeds pret kan hê.

Speel met die kinders

Gedurende die feesseisoen gaan jy tien teen een meer met kinders te doen kry – of dit nou jou eie of jou familie se kinders is. Gebruik hulle energie en opgewondenheid oor die vakansie om aktief te raak.

Vat hulle strand toe, of na ʼn park toe, of gaan stap ʼn ent saam. Behalwe dat dit ʼn maklike manier vir jou is om ekstra treë per dag te gee, is dit ook goed vir die kinders se gesondheid en kweek jy goeie gewoontes by hulle aan.

Spaar tyd met HIIT-oefeninge

Selfs as jou skedule baie vol is oor die feesseisoen, behoort jy ʼn vinnige 20-30 minute oefensessie te kan indruk. Probeer hoë-intensiteit-interval-oefeninge (HIIT) – hierdie kort oefensessies behels min tyd, maar hoë intensiteit en laat jou toe om baie kilojoules te verbrand.

Daar is baie HIIT-sessies gratis aanlyn beskikbaar; probeer om een (of meer) van hulle by jou oggend- of aandroetine in te sluit.

Improviseer

Jy het nie ʼn gimnasium nodig om oefeninge te doen nie. Jy kan maklik ‘n oefenbaan in jou agterplaas of op die strand maak. Gebruik jou eie liggaamsgewig en doen oefeninge wat nie gereedskap nodig het nie: draf en spring tou, doen opstote, sterspronge, burpees, of opsitte.

Betrek die familie

Beplan ʼn 5 km-familiepretloop of -draf. Draf is een van die beste oefeninge wat jou hele liggaam oefen, en afhangend van jou familie se fiksheidsvlak kan jy die spoed of afstand afskaal of vermeerder.

Jy kan self ook ekstra oefeninge inkry deur moeë kinders op te tel en saam met hulle te draf of stap. Jy mag dalk net ʼn nuwe familietradisie begin!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.