Katte moet ook speel

Eenvoudige items soos ʼn ysbakkie of ʼn stukkie tou wat aan ʼn toiletrol gebind is, sal eindelose vermaak aan jou kat verskaf. (Foto: Verskaf)

Terwyl die meeste katte daarmee tevrede is om heeldag lank op ʼn vensterbank te sit, lang slapies te vat en te kyk hoe die wêreld verby hulle gaan, beteken dit egter nie dat hulle nie ook daarvan hou om speletjies te speel nie.

“Baie kateienaars besef nie dat speel vir katte nie net oor die pret en plesier gaan nie. Vir katte is die wilde aksie van spel ʼn ernstige aangeleentheid wat katjies help om belangrike oorlewingsvaardighede te ontwikkel soos bekruip, jaag en om ʼn prooi te vang,” verduidelik Marycke Ackhurst, troeteldiergedragskenner by Hill’s Pet Nutrition.

“Selfs al durf jou kat nooit die wêreld buite die huis aan nie, bly die basiese instink om te jag sterk. Daarom is dit belangrik om katte die geleentheid te gee om dié natuurlike gedrag uit te druk deur spel.”

Babakatjies en volwasse katte word albei gestimuleer deur dieselfde soort speletjies, al het klein katjies nie juis aanmoediging nodig om te speel nie.

Ackhurst sit ook ʼn paar redes uiteen waarom dit belangrik is om gereeld met jou kat te speel:

Goeie oefening – Vetsug is die grootste gesondheidskwessie wat troeteldiere vandag in die gesig staar. Oorgewig diere is ongelukkig en lei korter lewens. Van die hoofredes vir vetsug in katte sluit in ooreet en gebrek aan aktiewe spel.

Gesonde katte bring baie tyd buite deur en kry baie oefening deur te jag, speel en ontdek. Wanneer ʼn kat te veel tyd binnehuis deurbring, kan hulle gewig optel aangesien hulle te min oefening kry.

Verminder stres – Katte wat stres, krap aanhoudend die meubels, is bekkig of betrokke by skermutselinge met ander katte buite die huis. Net soos mense, kan katte se gedrag weens stres as stoutigheid gesien word.

Om jou kat se stres te verminder, maak seker sy het ruim geleentheid vir fisieke stimulasie – veral speletjies wat dien as ʼn uitlaatklep vir hulle jaginstink. Enige speelding sal voldoende wees, selfs dié wat self gemaak is soos ʼn stuk tou wat om ʼn toiletrol gebind is.

Gesonde gewrigte – Katte ouer as nege kan aan artritis in hulle gewrigte ly. Speletjies kan hulle egter help om spiermassa te behou om hierdie pynlike toestand te vermy. Namate hulle verouder, sal die aktiwiteite aangepas moet word. Ouer katte sal vloerspeletjies of maklike, interaktiewe katspeelgoed geniet, soos ʼn ysbakkie met hulle kos in.

Opvoedkunde vir katjies – Spel leer katjies verskeie dinge, soos die belangrikheid van jag en roofdiervaardighede, en help om koördinasie te ontwikkel. As daar meer as een katjie is, kan hulle deur met mekaar te speel hulle sosiale vaardighede ontwikkel en grense aanleer.

Bou ʼn band – Jou band met jou kat versterk namate jy met hom speel. Jou kat se opgewondenheid soos wat sy jag vir ʼn speelding of in die lug spring vir ʼn stukkie tou, sal ook hormone in jou liggaam vry stel jou gelukkiger laat voel.

Ackhurst verduidelik dat twee speelsessies per dag goed is vir die kat en die eienaar. “Speeltyd net voor bedtyd kan ʼn kat wat in die nag rondloop vir kwaadgeld help om te bedaar. As jou kat nie die eerste keer wil speel nie, moenie ontmoedig raak nie. Hou aan probeer en jy sal begin leer wanneer jou kat hou van speel en wanneer nie. Net soos kinders hou katte ook nie almal van dieselfde soort speletjies nie.”

Besoek Hill’s se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.