Herwin só by die werk

(Foto: Pixabay)

Jy hoef nie net by jou huis omgewingsvriendelik te wees nie, jy kan by jou werkplek reeds ʼn impak begin maak om ʼn ligter voetspoor op die aarde te laat.

Omdat die kantoor ʼn openbare ruimte is waar niemand noodwendig eienaarskap neem nie, is dit maklik om dié afdeling van jou lewe mis te kyk wanneer jy nadink oor jou impak op die aarde.

Eintlik is die werkplek ʼn groot plek van vermorsing as niemand die klem op die prioritisering van herwinning laat val nie. Bladsy na bladsy word onnodig gedruk, batterye word daagliks gebruik en ou rekenaars en telefone word iewers in ʼn stoor gebêre waar dit net lê en stof opgaar.

Volg hierdie maklike wenke om jou werkplek selfs net ʼn bietjie groener te maak:

  • Skep ʼn groen-span

Kry die ander omgewingbewuste mense in jou kantoor bymekaar en vorm ʼn groep wat op dié kwessie fokus. Dié groep moet leiding neem en mense gereeld herinner hoe om meer omgewingvriendelik te wees in die kantoor.

  • Gebruik so min as moontlik papier

Dink twee keer, en dink dan sommer nog ʼn keer voordat jy iets op papier uitdruk.

Dit is die meeste van die tyd nie nodig om agendas en notules vir vergaderings uit te druk nie. Stuur dit eerder per e-pos aan en moedig personeel aan om hul skootrekenaar of selfoon saam vergadering toe te bring as hulle die agenda voor hulle wil hê.

Stuur ook aankondigings per e-pos, eerder as om dit teen die kantoor se mure op te plak.

  • Hergebruik papier so ver as moontlik

Hou ʼn boks in die kantoor vir papier wat slegs aan een kant gedruk is en gebruik dit dan wanneer jy slegs die ander kant gaan gebruik.

Wanneer jy geen ander keuse het nie en lang dokumente moet uitdruk, druk dan op albei kante van die papier. Maar dit behoort vir enige werkplek moontlik te wees om heeltemal papierloos te word as hulle innoverend dink.

  • Koop herlaaibare batterye

Dit neem 1 000 gewone batterye om die lewensduur van ʼn herlaaibare battery te vervang en dit sal ook meer kostedoeltreffend wees vir jou sakeonderneming.

  • Gebruik geheuestokkies

Geheuestokkies is ʼn maklike en omgewingsvriendelike manier om dokumente by iemand anders uit te kry. Dit kan oor en oor gebruik word en word oor die algemeen meer hergebruik as CD’s of DVD’s.

  • Die kafeteria

Moedig mense aan om hul eie, herbruikbare bakkies kafeteria toe te neem wanneer hulle kos koop, eerder as om dit in die bestaande verpakking te koop. Dit sal die gebruik van enkelgebruikmateriale (materiale wat slegs een maal gebruik word voordat dit weggegooi word) drasties verminder.

Moedig ook die kafeteria se bestuur aan om van strooitjies en plastiekkoffiekoppies ontslae te raak, aangesien dit ook slegs een keer vir kort tye gebruik word.

  • Herverdeel

Al ooit gehoor van “een se gemors is ʼn ander se goud”? Voordat jy ontslae raak van goed wat jy nie meer kan gebruik nie, is dit die moeite werd om te dink of iemand anders dit nog kan benut.

Skep ʼn herverdeelstasie in jou kantoor waar mense ou selfoonlaaiers, skryfbehoeftes, boeke en lêers kan neersit en waar enigeen dit dan vir hulle kan vat as hulle dit wil gebruik.

Dit is ʼn makliker manier om jou rommel te verminder en om vir iets ʼn nuwe lewe te gee.

  • Herwin kantoortoerusting

Vind uit waar jy drukkers se inkkassette, batterye, gloeilampe en rekenaars kan herwin en merk duidelike houers waarin mense dit kan gooi. Stel iemand van jou kantoor se groen-span aan om dit op ʼn gereelde basis te neem vir herwinning.

Koop ook eerder inkkassette wat hervul kan word. Dit is op die lang duur omgewingsvriendeliker en meer kostedoeltreffend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.