Wat skuil agter dié niesbui?

Is dié nare niesbui die viervoetiges, verkoue of virus se skuld? Maroela Media het ‘n dokter gevra om raad te gee. (Foto: iStock)

Dis ’n gehoes en geproes en geblaas. Jy’s nie seker wat is die hoogste nie: die berg snesies in die snippermandjie of jou frustrasievlak. Is dié nare niesbui die viervoetiges, verkoue of virus se skuld?

Volgens dr. Dirk Lombard, mediese dokter van Kempton Park, is dit soms moeilik om tussen ’n allergie, griep (influenza) en ’n algemene verkoue te onderskei, omdat al drie soortgelyke simptome het.

“Allergiese rinitis, griep en verkoue word gereeld met mekaar verwar. Tog is daar verskille in die oorsake, simptome en behandeling van elke toestand,” sê Lombard.

Allergiese rinitis

Volgens hom is allergiese rinitis, ’n toestand wat deur inflammasie van die nasale slymvliese, nasale hiperreaktiwiteit, nasale kongestie (toe neus), ’n lopende neus, niesbuie en ’n jeukende neus gekenmerk word, ’n verskynsel wat al hoe meer in Suid-Afrika voorkom.

“’n Onlangse allergie-steekproef wat onder kinders, veral dié jonger as drie jaar, in Kaapstad uitgevoer is, het bevind dat 1 uit elke 4 kinders kliniese tekens van allergiese rinitis getoon het. Ons sien dit ook al meer by volwassenes,” sê Lombard.

Allergiese rinitis is ’n chroniese toestand wat sterk ooreenkomste met asma en allergiese oogtoestande het. Die diagnose word gewoonlik op grond van die pasiënt se geskiedenis en ’n deeglike ondersoek van die lugweë gemaak.

Allergiese rinitis is ’n chroniese toestand wat sterk ooreenkomste met asma en allergiese oogtoestande het. (Foto: iStock)

“Om allergiese rinitis te voorkom, is dit belangrik om die spesifieke sneller van ’n allergiese reaksie te probeer identifiseer én te vermy. Spesifieke toetse soos velpriktoetse en bloedtoetse wat spesifieke allergene kan identifiseer, word aanbeveel.

“Algemene voorsorgmaatreëls vir iemand wat geneig is om met allergiese rinitis te sukkel, is om binnenshuise fungusspore en blootstelling aan troeteldiere, veral dié wat in die huis bly, te probeer minimaliseer. Om buitemuurse aktiwiteite tydens die hoogtepunt van die stuifmeelseisoen te beperk, sal ook help,” sê hy.

Volgens Lombard sluit behandeling vir allergiese rinitis onder meer tweedegenerasie-antihistamiene en intranasale kortikosteroïde in. “Raadpleeg jou dokter en wees versigtig om oor-die-toonbank-dekongestiemiddels vir langer as tien dae te gebruik.”

Griep en verkoue: Wat is die verskil?

“Influenza (griep) en die algemene verkoue is albei aansteeklike respiratoriese toestande, maar word deur verskillende virusse veroorsaak. Griep word slegs deur die influenzavirusse veroorsaak, terwyl verkoue deur verskeie ander virusse, onder meer die rhinovirusse, para-influenzavirusse en seisoenale koronavirusse veroorsaak kan word. Seisoenale koronavirusse moet egter nie met SARS-COV-2, wat Covid-19 veroorsaak, verwar word nie.”

Omdat griep en algemene verkoue soortgelyke simptome het, is dit volgens Lombard soms moeilik om nét op grond van simptome ’n onderskeid te tref.

“Oor die algemeen is griep erger as verkoue en begin die simptome van griep baie skielik oor ’n kort tydperk. Verkoue het gewoonlik meer matige simptome wat ’n lopende of toe neus kan insluit.

“Verkoue het voorts gewoonlik nie enige ernstige gevolge nie, waar griep op sekondêre toestande soos longontsteking, bakteriële infeksies en selfs hospitaalopname kan uitloop,” sê hy.

Dokters meen genoeg rus en genoeg vloeistof is reeds ’n groot stap op die genesingspad. (Foto: iStock)

Voorkomingsmaatreëls vir griep en verkoue is soortgelyk aan dié vir die voorkoming van Covid-19-infeksie. Dit sluit die gereelde was van hande en die vermyding van siek persone in.

“Sou ’n persoon met influenza (griep) gediagnoseer word, is antivirale middels ’n behandelingsopsie. Raadpleeg jou dokter as jy ’n hoër risiko het om komplikasies van griep te ontwikkel of griepsimptome toon. Hoërisikopersone sluit in jong kinders, volwassenes ouer as 65 jaar, swanger vroue en mense met sekere mediese toestande soos asma, diabetes en hartsiektes.”

Volgens Lombard word verkoue simptomaties behandel. “Antibiotika is net doeltreffend in die behandeling van bakteriële infeksies en word daarom nie aangedui vir die behandeling van allergiese rinitis, griep of verkoue nie. Dit sal slegs nodig wees om antibiotika te gebruik as ’n sekondêre bakteriële infeksie intree.”

Hy meen genoeg rus en genoeg vloeistof is reeds ’n groot stap op die genesingspad. “Oor-die-toonbank-medikasie soos dekongestiemiddels en antihistamiene asook pynstillers soos parasetamol kan help om simptome te verlig, maar dié middels sal egter nie verkoue of griep verhinder of die tydsduur verkort nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Is dit dalk moontlik dat die entstof mens immuunstelsel so erg kan opzoep dat jou liggaam nou alle vreemde geure en kleure as bedreigings identifiseer…gereed maak om aanvalle te loods met die oor-mobilisering van teenliggaampies. Dít vir mense wat nie voorheen erge allergiese reaksies of hooikoors geken het nie, wat nou nies en proes dat die trane loop, as die wind net dreig om te waai.

OW ·

Enige antigeen(vreemde stof) wat die liggaam binnedring sal teenliggaampies reaksie veroorsaak of jy nou ingeênt is teen covid 19 of nie.

Jedi Knight ·

Ek het n hele ruk gelede covid gehad. My deus wat ook toe.

Jan Seerot ·

Met medisinale behandeling neem dit so twee weke om oor ‘n verkoue te kom. Daarsonder, sal dit ongeveer 14 dae wees.

OW ·

Jy weerspreek jouself Jan Seerot.14 dae en twee weke is presies dieselfde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.