Welstand vereis méér as om virusvry te wees

depressie-angs

Foto: Kristina Tripkovic/Unsplash.com

Welstand vereis baie meer as om nie met ’n virus besmet te word nie,” sê Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.

“Ons as gesinsorganisasie, sien elke dag die skadelike gevolge van die geforseerde isolasie op gesinne en kinders.”

Die vrees wat deur die media en gesagsfigure in die bevolking wakkergemaak is, tesame met onsekerheid, die verlies aan inkomste en geldelike probleme – om nie eens van honger te praat nie – lei tot verhoogde angstoestande wat deur menige organisasies wat met gesinne se emosionele welstand werk, aangemeld word.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het so pas ’n verslag aan die Verenigde Nasies (VN) uitgereik wat waarsku dat algemene geestesgesondheid ’n dreigende krisis is wat wêreldwyd deur grendelstaat-omstandighede veroorsaak word.

Devora Kestel, direkteur van die departement geestesgesondheid van die WGO,  het die VN ingelig en gesê dat ’n verhoging in geestesongesteldheid die wêreld in die gesig staar, veral ook onder kinders en versorgers. Sy het benadruk dat die probleem as prioriteit hanteer behoort te word, aangesien almal daardeur geraak word.

Van der Merwe wys daarop dat verhoogde angs wat gekoppel is aan gebrek aan sosiale interaksie, te min buitetyd en veral ekonomiese probleme, hul kantore daagliks in groterwordende getalle bereik.

“Alhoewel daar ’n groot vraag na kospakkies is, en as welsynsorganisasie ons in hierdie behoeftes probeer voorsien, is dit verreweg nie die enigste of belangrikste behoefte nie. Angs kan in depressie omskakel en selfs tot geweld lei omdat mense vasgevang voel. Hiermee saam kom eensaamheid voor wat na angs en desperaatheid kan lei – in sommige gevalle so erg dat mense hul eie lewe probeer beëindig. Die statistieke wat ons nou reeds in Suid-Afrika sien, dui dit aan.

“Ons stem heelhartig saam met die gevolgtrekkings van die WGO soos in die media gerapporteer is omdat ons ook die krisis duidelik om ons sien ontvou,” sê van der Merwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae