“In die lig van die Christelike huwelik is daar drie elemente wat die kern van die huwelikseremonie vorm,” sê Lyn Erlank, pastoor en huweliksbevestiger by I Do I Do Weddings, ‘n filiaal van Destiny Arise Joy Ministries. “Dit is die oorsprong van die huwelik soos wat dit in die Bybel uiteengesit is, die troubeloftes wat volgens die huweliksformulier afgelê word en die ringseremonie.”
Erlank meen dié drie tradisies is ononderhandelbaar en dat enige ander gebruike by troues in werklikheid minder belangrik is.
“Elke seremonie word volgens die bruidspaar se behoeftes aangepas,” verduidelik sy. “Maar daar is bepaalde beginsels, soos die Skriflesing, wat altyd geïnkorporeer word.”
Hoewel die meeste bruide steeds verkies om in ʼn wit rok te trou, is dit asof dié tradisie ʼn nuwe betekenis aangeneem het.
“Ek ervaar dat dit deesdae ʼn simbool is van die nuwe hoofstuk wat die paartjie begin. Maar dit is steeds ʼn algemene neiging vir bruide in tweede huwelike om nie in wit te trou nie.”
Erlank vertel ook dat bruide nie meer tradisioneel deur pa’s ingebring word nie.
“Dit gebeur dikwels dat iemand anders soos ʼn ma, ouma of iemand anders wat na aan die bruid is haar vergesel.”
Ander tradisies wat intussen vir moderne neigings plek gemaak het, sluit die volgende in:
- Die troumars word byna nooit meer gebruik nie. Bruidspare kies eerder kontemporêre of instrumentele musiek.
- Die strooimeisies en die bruid stap nie op dieselfde snit musiek in nie.
- Seremonies word nie meer tot die kerkgebou beperk nie en vind toenemend in die buitelug plaas.
- Die sluier word steeds deur sommige bruide gedra, maar dit bedek nie noodwendig die bruid se gesig nie.
- Omgewingsvriendelike confetti soos springmielies of roosblare word eerder gebruik in die plek van “streamers”.
Erlank noem ook dat die meerderheid paartjies ʼn ligte seremonie verkies wat binne ʼn uur afgehandel is. Dit is ook nie meer algemeen dat gaste gewyde liedere tydens die seremonie sing nie.
Hoewel talle tradisies intussen plek gemaak het vir byderwetse gebruike, is dit opmerklik dat een belangrike tradisie steeds bly staan.
“Die ringe is ook een van die kernelemente in die Christelike huwelik,” vertel Erlank. “Die ronde vorm simboliseer die ewigheid van die liefde én dit seël die huweliksbelofte wat afgelê is.”
Of jy en jou aanstaande tradisievas is en of julle ʼn meer moderne bruilof beplan, dit bly die bruidspaar se keuse oor watter tradisies behoue bly.
- Lyn Erlank is ‘n pastoor en huweliksbevestiger by I Do I Do Weddings, ‘n filiaal van Destiny Arise Joy Ministries. Erlank is een van die diensverskaffers wat later vanjaar in samewerking met Maroela Media ‘n troue ter waarde van R 170 000 gaan weggee. Die kompetisie sluit 13 April. Klik hier vir meer inligting.
Ek dink by Party kerke het jy nie n keuse as om omgewings vriendelik te wees nie. Ek meen by my troue 4 jaar terug is vir ons gevra om asb nie streamers of iets te gebruik wat skoon gemaak moet word nie. En om omgewings vriendelik te gaan is soveel makliker. Gee die diertjies kos. Ek het Voeltjie saad gebruik as konfetti. En dit was n wenner vir byde partye. ????
My seun is Oktober getroud en hulle die tradisie troue gehad die troumars is gespeel wat natuurlik altyd die mooiste is by n troue, en haar gevolge het ook ingekom op die troumars, wit rok, sluier oor haar gesig en ons het roosblare gebruik as confetti.
Ringe is nie kern tot die huwelik nie. Die gebruik van ringe om huwelik status te betoon is redelik nuut, net ‘n paar 100 jare terug het dit in gekrop en is meer net ‘n status simbool.
Ek hou nog steeds van die ou confetti. As ons Sondae kerk toe gegaan het as kinders was dit altyd lekker om die gekleurde confetti op die gras te sien lê. Ou traditionele wit feetjie trourokke nog die mooiste instede van vandag se reguit af partytjies rokke of die meermin tipe rokke. In ons dag het n bruid soos n bruid gelyk.