Wêreldgehoordag: Spits jou ore hiervoor

(Foto: iStock)

Daar is ongelooflik baie dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Die sensoriese belewenis van die wêreld om ons is sekerlik een van die vernaamstes: die selfoonwekker wat ons soggens uit die slaapnewels skud, die skaterlag van die spelende kleinspan, die knetterklank van ’n kaggelvuur, die simfonie van reën wat op ’n sinkdak dans.

Om te kan hoor, is sowat vier miljoen Suid-Afrikaners egter nie beskore nie. Daarom behoort Wêreldgehoordag op 3 Maart ons opnuut te noop om ons ore te spits vir die belangrikheid van oor- en gehoorsorg én in dankbaarheid te besin oor die geskenk van gehoor.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) raam dat byna 2,5 miljard mense wêreldwyd, oftewel een uit elke vier mense, teen 2050 met ’n mate van gehoorverlies sal leef. Volgens die WGO se eerste Wêreldverslag oor Gehoor gaan minstens 700 miljoen van dié mense toegang tot oor- en gehoorsorg, asook ander rehabilitasiedienste benodig.

Toegang tot behoorlike oor- en gehoorsorg, veral in ontwikkelende lande, is steeds kommerwekkend beperk, lui dié verslag. In lae-inkomstelande het ongeveer 78% van die bevolking minder as een oor-neus-en-keelspesialis per miljoen inwoners; 93% het minder as een oudioloog per miljoen; slegs 17% het een of meer spraakterapeut per miljoen; en 50% het slegs een of meer onderwyser vir dowes per miljoen inwoners.

Volgens die Internasionale Tydskrif vir Pediatriese Otorinolaringologie word drie tot ses uit elke 1 000 babas in Suid-Afrika met gehoorgestremdheid gebore. Volgens Katijah Khoza-Shangase, medeprofessor aan die Universiteit van die Witwatersrand, het ongeïdentifiseerde of laat geïdentifiseerde gehoorgestremdheid beduidende implikasies vir die spraaktaal-, kognitiewe en skolastiese ontwikkeling van ’n kind.

Tot 60% van gehoorverlies by kinders kan egter voorkom word deur maatreëls soos immunisering vir die voorkoming van rubella en meningitis, verbeterde swangerskap- en neonatale sorg, asook sifting vir en die vroeë hantering van otitis media, oftewel inflammatoriese siektes van die middeloor. By volwassenes kan geraasbeheer, die veilige gebruik van oorfone en goeie oorhigiëne help om die risiko vir gehoorverlies te verminder.

Wanneer om jou dokter te raadpleeg

(Foto: iStock)

Hoewel ’n oorondersoek standaard is tydens ’n doktersbesoek, behoort jy jou gehoor minstens elke tien jaar te laat toets, selfs al ervaar jy nie gehoorverlies nie, totdat jy 50 word, en elke 3 jaar daarna. ’n Oudioloog is gewoonlik die eerste plek om aan te klop as jy deur gehoorverlies geraak word.

Gehoorverlies is dikwels ’n natuurlike gevolg van die verouderingsproses of van ’n leefstyl wat ’n mens gereeld aan geraas blootstel, maar dit kan ook ’n simptoom van ’n onderliggende mediese toestand wees.

Jou dokter of oudioloog sal jou na ’n oor-neus-en-keelspesialis verwys as hulle nie die oorsaak van jou gehoorverlies kan bepaal nie, of as die oorsaak buite hul behandelingsveld val. Die spesialis sal meer omvattende toetse doen, asook medikasie kan voorskryf of chirurgie uitvoer indien jou gehoorverlies deur aangebore oorafwykings of ander mediese toestande veroorsaak word.

 Sekere siektes maak oorinfeksies of gehoorverlies meer waarskynlik. Daarbenewens kan jou ore beïnvloed word deur die newe-effekte van medikasie. Raadpleeg jou geneesheer dadelik indien jy die volgende ervaar:

  • Skielike gehoorverlies of konstante geraas of gesuis (ook genoem tinnitus) in jou ore of kop.
  • Dreinering uit die oor is nie normaal nie en dui gewoonlik op infeksie of ’n moontlike kopbesering.
  • Sommige medikasie kan jou gehoor beïnvloed. Neem medikasie slegs soos aangedui, en raadpleeg jou dokter as jy sukkel om te hoor, balansprobleme ervaar of as jou ore “sing”.
  • As jou ore jeuk of pyn, raadpleeg jou dokter. Hy of sy sal jou ondersoek, jou raad gee oor die geskikte behandeling en aanbeveel of dit nodig is om ’n spesialis te sien. Soms begin oorpyn in die tande, kakebeen en nek.

Sorg só vir jou ore

(Foto: iStock)

Oorwas is die liggaam se natuurlike antibakteriese reinigingsmiddel en help om jou ore vogtig en stofvry te hou. As jy egter vind dat ’n oormaat oorwas jou gehoor belemmer, raadpleeg jou dokter of oorspesialis om dit te verwyder.

  • Moenie jou ore met enigiets kleiner as ’n waslap skoonmaak nie. Moenie oorstokkies of skerp voorwerpe gebruik om jou ore skoon te maak nie. Hierdie voorwerpe sal nie net die oorwas nog meer teen die oortrom saamdruk nie, maar kan die oorkanaal of trommelvlies beskadig en infeksie veroorsaak.
  • As jy gaatjies in jou ore het, is dit belangrik om die gaatjies én oorbelle gereeld met mediese alkohol skoon te maak.
  • Maak jou ore met ’n handdoek droog nadat jy geswem of gestort het en kantel jou kop om enige bykomende water te help verwyder.
  • Beperk jou blootstelling aan geraas en dra beskermende oorproppies as jy jouself vir lang tye in ’n raserige omgewing bevind.
  • Pasop vir harde musiek, veral as jy oorfone gebruik wat binne jou oor pas. Dokters beveel die 60%/60-minute-reël aan: Luister na musiek, ’n video of speletjie teen nie meer as 60% van die maksimum volume nie. Beperk ook die hoeveelheid tyd wat jy oorfone dra tot 60 minute. Meer as 1 miljard jong volwassenes loop die risiko van permanente, vermybare gehoorverlies weens onveilige luisterpraktyke.

Hoe hard is té hard?

(Foto: iStock)

Die volume van klank word in desibel (dB) gemeet en ons word heeldag hieraan blootgestel: van ritselende blare (20 tot 30 dB) tot mense wat fluister (30 dB), ’n klapgeluid (120 dB) en die sirene van ’n brandweerwa of polisievoertuig (120 tot 140 dB).

Volgens die New York Times is geraas die hoofoorsaak van voortydige gehoorverlies. Herhaalde blootstelling aan harde geraas (85 desibel of hoër) kan tot permanente gehoorverlies lei. Klankbronne wat hierdie drempel oorskry, sluit in grassnyers (90 dB), treine (90 tot 115 dB) en harde musiekkonserte (110 tot 120 dB). Kettingsae en motorfietsenjins se geluid is ongeveer 100 dB.

Het jy geweet?

  • Gehoorverlies wat met veroudering verbind word, is dikwels die gevolg van skade aan haarselle wat in die koglea-deel van jou oor geleë is. Die skade kom aanvanklik in die buitenste deel van die koglea voor wat hoëfrekwensieklanke beheer, soos dié wat deur konsonante soos f, sh, ch, p, s en t geproduseer word.
  • Anders as ons oë wat toe is as ons slaap, bly ons ore oop en luister ons selfs as ons slaap. Ons maak dus dag en nag op ons gehoor staat om ons teen gevaar te waarsku en om die wekker in die oggend te hoor.
  • Selfs matige gehoorverlies kan jou risiko vir kognitiewe agteruitgang verdubbel. Hoe ernstiger die gehoorverlies is, hoe groter is die risiko. Om met gehoorverlies te leef, kan jou risiko vir ’n beroerte met 30% verhoog en jou risiko vir ’n hartaanval met 36%, volgens navorsing deur die Johns Hopkins Bloomberg Skool vir Openbare Gesondheid.
  • Talle bekendes met gehoorverlies het daarin geslaag om dié hindernis te bowe te kom. Dit sluit in die akteurs Halle Berry, Millie Bobby Brown (Stranger Things), Rob Lowe en Whoopi Goldberg; die geselsprogramaanbieder Stephen Colbert; die sangers Brian Wilson (Beach Boys), Will.i.am én Barbra Streisand; die voormalige Amerikaanse president Bill Clinton; die uitvinder Thomas Edison; en die komponis Beethoven.
  • Hoewel die roepgeluid van ’n blouwalvis 188 dB kan bereik, wat harder is as die geluid wat ’n straler of selfs ’n handgranaat maak, maak die spermwalvis die hardste geluid – 230 dB.
  • Bottelneusdolfyne het die beste gehoor. Terwyl mense klanke van 20 tot 20 000 Hertz (Hz) kan hoor, kan dié dolfyne klanke van tot 160 000 Hz hoor. Honde kan geluide van tot 44 000 Hz hoor.
  • Die oor is nie die enigste deel van die mens en diere wat klank kan waarneem nie. Klankgolwe kan selfs deur verskillende liggaamsdele gevoel word. Soms voel jy die trillings wat donderweer of aardbewings maak terwyl of nog voordat jy dit hoor.
  • Die hardste mensgemaakte geluide is dié wat deur vuurwerk (tot 150 dB) en geweerskote (tot 155 dB) veroorsaak word. Die geluid wat ’n vuurpyl met lansering maak, is op 170 dB gemeet.

Bykomende bronne: webmd.com; healthline.com; mayoclinic.org; my.clevelandclinic.org

Bottelneusdolfyne het die beste gehoor. Terwyl mense klanke van 20 tot 20 000 Hertz (Hz) kan hoor, kan dié dolfyne klanke van tot 160 000 Hz hoor. (Foto: iStock)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.