Idees vir Nuwejaarsvoorneme

Dit is die tyd van die jaar wanneer jy nadink oor die jaar wat verby is en begin planne maak vir die jaar wat kom.

As jy nog nie op jou Nuwejaarsvoorneme besluit het nie, is hier ʼn paar praktiese voornemens wat sal verseker dat 2020 jou beste jaar nog is. Kies een of twee uit die lys hieronder wat by jou leefstyl kan inpas, en begin die jaar op ʼn positiewe noot.

Doen jou eerste 5 km, 10 km, 21 km of 42 km

Afhangende van jou fiksheidsvlak kan jy hierdie doelwit aanpak. Of jy die afstand wil stap, draf of ʼn vinnige tyd opstel; hierdie doelwit is maklik meetbaar, wat sorg vir ʼn goeie Nuwejaarsvoorneme.

Begin mediteer

Meditasie word al meer by mediese studies ingesluit vanweë die positiewe uitwerking daarvan op mense se geestelike welstand. Daar is talle Apps en YouTube-video’s beskikbaar om jou deur ʼn 5 minute lange meditasiesessie vir beginners te neem – maak daarvan gebruik. Selfs net een keer per week maak ʼn verskil.

Leer om ’n goeie brood te bak

Daar is min dinge so lekker soos ʼn vars gebakte brood. Jy kan in die nuwe jaar leer hoe om die brood self te bak, in plaas daarvan om dit by jou plaaslike mark of winkel te koop. Doen navorsing op die internet of spoor iemand op wat jou kan leer hoe om dit behoorlik te doen. Barbett’s Bread in Johannesburg bied wonderlike klasse aan wat jou alles leer wat jy moet weet.

Strek elke oggend

Navorsing het al bevind dat jy jou lewensduur kan verleng deur elke oggend te strek. Staan vyf minute vroeër op om tyd te maak vir jou daaglikse streksessie, maak nie saak hou oud jy is nie. Voor jy jou oë uitvee, sal dit só deel van jou roetine wees dat jy nie meer daarsonder kan klaarkom nie.

Leer ken speserye

Speserye wat deur groot maatskappye gemaak word, het dikwels ekstra suiker en sout by, wat nie goed is vir die gesondheid nie. Leer die verskeie speserye ken, en gebruik hulle eerder as voorafgemaakte spesery-mengsels.

Familiedag

Bestee tyd aan jou familie deur ʼn dag in die week vas te maak waar alle aandag by hulle is. Indien dit nie moontlik is om die hele dag in familie se geselskap deur te bring nie, kan julle op ʼn Sondag as ʼn familie gaan stap, ʼn taak aanpak of bloot saam om ʼn tafel sit en eet.

Hou op plastieksakke koop

Dit is een van die eenvoudigste maniere om jou plastiekverbruik te verminder, maar tog volg bitter min mense dit. Dit sal jou ook geld bespaar wanneer jy nie meer plastieksakke by winkels hoef te koop nie. Sê sommer ook nee dankie vir ʼn plastieksakkie wanneer jy los vrugte of groente koop!

Een jaar sonder gemorskos

Ja, dit is moontlik om vir ʼn hele jaar lank glad nie kitskos te eet nie! Dit is so maklik om eerder kos by die huis te maak as om wegneemetes te kry. Probeer dié Nuwejaarsvoorneme wat jou gesondheid én beursie sal pas!

Vleislose Maandag

As jy nog nie gereed is om jou wegneemetes op te gee nie, maar jy wil graag ʼn goeie skuif in jou dieet maak, is vleislose Maandae ʼn briljante opsie. Suid-Afrikaners veral eet meer vleis as wat nodig is. Wy dus Maandae aan vegetariese opsies en betrek die hele familie daarby.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.