Wenke wat jou nuwe oefenroetine sal vergemaklik

Om fikser en meer aktief te raak in die nuwe jaar maak dit omtrent altyd op die Nuwejaarsvoornemelysie. Vir sommige mense beteken dit om by ʼn gimnasium aan te sluit en vir ander beteken dit om hul tekkies meer aan te trek en die pad te vat.

Maak nie saak wat jou fiksheidsdoelwitte is nie, ʼn aktiewe leefstyl is altyd gesonder as ʼn onaktiewe een en daar is ʼn paar gewoontes wat die verandering kan vergemaklik.

Atlete is nie heeltyd besig om hul sport te beoefen nie omdat daar ander faktore soos voldoende slaap en ʼn gesonde dieet is wat ʼn groot rol speel in hoe hulle vaar. En al is jy dalk nie ʼn atleet nie, is hierdie faktore steeds vir jou belangrik wanneer jy vir die pret gaan draf.

  1. Eet iets voor die oefensessie

Eet sowat twee ure voordat jy beplan om oefeninge te doen. Maak seker jou maaltyd bevat kos met ʼn lae glukemiese indeks (GI) om aan jou energiebehoeftes te voldoen. Sorg ook vir ʼn goeie bron van proteïen, maar maak seker die maaltyd is laag in vette.

  1. Hidreer

As jy nie genoeg water voor oefeninge drink nie, kan dit die gehalte van jou oefensessie nadelig beïnvloed. Maak seker jy drink water voor die oefening sodat jou liggaam nie dehidreer nie en vul dit aan na die tyd deur stadig weer water in te neem.

  1. Rus

Om rusdae te neem in jou oefenroetine is byna net so belangrik soos die oefeninge self. As jy strawwer oefeninge doen, kan jy tot elke tweede dag rus. As jy matige oefeninge doen, kan jy een of twee dae per week uitsit waarin jy nie oefen nie en jou spiere laat rus.

Wanneer jy ʼn nuwe oefenroetine doen of ʼn fiksheidsdoelwit najaag, is dit ook belangrik om goeie kwaliteit slaap in te kry sodat jou spiere genoeg tyd kry om optimaal te groei en hulself te herstel. So skakel jou selfoon en televisie ʼn uur voor slapenstyd af om die gehalte van jou slaap te verbeter.

  1. Eet iets na die tyd

Na ʼn oefensessie kan jy dalk voel asof jy enigiets en alles wil eet wat jy sien, maar jou spiere het meer voeding nodig as ʼn pakkie aartappelskyfies of ʼn sjokolade.

Eet iets na jou oefensessie wat help om jou spiere te herstel soos ʼn goeie bron van proteïen en stysel om jou energievlakke weer te stabiliseer.

As jy gesweet het, het jy ook vloeistowwe verloor; maak dus seker jy drink water om jouself te rehidreer.

Jy kan ook ʼn produk soos Futurelife se hoë-proteïen Smartbar probeer, wat ʼn mengsel van wei-, soja- en kaseïenproteïene bevat, wat spierherstel aanhelp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.