Hoe word ouer persone beskerm?

Argieffoto: Pixabay

Deur Jaco van Niekerk

Daar word beweer dat die grootste enkele mylpaal vir ʼn persoon van nege maande oud is om sonder enige bystand te kan loop. Daar word verder beweer dat die grootste enkele mylpaal vir ʼn persoon van 90 jaar oud is om sonder enige bystand te kan loop. Merkwaardig dat ʼn hele lewensiklus bykans geen verskil teweegbring in die grootste enkele mylpaal van ’n persoon nie.

Al die genoemde persone bevind hulself in die groep mense waarna as “kwesbaar” verwys word. Die soortgelyke tekortkominge aan eienskappe, soos ingeperkte fisiese en intellektuele vermoëns, maar ook ander aspekte soos ʼn onvermoë om ekonomies selfbeskikkend te kan wees, is maar enkele aspekte wat daartoe aanleiding gee dat ʼn persoon as kwesbaar beskryf kan word.

Die Wet op Ouer Persone, wat op 2 November 2006 in werking getree het, se oogmerk is om die pleidooi van ouer persone effektief aan te spreek deur ʼn raamwerk te smee wat op die bemagtiging en beskerming van ouer persone gemik is. Die wet is ook daarop gemik om die status, regte, welstand, veiligheid en sekuriteit van ouer persone te bevorder en te onderhou.

Die manier waarop die wetgewer poog om hierdie doelwitte na te streef, is om die fokus vanaf instansie-georiënteerde sorg na gemeenskapsgebaseerde sorg te skuif, sodat ouer mense vir so lank as moontlik in hul eie tuistes of eie gemeenskappe kan bly. Die wetgewer is egter daarvan bewus dat instansies wat na ouer mense omsien wel moet bestaan, maar in hierdie wet word sodanige instansies gereguleer. Die misbruik van ouer mense word ook in hierdie wet aangespreek.

Wat is ʼn “ouer persoon” vir doeleindes van hierdie wet?

ʼn Man van 65 jaar of ouer en ʼn vrou van 60 jaar of ouer word as “ouer persone” beskryf. Dit is nie duidelik waarom daar ʼn verskil in ouderdom gemaak word nie, maar dit kan sekerlik nie wees weens ʼn bewering dat vroue vinniger oudword nie. Alle skerpsinniges is dit eens dat, hoewel vroue op ʼn jonger ouderdom volwasse is (en so bly) in vergeleke met mans, die verjaringsproses daarna by vroue heelwat meer sloer as by mans.

Watter regte het ouer persone?

As mense beskik ouer persone oor al die regte wat in die Grondwet aan mense toegedig word. Die Wet op Ouer Persone skep ook verdere regte vir ouer persone, naamlik om nie onredelikerwys die reg ontneem te word van die volgende nie:

  • deel te neem aan gemeenskapsaktiwiteite wat ooreenstem met die ouer persoon se belangstelling en vaardighede;
  • deel te neem aan intergenerasie programme;
  • te skep en deel te neem aan liggame en verenigings vir ouer persone;
  • deel te neem aan aktiwiteite om inkomste-genererende kapasiteit te bevorder;
  • te leef in ʼn omgewing wat tred hou met die ouer persoon se veranderende kapasiteite; en
  • toegang te hê tot geleenthede wat die ouer persoon se vlak van sosiale, fisiese, verstandelike en emosionele welstand bevorder.

Vir watter tipes sorg word voorsiening gemaak?

Eerstens is daar gemeenskapsgebaseerde sorg. Hierdie tipe sorg word verder opgedeel in:

  • versorging van ouer persone wat ten doel het om die ouer persone onafhanklik binne hul eie gemeenskappe te laat leef; en
  • huisgebaseerde sorg vir brose persone, wat die maksimum sorg binne gemeenskapsverband deur ʼn verskeidenheid van geïntegreerde dienste ten doel het.

Die ander tipe sorg waarvoor voorsiening gemaak word, is vir residensiële fasiliteite. Net soos met die gemeenskapsgebaseerde sorg is streng vereistes vir die standaarde en die aard van die versorging wat aan ouer persone gelewer moet word neergelê. Residensiële fasiliteite moet geregistreer wees.

Die vereistes en standaarde wat van toepassing is op beide tipes sorg word breedvoerig omskryf en is daarop gemik om ouer persone se welstand en versorging te bevorder. Beide tipes sorg val onder die wakende oog van die departement van sosiale ontwikkeling. Hierdie departement mag, in enige stadium, ʼn maatskaplike werker of ander persoon gelas om ʼn residensiële fasiliteit te besoek ten einde seker te maak dat alles daar in orde is. Sodanige persoon mag ook enige ouer persoon by die fasiliteit aangaande die ouer persoon se welstand ondervra.

Sorg vir ouer persone wat sorg en beskerming nodig het

Spesiale aandag word aan ʼn ouer persoon verleen wat sorg en beskerming nodig het. Sodanige ouer persoon is ʼn ouer persoon in een of meer van die volgende omstandighede, naamlik ʼn persoon:

  • wie se inkomste, bates of ouderdomstoelaag ontneem word teen haar/sy wil of wat onder enige ander vorm van ekonomiese misbruik gebuk gaan;
  • wat verwyder is vanaf haar/sy eiendom teenstrydig met haar/sy wil, of wat onregmatig uitgesit is vanuit die perseel waar die ouer persoon woonagtig was;
  • wat verwaarloos of verlate is en sonder enige sigbare middele van ondersteuning is;
  • wat op straat leef of werk, of vir ʼn bestaan bedel;
  • wat dwelms misbruik of verslaaf is aan dwelms en sonder ondersteuning of behandeling is vir sodanige dwelmmisbruik of -verslawing;
  • wat in omstandighede leef wat waarskynlik sal veroorsaak of wat tot verleiding, ontvoering of seksuele uitbuiting kan lei;
  • wat in omstandighede leef of aan omstandighede blootgestel word wat vir die ouer persoon leed kan berokken, hetsy fisies of verstandelik; of
  • wat in ʼn toestand van fisiese, verstandelike of sosiale verwaarlosing is.

Hoe word ʼn ouer persoon beskerm wat sorg en beskerming benodig?

ʼn Professionele persoon wat met sodanige ouer persoon werk en waarneem dat sodanige ouer persoon sorg en beskerming benodig, moet daardie waarneming aan die direkteur-generaal van die departement van sosiale ontwikkeling rapporteer. Enige ander persoon wat dieselfde mening huldig, mag sodanige mening aan ʼn maatskaplike werker rapporteer. Met ontvangs van hierdie inligting moet die direkteur-generaal of maatskaplike werker die aangeleentheid ondersoek en, indien dit as die waarheid bevind word, kan enige een of meer van die volgende stappe geneem word:

  • Die tref van reëlings om die ouer persoon na ʼn hospitaal te neem in geval van ʼn besering, of in ʼn plek van veiligheid op te neem.
  • Rapporteer die aangeleentheid aan die polisie en versoek die polisie om oorweging te gee om die vermeende oortreder te gelas om die woning waar die ouer persoon is, te verlaat (waar die polisiebeampte die vermeende oortreder gelas om die woning te verlaat, moet die polisiebeampte aan daardie persoon kennis gee om op ’n gegewe datum voor die landdros te verskyn. Die landdros sal dan daardie verwydering oorweeg en dit bekragtig of tersyde stel na oorweging van al die tersaaklike feite).
  • Die neem van enige verdere toepaslike stappe om te verseker dat voldoende voorsiening gemaak word om die basiese behoeftes en beskerming van die ouer persoon te bevredig.
  • Waar die ouer persoon die slagoffer van ʼn misdaad is, om die ouer persoon by te staan om ʼn polisiebeampte te sien ten einde die klagte te lê.

Watter beskerming kan aan ʼn ouer persoon wat mishandel is, gelewer word?

ʼn Maatskaplike werker of gesondheidswerker kan ʼn beëdigde verklaring aan ʼn aanklaer oorhandig en die vermeende misbruiker kan dan voor die landdroshof gebring word, waar die landdros navraag kan doen rakende die beweringe van mishandeling van die ouer persoon. Waar die beweringe as bewese aanvaar word, kan die landdros die misbruiker beveel om:

  • die ouer persoon te akkommodeer en te versorg onder omstandighede wat die landdros mag bepaal; of
  • nie die ouer persoon vir ʼn periode van tien jaar te mag akkommodeer of versorg nie.

Desnieteenstaande die bepalings van hierdie wet kan ouer persone ook gebruik maak van die Wet op Gesinsgeweld of die Wet op Voorkoming van Teistering ten einde beskerming in gepaste omstandighede te bekom.

Dit is verseker gepas dat kwesbare persone, soos ouer persone, deur behoorlike wetgewing en die toepassing daarvan beskerm word. Dit gaan egter nie net oor die beskerming van hierdie ouderdomsgroep nie, maar ook oor die bemagtiging van ouer persone om ʼn vol en produktiewe lewe te kan lei.

  • Nicolaas Albertus Jacobus (Jaco) van Niekerk is in Bloemfontein gebore en half geskoot, waar hy sê sy siel steeds is. Hy het as koshuiskind in Empangeni gematrikuleer, waar sy hart steeds is. Hy begin in Johannesburg werk en daarna in Scottburgh, Thulamahashe, Kempton Park en Centurion. Hy verwerf ʼn B.Juris-graad en doen heelwat ondervinding tydens sy omswerwinge op om met dit waaroor hy beskik, te bedien. Hy is landdros in Tembisa met die fokus op familiesake.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

Dit is net jammer dat die Kommunistiese Regering nie hierdie Wet op ouer persone streng toepas nie.
Hoeveel oumensies is verwaarloos word mishandel en ly soms honger en woon in haglike omstandighede en die wat konsuis aangestel is om na hul om te sien is die oorsaak van die omstandighede. Kyk maar na mediese hulp. Ken ‘n ouer dame van 74 wat 8 jaar gewag het om ‘n heup vervanging te kry. Sy kon nie meer loop nie. Twee keer was haar naam om die teater lys geplaas maar as sy daar kom is dit verwyder en ‘n ander landsburger is in haar plek ingesit. Die hospitaal waar die operasie toe einde ten laaste uitgevoer was, was vuil, die toilette sonder sitplekke slegs 1 bad beskikbaar wat die vuil ringe in gesit het. Dit laat mens wonder waarom hierdie “wette” ingestel word maar nie aan voldoen word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.