Waatlemoen: Vier gesond fees

Waatlemoen is een van die vrugte wat die minste kalorieë bevat. (Foto: iStock)

Kleintyd in Klerksdorp was die waatlemoenfees ’n hoogtepunt op die skoolkalender. Dié stroopsoet vrug was in seisoen en dié taai, smerige storie was benewens vet pret soos ’n afsitterskoot wat sê: merke, gereed, swem. Somer is hier!

Vandag is dié feestelike tradisie bykans vergete, maar bly waatlemoen sinoniem met soel, sorgvrye somersdae. Al bestaan waatlemoen uit 92% water, is die gesondheidsvoordele allermins verwater.

Waatlemoen verrig wonders

  • Hidrasiestasie – Omdat ’n mens tydens die somermaande meer sweet, is waatlemoen net die regte medisyne om jou liggaam se voginhoud in balans te hou. Die hoë waterinhoud, gekombineer met voedsame vesel, laat jou veel langer versadig voel.
  • Smul sonder skuldgevoel – Waatlemoen is een van die vrugte wat die minste kalorieë bevat (selfs minder as vrugte soos bessies wat ook met ’n lae suikerinhoud spog). Een koppie bevat minder as 50 kalorieë en is propvol vitamiene A, B1, B5, B6 en C (sowat 21% van die aanbevole daaglikse dosis), kalium en magnesium.
  • Kankerkishou – Navorsers het bevind dat die likopeen in waatlemoen kankerwerend werk en voordelig is om kanker in die spysverteringstelsel teen te werk. Die cucurbitacin E in dié vrug het anti-inflammatoriese eienskappe en kan selfs ’n rol speel om gewasgroei te temper.
  • Hartlik – Hartsiektes is die oorsaak van die meeste sterftes wêreldwyd. Verskeie voedingstowwe in waatlemoen werk hartgesondheid in die hand. Studies dui daarop dat likopeen cholesterol en bloeddruk verlaag, terwyl dit oksidatiewe skade voorkom deur jou are soepel te hou.
  • Breinbeheer – Inflammasie is die oorsaak van verskeie chroniese siektetoestande. Die likopeen en vitamien C in waatlemoen help om dié risiko te verlaag en hou boonop jou brein gesond. Een studie het bevind dat waatlemoen die aanvang en vordering van alzheimersiekte vertraag.
  • Skerp sig – Likopeen help om jou oë teen oksidatiewe skade en ontsteking te beskerm. Dit kan voorts ouderdomsverwante makulêre degenerasie, ’n algemene oogprobleem wat blindheid by ouer volwassenes veroorsaak, voorkom.
  • Suur oor seer spiere? – Sitrullien, ’n aminosuur in waatlemoen, help om spierpyn te verminder. Waatlemoensap is daarom die ideale sopie ná ’n strawwe oefensessie en streel nie net seer spiere nie, maar help om jou hartkloptempo te herstel.
  • Beskermende bestanddele – Vitamiene A en C is broodnodige bestanddele vir gesonde hare en ’n vogtige vel. Vitamien C help die liggaam om kollageen te vervaardig, wat jou vel soepel en sterk hou, terwyl vitamien A selvervaardiging en -herstel aanhits. Likopeen en betakaroteen tree ook as natuurlike sonbrandbeskermers op.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AW

Mooi Foto.