Wees ingelig oor detokse

Argieffoto (Foto: Desertrose7, Pixabay)

Talle dieetkundiges meen dit is glad nie nodig is om ʼn spesiale groen sappie te drink om toksiene uit jou liggaam te verwyder nie, want jou liggaam doen dit sommer al reeds self.

Beatri Coetzee, ʼn dieetkundige, sê as jy niere, longe en ʼn vel het wat gesond is, detoks jou liggaam sommer vanself.

“Jy hoef dit nie met een of ander dieet te doen nie. Omdat jy sweet, urineer en werkende niere en longe het, gebeur die detoksproses sonder dat jy enigiets hoef te doen.”

Daar is verskillende maniere wat mense gebruik om te detoks, onder meer om vir ʼn aantal dae slegs tuisgemaakte vrugtesap te drink. Dit beloof gewigsverlies en ʼn gesonder vel en hare.

Volgens Coetzee kan dié metode werk vir korttermyn-gewigsverlies, maar nie ʼn noemenswaardige uitwerking op lang termyn hê nie aangesien die meeste mense wat ʼn detoks-dieet volg weer dieselfde gewig, en dikwels meer, bykry nadat die detoks voltooi is.

Sy skryf die korttermyn-gewigsverlies toe aan die vermindering van kilojoule-inname, aangesien die betrokke mense slegs sap drink. Die grootste rede hoekom die skaal se syfers daal, is omdat daar ʼn vermindering van water in die liggaam is omdat dit uitgeskei word.

ʼn Gesonde dieet hoef nie ʼn naam te hê nie, en ʼn paar maklike veranderinge sal die beste uitwerking op jou gesondheid hê:

  • Eet baie groente en vrugte
  • Eet minder versadigde vette, suiker en sout
  • Beperk alkoholinname
  • Hou op rook
  • Oefen gereeld
  • Slaap genoeg
  • Drink meer water as enige ander vloeistof

Baie dieetkundiges moedig mense eerder aan om met intuïsie te eet, eerder as om ʼn dieet te volg. Lees meer daaroor hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.