Wenke vir ʼn lewe met diabetes op ʼn knap begroting

(Foto: Pixabay)

Wêrelddiabetesdag word Saterdag (14 November) gevier om bewustheid te bevorder oor dié siekte waaraan baie Suid-Afrikaners ly.

Volgens 2016-statistieke is diabetes die tweede grootste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika, en 87% van diabetesgevalle in Suid-Afrika word veroorsaak omdat mense oorgewig is. Verder weet ʼn geskatte 2 miljoen Suid-Afrikaners nie dat hulle diabetes het nie. Klik hier om jou risiko vir diabetes te toets.

Daar is twee soorte diabetes: tipe 1 en tipe 2. Albei tipes is chroniese siektes wat die manier waarop die pankreas bloedsuiker of glukose reguleer, beïnvloed. Albei tipes kan lei tot chroniese hoë bloedsuikervlakke wat die risiko van komplikasies verhoog.

Mense met tipe 1-diabetes kan nie insulien produseer nie en mense met tipe 2-diabetes is insulienweerstandig, wat beteken dat hul liggame nie goed reageer op insulien nie en later ook nie genoeg insulien produseer nie.

’n Pankreasoorplanting kan gedoen word om tipe 1-diabetes te behandel, maar baie min mense is geskik om ’n oorplanting te ontvang omdat daar baie newe-effekte is. In sommige gevalle word ’n pankreas- én nieroorplanting gedoen vir mense wie se niere beskadig is as gevolg van diabetes.

In Suid-Afrika kom tipe 2-diabetes al hoe meer voor as gevolg van sosio-ekonomiese, demografiese, omgewings- en genetiese faktore. Nog ’n oorsaak is onvoldoende fisieke oefening wat lei tot ’n verhoogde vlak van vetsug.

Carla Boshoff, ʼn dieetkundige wat in lae-inkomste gemeenskappe werk, gee hierdie sakpas wenke vir mense wat met diabetes leef:

  • Eet ʼn verskeidenheid van vars, voedsame kossorte en groente elke dag.
  • Geniet ʼn gesonde ontbyt en moet nooit maaltye misloop wanneer jy medikasie vir diabetes neem nie.
  • Kies kos en drankies met min of geen suiker en drink baie water.
  • Gebruik die bestanddele wat jy het en fokus eerder op porsiebeheer. ʼn Gesonde dieet hoef nie duur te wees nie en selfs die kleinste verandering soos porsiebeheer kan ʼn verskil maak.
  • Neem jou medikasie getrou soos voorgeskryf en laat toets jou bloedsuikervlakke gereeld by jou naaste kliniek.
  • Nooi jou vriende of familie om saam met jou oefeninge te doen om dit meer genotvol te maak. Probeer om ten minste twee of drie maal per week oefeninge te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miskruier ·

Dis nooit te laat om n verandering te maak nie. Sluit by n gym aan, al trap jy net fiets, eet kos wat God gemaak het,nie n fabriek nie. Dit kos prysgewys net soveel as medisyne vir diabetes.

Bees Boer ·

‘n Banting diëet het al baie mense van diabetes genees. Wat jy eet het die grootste effek.

Eend Bessinger ·

Ek is ‘n tipe 2 diabeet. Jy kan diabetes onder beheer hou met jou dieet en aanvullings, veral kalium.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.