Wat die hart van vol is

Ken die verskil tussen jou goeie en slegte cholesterol vir jou hartgesondheid. (Foto: iStock)

Suid-Afrika spog met baanbrekerswerk op die gebied van hartgesondheid – van die eerste hartoorplanting deur dr. Chris Barnard meer as vyf dekades gelede tot Suid-Afrikaanse en Italiaanse navorsers wat onlangs ’n geen geïdentifiseer het wat die diagnose en doelgerigte behandeling van hartspiersiektes moontlik maak.

So veel as 225 Suid-Afrikaners sterf elke dag aan hartverwante siektes en daar is tien beroertes elke uur in ons land. Hartbewustheidsmaand word jaarliks in September in Suid-Afrika gevier, met Wêreldhartdag wat op 29 September die belangrikheid van hartgesondheid beklemtoon.

Cholesterol word as stille moordenaar beskryf en speel ’n groot rol daarin dat hartverwante sterftes naas tuberkulose en diabetes tot die meeste natuurlike sterftes in Suid-Afrika lei, aldus ’n onlangse verslag deur Stats SA.

Wat cholesterol so gevaarlik maak, is dat die meeste mense met hoë cholesterolvlakke gesond voel en geen waarskuwingstekens toon nie. Daar word geraam dat tot soveel as 40% meer mense tussen die ouderdom van 35 en 64 jaar teen 2030 aan hart- en bloedvatsiektes kan sterf tensy drastiese lewenstylaanpassings gemaak word.

Ken die goed én die sleg

  • Hoëdigtheidslipoproteïen-cholesterol (HDL) is die goeie cholesterol wat vette na die lewer vervoer sodat dit uitgeskei kan word.
  • Laedigtheidslipoproteïen-cholesterol (LDL) is die slegte cholesterol wat vet aan die wande van are laat saampak. Trigliseriede speel weer ’n rol in die vorming van bloedklonte.

Hoog of laag: Wat is normaal?

  • Totaal: < 5,0 mmol/l
  • LDL: < 3,0 mmol/l
  • HDL (mans): > 1,0 mmol/l
  • HDL (vroue): >1,2 mmol/l
  • Vastende trigliseriede-vlak: < 1,7 mmol/l

Hoe gereeld moet ek toets?

Medici beveel aan dat jong volwassenes (bo 20 jaar) dié eenvoudige bloedtoets moet laat doen. As die cholesterolvlakke normaal is, moet jy binne ’n paar jaar weer ’n toets laat doen. As jy diabetes of ’n niersiekte het of oorgewig is, moet jou cholesterolvlakke gereeld deur jou dokter gemonitor word.

As jou slegte cholesterolvlakke hoog is of jy ’n hoë risiko vir hartsiektes het, moet jou cholesterol elke ses maande nagegaan word. Kinders hoef nie hul cholesterol te laat toets nie, tensy daar ’n familiegeskiedenis van hartsiektes is.

Kies kos wat gesond is vir jou hart. (Foto: iStock)

Keer dat cholesterol jou kniehalter

  • Oefen gereeld. Minstens 30 minute se fisieke aktiwiteit, vyf dae per week, word aanbeveel om jou hart gesond te hou.
  • Verloor gewig en eet reg. Verminder kos wat ryk is aan versadigde vette soos botter, volroomsuiwelprodukte, vetterige vleis en skulpvis, en vermy kos wat hoog is in transvette (sommige olie, gebakte en verwerkte produkte). Cholesterolvriendelike veselopsies sluit in vis soos salm, forel, tuna en sardientjies; neute, sade en peulgewasse; natuurlike plantolies soos olyf-, avokado- en kanola-olie; hawermout; chia, gemaalde vlassaad en bone; avo’s, lemoene, bloubessies en Brusselse spruite. Kies maer vleissnitte asook laevet- of vetvrye melk en jogurt.
  • Smyt weg die stompies. Rook verhoog die risiko van hartsiektes op verskeie maniere. Een daarvan is deur die manier waarop die liggaam cholesterol hanteer. Rokers se immuunselle is nie in staat om cholesterol van die aarwande in die bloed te plaas vir vervoer na die lewer nie. Dit kan bydra tot die vinniger verstopping van are.
  • Matigheid voor oë. Die etanol in alkoholiese drankies verhoog HDL en verminder die risiko van hartsiektes. Alkohol verbeter cholesterolvervoer, wat beteken dat cholesterol uit die bloed en bloedwande verwyder word en na die lewer teruggeneem word. Dit verminder die risiko van verstopte are en hartsiektes. Te veel alkohol lei egter tot lewersiektes. Hou by een of twee glasies per dag.

Soms is gesonde lewenstylveranderinge nie genoeg om jou cholesterolvlakke te verlaag nie. As jou dokter medikasie aanbeveel, neem dit soos voorgeskryf terwyl jy jou lewenstyl verander. Veranderinge in lewenstyl kan jou help om die dosis van jou medikasie laag te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.