Mej. SA gaan voort; groot verandering kom

Stephanie Weil saam met Mej. Heelal, Zozibini Tunzi (Foto: verskaf)

Die Mej. Suid-Afrika-kompetisie gaan vanjaar voort ondanks die Covid-19-pandemie, maar dit sal groot verandering ondergaan om die betekenis van ʼn skoonheidskompetisie te herskryf.

Dít volg nadat Suid-Afrika in 2019 groot sukses behaal het met die mees diverse deelnemers in die geskiedenis van die kompetisies. Zozibini Tunzi is as die wenner aangewys en het ook ʼn tikkie Suid-Afrikaanse glans na die Mej. Heelal-verhoog gebring toe sy met dié gesogte titel weggestap het.

“Mej. Suid-Afrika streef daarna om ʼn 365 dag lange bemagtiging-bootcamp te wees,” sê Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika Organisasie.

“Die skoonheidskompetisie is slegs die onderhoud. Die werk begin nadat sy gewen het. Vanjaar soek ons na ʼn wêreldambassadeur van Suid-Afrika.”

Weil verduidelik dat die wenner deur vier pilare gedryf sal word – bemagtiging, plig, kampioenskap en skoonheid. Sy sê dit is noodsaaklik om die Mej. Suid-Afrika-kompetisie te laat groei sodat die handelsmerk relevant bly in vandag se veranderende wêreld.

Die herposisionering van die 60 jaar oue Mej. Suid-Afrika-kompetisie sluit ook die onthulling van ʼn nuwe logo en slagspreuk, “Face Your Power. Embrace Your Future”, in.

Mej. Suid-Afrika se nuwe logo

“Ons deelnemers sal nie net as skoonheidskompetisie-deelnemers opgelei word nie, maar ook gevorm word in kampioene van vroueregte, leiers van denkwyses, ambassadeurs en slim sakevroue met die regte gereedskap vir ʼn suksesvolle toekoms,” sê Weil.

Die Mej. Suid-Afrika Organisasie sal ook die Mej. Suid-Afrika Stigting vanjaar bekendstel. Meer inligting daaroor sal later bekendgemaak word.

“Mej. Suid-Afrika sal nie meer ʼn eenmalige geleentheid wees nie, maar eerder ʼn onderneming wat heeljaar aan die gang is as platform vir die grootste stemme in vroueregte en wat sosiale verandering meebring.”

Weil het bevestig dat daar wel vanjaar ʼn Mej. Suid-Afrika-kompetisie sal wees ondanks die Covid-19-pandemie. Sy sê hulle het reeds verlede jaar aanlyn oudisies begin hou, en dat dit dus normaalweg voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Raadslid ·

Gaan lankal nie meer oor die mooistes en slimste nie. Skaf maar af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.