Wortels geen wolhaarstorie

(Foto: iStock)

Dit is beslis nie ’n wolhaarstorie dat wortels goed is vir jou oë is nie, sê kenners. Dié groente, wat aanvanklik nie oranje was nie, is nie net goed vir jou sig nie, maar ’n voedsame peuselhappie propvol broodnodige voedingstowwe.

Emily Chew, adjunk- kliniese direkteur by die National Eye Institute, het aan Scientific American gesê die liggaam gebruik die betakaroteen in wortels (wat aan dié groente sy kleur verleen) om vitamien A te vervaardig.

“Vitamien A help die oog om lig in ’n sein om te skakel wat na die brein oorgedra word. Dit stel ’n mens in staat om veral in swak lig beter te kan sien. Boonop kan die kornea (die deursigtige voorkant van die oog) letterlik wegkwyn as die liggaam nie genoeg vitamien A inkry nie. Elke jaar word tussen 250 000 en 500 000 kinders blind as gevolg van ’n vitamien A-tekort,” sê Chew.

Die vitamien A in wortels is eweneens belangrik vir groei, ontwikkeling en immuunfunksie.

Hoewel Mel Blanc, die akteur wat vir die stem van Bugs Bunny verantwoordelik was, glad nie van wortels gehou het nie, is daar hope redes om uit te snuffel waar Dawid die wortels gegrawe het:

  • ’n Dieet wat ryk is aan karotenoïede speel ’n bewese rol om die risiko vir kanker te verminder. Dit sluit in prostaat-, kolon- en maagkanker. Studies het ook bevind dat vroue met ’n hoë vlak van karotenoïede ’n skraler kans het om borskanker te kry.
  • Dit hou gewig en cholesterol in toom. Hoë bloedcholesterolvlakke word met hartsiektes verbind en navorsing het bevind dat wortels jou cholesterolvlak verlaag. Omdat 100 g wortels slegs 41 kalorieë bevat, is dit die ideale happie om jou hongerpyne te stil en jou gewig in toom te hou. Hoewel dit propvol oplosbare vesel en laag in stysel is, bevat dit wel ʼn bietjie suiker.
  • Mense met lae vitamien A-vlakke is meer geneig om nagblindheid te ervaar, ’n toestand wat verhinder kan word deur wortels of ander kos wat ryk aan vitamien A of karotenoïede is te eet. Karotenoïede kan ook jou risiko vir ouderdomsverwante makulêre degenerasie en ander oogsiektes verminder.
  • Veral donkerkleurige wortels (’n mens kry deesdae alles van wit tot geel, rooi en pers wortels) is ryk aan antioksidante soos luteïen, wat ook voordelig vir jou oë is, en jou risiko vir kanker en hartsiektes verlaag.
  • Ander nuttige voedingstowwe in wortels sluit in biotien, ’n B-vitamien wat ’n belangrike rol in vet- en proteïenmetabolisme speel; vitamien K, wat belangrik is vir bloedstolling en beengesondheid bevorder; kalium, wat bloeddrukbeheer in die hand werk; en vitamien B6, ’n groep nuttige vitamiene wat voedsel in energie

(Foto: iStock)

Het jy geweet?

  • Babawortels is nie ’n variëteit nie. Dit is bloot wortels wat vroeg geoes word of dit is groot wortels wat in kleiner stukkies gesny, gewas en blink gevryf word.
  • Die wêreld se langste wortel is gemeet op 5,839 meter en die swaarste een, wat 8,61 kg geweeg het, is in 1998 gekweek.
  • Wortelblare was eens ’n modebykomstigheid. Dit is veral in die 17de eeu in Engeland in die hare gedra.
  • As jy te veel wortels eet, kan jy karotenemie ontwikkel, wat ’n toestand is wat jou vel ’n gelerige kleur gee.
  • China is die wêreld se topwortelprodusent met 18,1 miljoen ton van dié groente wat jaarliks hier geoes word. Dit is bykans die helfte van al die wortels wat jaarliks wêreldwyd verbou word.
  • Terwyl wortels vandag ’n algemene groente reg oor die wêreld is, word vermoed dat die eerste gekweekte wortels in 900 n.C. in Afghanistan geplant is.
  • Altesaam 88% van ’n wortel is water.

Bykomende bronne: scientificamerican.com; webmd.com; healthline.com; vegetablefacts.com; foodrepublic.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.