Kosbare pêrel weer in die kollig

(Foto: verskaf)

ʼn String pêrels het nog altyd ʼn beeld van elegansie en prag uitgestraal. Dié kosbare juweel is weer op die voorgrond van wêreldmode, en daar is natuurlik ʼn hele paar redes hiervoor.

Die uitsonderlike pêrel vind sy oorsprong in ʼn lewende wese, anders as enige ander juweel.

Juweelontwerper en eienaar van die Black Betty-handelsmerk, Kristin Weixelbaumer, gee vier van dié redes bymekaar.

Só gaan haal gerus solank Ouma-groot se pêrels uit die kas en kikker jou voorkoms op met dié waardevol juweel.

ʼn Betekenisvolle juweel

Die pêrel is van die oudste juwele ter wêreld. Daar word geglo dat pêrels voorspoed en rykdom teweegbring, ʼn kalmerende impak op die draer daarvan het, beskerming bied, kosbare verhoudings versterk, ʼn beeld van veiligheid uitstraal en die draer se integriteit en vrymoedigheid uitstraal.

Die pêrel spreek dus boekdele in sy stille teenwoordigheid.

Gedra deur kragtige vroue

Pêrels is in die meer onlangse verlede gebruik om boodskappe van hoop en solidariteit te verbeeld. Koningin Elizabeth II het ʼn driedubbele string pêrels wat sy by haar pa, koning George VI, gekry het, om haar nek gedra toe sy Britse burgers toegespreek het tydens die Verenigde Koninkryk se eerste inperkingstyd in 2020.

Tydens die inhuldiging van Kamala Harris as die VSA se eerste vrouevisiepresident, het daar ʼn string pêrels om haar nek gepryk as simbool van vriendskappe en die sustersbond wat sy tydens haar jare op universiteit gesmee het.

(Foto: verskaf)

Gemaak om rampspoed in die gesig te staar

ʼn Pêrel word gevorm as deel van ʼn oester se poging om ongewensde besoekers af te weer.

Wanneer iets soos ʼn korreltjie sand die skulp van die oester binnedring, word ʼn versagtende middel deur die oester vrygestel wat snoesig om die korreltjie vorm. Lagie vir lagie word om die korreltjie gevorm, totdat ʼn pêrel vorm. Dié rampspoed lei dus tot die mooiste resultaat.

ʼn ‘Onvolmaakte’ pragstuk

Die bekendste pêrelliefhebbers sluit Cleopatra, Elizabeth I, Jackie Kennedy, Marilyn Monroe en Elizabeth Taylor in. Hoewel nie een van hierdie merkwaardige vroue volmaak was nie, is hulle bekend vir hul skoonheid, intelligensie en krag.

Dit was hul “onvolmaakte” eienskappe wat hulle juis toeganklik, geag en geliefd gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.