Wêrelddiabetesdag: Die vyf feite wat jy moet weet

Foto: Pixabay, stevepb

Suid-Afrika moet tans ʼn diabetes-pandemie die hoof bied wat meer lewens as MIV, kanker of malaria eis, met mense wat elke dag met die siekte gediagnoseer word en lyers wat al hoe jonger is.

Volgens Zahid Badroodien, die Wes-Kaapse burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, is tipe 2-diabetes, wat deur ongesonde eetgewoontes, vetsug en ʼn tekort aan oefening aangewakker word, een van die grootste siektes waarmee die provinsie sukkel en wat die meeste lewens weens natuurlike oorsake daar eis. In Suid-Afrika as geheel is slegs tuberkulose (TB) bó diabetes as die grootste natuurlike doodsoorsaak.

“Sowat 10% van ons volwasse bevolking ly aan diabetes. Hierdie syfer sal tot 20% styg in 2040. In 20 jaar sal een uit elke vyf mense diabetes hê,” sê hy.

Op Wêrelddiabetesdag wat Donderdag gevier word en tydens November, Diabetes-bewusmakingsmaand, beywer talle organisasies hulle om die feite rakende diabetes te deel en so bewusmaking te skep.

1. Diabetes eis elke agt sekondes ʼn lewe
Volgens die 2017- mediese joernaal getiteld IDF Diabetes Atlas, wat deur die Internasionale Diabetesfederasie (IDF) uitgegee is, is diabetes een van die dodelikste siektes in die 21ste eeu.

2. Elke 30 sekondes word ʼn liggaamsdeel geamputeer weens die siekte
Diabetes wat ongediagnoseer gaan, of swak bestuur word deur die lyers daarvan, kan tot amputering van laerliggende ledemate lei. Diabetes vererger ook ʼn pasiënt se toestand wanneer die pasiënt reeds aan siektes soos TB, MIV/Vigs of malaria ly.

3. In 2017 het meer as 1,8 miljoen Suid-Afrikaners aan die siekte gely
Volgens die IDF Diabetes Atlas is daar wêreldwyd tans 450 miljoen lyers tussen 18 en 99 jaar. Om en by 75% van die lyers woon in lae- en middelinkomste-lande.

Die IDF skat tussen 2000 en 2030 kan die siekte met tot 261% meer voorkom in sub-Sahara-Afrika. Suid-Afrikaners met ʼn Indiese herkoms het die grootste risiko om die siekte op te doen.

4. Ongeveer 90% van die siekte kan voorkom word
Volgens prof. Paul Rheeder, verbonde aan die Universiteit van Pretoria se Departement Interne Medisyne, is vetsug die grootste oorsaak van tipe 2-diabetes in Suid-Afrika. “Vier uit elke tien mans en sewe uit elke tien vroue in Suid-Afrika ly aan vetsug of is oorgewig.”

5. Sowat 65% van diabeteslyers sterf weens hartsiekte of ʼn beroerte
Volgens Rheeder sukkel mense met dié metaboliese siekte ook dikwels met hoë bloeddruk of hoë cholesterolvlakke wat behandeling benodig. Wanneer ʼn pasiënt met diabetes gediagnoseer word, kan behandeling en leefstylveranderings maklik toegepas word.

Foto: Pixabay, Tesa Photography

Rheeder waarsku egter dat, namate die siekte toeneem, behandeling meer ingewikkeld word en pasiënte dan met ander komplikasies soos voetsere, amputasies, niersiekte en nierversaking, oogprobleme en ander ernstige siektes, soos hartaanvalle en beroertes, gediagnoseer word.

Om die uitdagings te pak wat die siekte aan baie Suid-Afrikaners stel, lei prof. Rheeder ʼn span spesialiste wat die Tshwane-insulienprojek (Tip) begin het.

Dié projek, wat geld vanaf die Lilly Internasionale Gesondheidsinisiatief vir navorsing ontvang, beoog om pasiënte in die streek wys te maak oor insulien en hoe hulle dit self kan toepas. Die projek beoog ook om gesondheidswerkers in klinieke met ʼn tekort aan dokters deur middel van moderne tegnologie in verbinding met ʼn primêresorg-dokter te plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

B ·

Die oplossing is voor die handliggend.

(Bg is die uit en uit die resultaat van ons aanbevole dieet patroon maar dis ‘n heilige koei, en die fout moet eerder met medikasie’ reg’ gedokter word? Waar is die SA Dieetkundige vereniging nou?)

Tom ·

Ons dieet is die oorsaak van die meeste van ons mediese probleme. Veral suiker (koolhidrate breek af na suiker) Te veel stysel in die dieet veroorsaak insulien intoleransie wat uiteindelik in Tipe 2 diabetes ontaard. Dit veroorsaak ook inflamasie in die derm kanaal wat weer “leaky gut” en allergie kan veroorsaak. Kyk gerus na Dr Eric Berg se videos en leer jouself oor voeding en spysvertering en spaar sodoende baie geld op medisyne en dokters. Iemand het gesê ” ‘n kwart van wat ons eet, hou ons aan die lewe. Die res van wat ons eet hou ons dokter aan die lewe.” Ons medici leer om siektes te behandel en nie om dit te voorkom nie. Farmasie sien ‘n geleentheid in elke siekte en simptoom. daar is baie inligting daar buite, wees ingelig.

MF ·

Kyk bietjie na die onlangs gepubliseerde lys van die top siekte-toestande verantwoordelik vir die hoogste uitgawes van mediese fondse:
1. Hoe bloeddruk
2. Diabetes
ens

Wert ·

Na 18 maande op 8/16 “intermittent fasting” is my bloed- en suikertellings van pre-diabetes na normaal! Moeite werd om te probeer. Sny ontbyt uit.

Klasaksie ·

Wat van ‘n klas aksie teen Min van Gesondheid, ADSA, Heart and Stroke Foundation ens?
(Gaan lees bietjie lg se missie stelling, sou lagwekkend gewees het as dit nie so treurig was)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.