Wenke vir gesonde niere

‘n Pasiënt wat wag op ‘n nieroorplanting (Foto: Tell)

Suid-Afrika het van die hoogste voorkoms van nierversaking ter wêreld en daarmee saam min orgaan- en weefselskenkers en gevolglik oorplantings.

Die gebrek aan behoorlike opvoeding rondom die onderwerp maak dié slegte situasie selfs erger.

Transplant Education for Living Legacies (Tell), ʼn organisasie wat poog om meer opvoeding aan medici en die publiek te verskaf, hoop om ʼn gesprek te begin tussen families, vriende en kollegas om hulle te oorreed om orgaan- en weefselskenkers te word.

Nasionale nierbewustheidsweek word van 7 tot 11 September in Suid-Afrika gevier met opleiding oor niergesondheid, nierskenkings en nieroorplantings.

“Jy weet nie eintlik van jou niere en die werk wat hulle doen nie – totdat hulle ophou werk. Jy kan tot soveel as 90% van jou nierfunksie verloor voordat enige simptome sigbaar is,” sê Tell.

World Kidney Day, ‘n wêreldwye bewusmakingsveldtog, het agt goue reëls ontwikkel om na jou niere om te sien:

  1. Monitor en beheer jou bloeddruk

Dit is goed om te weet wat ʼn goeie bloeddruk is, want hoë bloeddruk kan jou niere beskadig en ʼn chroniese niersiekte veroorsaak wat kan lei na totale nierversaking.

ʼn Normale bloeddruk is 120/80, as jou bloeddruk bo hierdie syfers is, gaan sien jou gesondheidsorgverskaffer om te bespreek watter leefstylverandering die beste vir jou sal werk om jou bloeddruk te verlaag.

  1. Beheer bloedsuikervlakke

Baie mense met diabetes ontwikkel fase-4-niersiekte, en daarom is dit belangrik om jou bloedsuikervlakke gesond te hou om jou niere gesond te hou. Laat jou nierfunksie gereeld toets om betyds te weet as daar iets fout is.

  1. Beweeg

Gereelde beweging en oefening is goed vir nierfunksie. Van die voordele van gereelde oefeninge op jou niere is:

  • Dit help om ʼn gesonde gewig te handhaaf
  • Verminder bloeddruk
  • Verminder kans om ʼn chroniese niersiekte te ontwikkel
  1. Eet gesond en hou jou gewig stabiel

ʼn Gesonde dieet kan ʼn hele rits siektes weghou soos diabetes, hartsiekte en nierversaking. Deur jou gewig in toom te hou is daar minder spanning op jou organe.

In ʼn gewone dieet is dit ook belangrik om jou soutinname tot 5 tot 6 gram per dag te beperk. Geprosesseerde kos bevat ook baie sout, so probeer om jou maaltye van vars bestanddele te berei indien moontlik.

  1. Drink genoeg water

Water help om minerale oos natrium, kalium en fosfate uit jou liggaam te spoel wat voorkom dat jou organe beskadig word. Die ideale hoeveelheid water wat jy nodig het, hang af van hoe aktief jy is, die klimaat waarin jy woon, jou gesondheidstoestand, swangerskap en borsvoeding. Spreek jou dokter oor hoeveel vloeistof jy moet inneem.

  1. Moenie rook nie of hou op rook

Rook veroorsaak dat bloed nie behoorlik na jou niere vervoer kan word nie, wat veroorsaak dat dit nie optimaal kan funksioneer nie.

  1. Pasop vir anti-inflammatoriese medisyne

As jy oor die toonbank anti-inflammatoriese medisyne soos Ibuprofen op ʼn gereelde basis gebruik, kan dit jou gesondheid belemmer. Spreek ʼn dokter oor ʼn manier om pyn te bestuur, maar steeds jou niere gesond te hou.

  1. Monitor jou niere gereeld

Gaan gereeld vir niertoetse as jy ʼn hoërisiko geval is om seker te maak jy bly gesond. Hoërisiko gevalle is mense met:

  • diabetes
  • hipertensie
  • familiegeskiedenis van niersiektes
  • vetsug

Ongelukkig is daar nie ʼn manier om chroniese niersiekte te genees nie, maar dit kan voorkom word deur vroeë opsporing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae