Wêreldkankerdag: Beskerm só jou geestesgesondheid

(Foto: Allie Smith/ Unsplash)

Een van die belangrikste dinge om te onthou in ʼn kankerstryd is om nie net op die fisieke struikelblokke te fokus nie, maar ook te voorkom dat dit oorspoel na jou geestesgesondheid.

Vandag, 4 Februarie 2020, is Wêreldkankerdag en dié dag is daargestel om mense in te lig oor kanker en hulle aan te moedig om getoets te word.

Testikulêre kanker

Testikulêre kanker is ʼn kanker van die testes en word meer gereeld by wit mans as by swart mans gediagnoseer. In Suid-Afrika is hierdie soort die mees algemene kanker onder mans tussen 15 en 49 jaar oud.

Die mees algemene tekens van hierdie soort kanker is knoppe, swelling en pyn in die testes en skrotum.

“Die goeie nuus is dat testikulêre kanker maklik waarneembaar is deur die testes te ondersoek vir abnormale knoppe, maar die slegte nuus is dat te min mans dít deel van hul badkamerroetine maak,” sê Gerda Strauss, hoof van dienslewering by Kansa.

Prostaatkanker

Swart mans is meer geneig as wit mans om prostaatkanker op te doen, met een uit elke vier (25% van) swart mans wat die risiko loop. Sowat 10% van wit mans sal dié kanker kry.

“Die kanker kan weereens maklik opgespoor word deur ʼn eenvoudige bloedtoets,” sê Strauss. “Enige man oor die ouderdom van 40 moet gereeld ondersoek word.”

Albei kankers is geneesbaar as dit vroeg genoeg geïdentifiseer word, maar mans skram gereeld weg daarvan af, omdat hulle skaam is om die ondersoek te laat doen. “Dit lei egter tot talle onnodige sterftes,” sê Strauss.

Borskanker

Borskanker is een van die mees algemene kankers onder Suid-Afrikaanse vroue.

Volgens dr. Justus Apffelstaedt, ʼn chirurg wat fokus op bors-, skildklier- en paratiroïed-gesondheid, kan borskanker sekere stigmas rakende selfbeeld en seksualiteit dra.

“Deesdae is behandeling so gevorderd dat ʼn diagnose van borskanker nie noodwendig tot die dood lei nie. Die slegte ding is wel dat die behandeling die pasiënt se geestesgesondheid kan beïnvloed,” sê Apffelstaedt.

Veral die verandering in ʼn vrou se liggaam kan haar geestesgesondheid aantas. Pasiënte word aangemoedig om gereeld emosioneel ondersoek in te stel en professionele kundiges te gaan spreek indien dit ʼn kwessie is.

“Ons het ʼn verantwoordelikheid om jou nie net fisiek te behandel nie, maar ook jou emosionele gesondheid in ag te neem,” sê Apffelstaedt.

Afgesien van fisieke verandering is ʼn vrees vir die dood, lewensplanne wat verander, sosiale rolle wat verskuif, finansiële stres en verandering in leefstyl alles faktore wat geestesgesondheid kan belemmer.

Wenke om jou geestesgesondheid te beskerm tydens kankerbehandeling:

  • Stel realistiese doelstellings vir elke dag. Werk sag met jouself en moenie te hoog mik nie.
  • Menslike interaksie is belangrik, veral as jy ouer is. Probeer om rondom mense te wees vir minstens een uur per dag.
  • Dit is belangrik dat jy iemand het om te vertrou – hetsy ʼn dokter, ʼn vriend of familielid.
  • Hou jouself met positiewe aktiwiteite besig soos om te gaan fliek, sportgeleenthede by te woon, dalk iets kreatiefs te doen soos skilder of musiek maak.
  • Volg ʼn eetpatroon wat ryk is aan vrugte, groente, heelkoring en maer proteïen.
  • Oefening help om stres te voorkom, wat ook die kanse op depressie verminder.
  • Bly weg van alkohol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
SomeOne

as ek meer van prostaat kanker af geweet het (‘n klomp jare gelede) dan was ek meer voorbereid in die opsig, maar met die Genade van God is ek nog met julle