Mathilde & Amélie: Hier steek iets in

Wilmie Smith, ʼn plaaslike entrepreneur van Kaapstad, het vyf jaar gelede ʼn kreatiewe uitdaging aangepak deur waardevolle tapisserieë te hergebruik en dit in funksionele kunswerke te verander.

Haar maatskappy, Mathilde & Amélie, herstel die waardigheid van pragtige handwerkstukke deur oudmodiese items weer nuwe lewe te gee en dit in kreatiewe, bruikbare items, soos handsakke, lampe en stoele te verander.

“Ek het nog altyd die skoonheid van handewerk bewonder,” vertel Smith aan Maroela Media. “Daar is hoegenaamd nie ʼn enkele aktiwiteit wat my meer genot bring as om waardevolle handgemaakte items se gebruiksduur te verleng nie.”

Smith is in Pretoria gebore en het haar skoolloopbaan aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool voltooi. Daarna het sy haar graad in spraakterapie en oudiologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy vertel dat sy meestal werksaam by hospitale en skole vir serebraalgestremdes was, maar dat sy ook haar eie oudiologiepraktyk in Pretoria gehad het.

“Ek en my man is in 1971 getroud en ons het vier kinders saam.”

Smith vertel dat hulle die voorreg gehad het om eerstehands ander kulture, leefstyle en avonture te beleef deur vir wyle in die VSA, Engeland en Frankryk te woon.

“Met ons aftrede het ons die voorreg gehad om vir 12 jaar in Frankryk te gaan woon, en hoewel ek nog altyd ʼn groot waardering vir enige handwerk gehad het, was dit veral hier waar my passie en bewondering daarvoor begin het.”

Sy vertel dat sy veral beïndruk met die asemrowende handgeborduurde tapisserieë, kant en tekstiele was, wat op die Franse markte (“brocantes”) te sien was.

“Die toewyding en tyd wat aan elke item bestee is, het my opgeval.

“Ons was afgetree en kon aandag gee om ons woning te restoureer. ʼn Sterk behoefte het toe by my ontstaan om die waardigheid van soms verwaarloosde en vergete, maar tog sentimentele handwerk te herstel en hernu, in die hoop om daarmee hulle prag en praal te laat herleef.”

Daar is altyd uitdagings met die begin van enige sakeonderneming. Smith verduidelik dat bemarking op die platteland van Frankryk besonder uitdagend was en dat die taalverskille veral die rede hiervoor was.

(Foto: Verskaf)

“My teikenmark is dus Suid-Afrika, en sal altyd bly. Die meeste van my kliënte kom van hier en ek kan nou aan meer uitstallings en markte deelneem. Ek kry baie ondersteuning van handwerkentoesiaste wat oudmodiese kunswerke geniet en waardeer; jonk en oud, vroue en mans.”

Smith deel drie belangrike lesse wat tapisserieë haar deur die jare geleer het:

“Elke enkele steek maak saak,” vertel sy. “Dit speel ʼn uiters noodsaaklike rol om die geheelbeeld van die kunswerk te vorm. Dit dra by tot die duursaamheid en funksionaliteit van die produk. Een verwaarloosde steek kan die hele kunswerk skaad.”

Veelsydig – “Die agterkant van ʼn tapisserie kan soms mooier en lewendiger lyk as die voorkant. Van die mooiste en gewildste stukke wat ek al geskep het, is gemaak deur die ‘verkeerde kant’ van die tapisserie te gebruik.”

Vir Smith is die les wat hieruit geleer kan word die noodsaaklikheid om alle invalshoeke van ʼn situasie te ondersoek voordat ’n besluit geneem word.

“Jy moet dapper wees!” beveel Smith aan. “Toe ek net besluit het dat ek graag met tapisserieë wil werk en dit in funksionele stukke en dekoratiewe voorwerpe wil verander, het ek byna opgegee. Dit was vir my uiters uitdagend en emosioneel om my eerste handgemaakte stuk te voltooi, maar as ek dit nie oorkom het nie, sou hierdie kunswerke vir die wêreld verdwene wees.”

Elke Mathilde & Amélie-produk is oorspronklik en eie-in-sy-soort. “Die handsakke is baie gewild omdat daar verskillende groottes is en daar ʼn wye verskeidenheid is om van te kies, wat aan elkeen se smaak voldoen. My lampe van die ‘Dogtertjie in die wind’ doen ook goed, maar my persoonlike gunstelinge is die stoele en my nuwe reeks bokkoppe.”

Smith verduidelik trots dat haar twee kleindogters, Mathilda en Amelia, die inspirasie vir die naam van haar sakeonderneming is.

“Omdat ek as entrepreneur in Frankryk geregistreer het, het ek besluit om die name ietwat te verfrans en sodoende het Mathilde & Amélie ontstaan. Albei kleindogters is nou betrokke by hulle ouma se onderneming. “Hulle lewer kritiek en dra by met die beplanning van produkte,” sê Smith, “hulle is al van ʼn jong ouderdom geïnteresseerd en bedrewe met naald, gare en breiwerk.

(Foto: Verskaf)

“Dit is vir my uiters belangrik om alle handwerk met respek te hanteer en om verouderde items te herskep in pragtige, bruikbare en tydlose erfstukke. Die hergebruik en hernuwing van oudmodiese items speel ’n groot rol in die omgewing en samelewing, en daarmee word die wêreld bevoordeel.

“My gunstelingaanhaling, en die leuse waarvolgens ek leef, is dié van Tony Robbins wat sê: Hou op om bang te wees vir dit wat verkeerd kan gaan, en raak opgewonde oor alles wat reg kan gaan.”

Smith raai almal aan om met nuwe oë, waardering en respek na die tapisserieë en handgemaakte produkte wat jou ouma en ma gemaak het, te kyk: “Haal dit uit die kas en herstel die waardigheid daarvan deur die sentimentele items te restoureer in moderne en bruikbare kunswerke.

“Wees dapper, glo in jouself en begin met daardie eerste meesterstuk,” is Smith se laaste stukkie raad.

Mathilde & Amélie se produkte is op haar webwerf by www.mathilde-amelie.com asook by die Breytenbach galery op Wellington, verskeie skoue en ope dae.

Jy kan na Smith se kunswerke op Facebook  en Instagram gaan loer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.