Mej. SA-inskrywings nou oop

Mej. Suid-Afrika se nuwe logo

Inskrywings vir vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie het vandag om 09:00 geopen.

Die Mej. Suid-Afrika-organisasie het vroeër laat weet dat groot veranderinge aan die kompetisie aangebring word en dat die inskrywingsproses aanlyn voortgaan nadat hulle verlede jaar reeds ʼn digitale proses hiervoor ingespan het.

Die Mej. Suid-Afrika-kompetisie is die eerste van sy soort ter wêreld wat te midde van die Covid-19-pandemie sy planne met vanjaar se formaat bekend maak.

Die nuwe Mej. Suid-Afrika sal die eerste naweek in Augustus gekroon word, soos wat die land sy Vrouemaand binnegaan. Die kompetisie sal regstreeks op M-Net en MzanziMagic uitgesaai word.

Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, sê die kompetisie, wat vanjaar in sy 62ste jaar is, gaan voort ten spyte van die nasionale staat van inperking.

“Ons sal semi-finaliste uit ons aanlyn inskrywings kies. Beoordeling vir die finale finaliste sal ook aanlyn gebeur. Soos altyd sal die finale vertoning [waar die wenner aangewys word] van die beste vermaak en ontwerpers in Suid-Afrika ten toon stel. Die enigste verskil sal wees dat daar nie ʼn gehoor tydens die uitsending gaan wees nie, maar eerder miljoene mense wat tuis daarna gaan kyk,” sê Weil.

Zozibini Tunzi (Foto: Verskaf)

Weil sê dit is ook ʼn goeie geleentheid om die Mej. Suid-Afrika-handelsmerk verder uit te brei en vir aanhangers om virtueel met die nuwe Mej. Suid-Afrika interaksie te hê.

Zozibini Tunzi (Foto: Verskaf)

Die nuwe Mej. Suid-Afrika sal groot skoene moet volstaan aangesien dié kompetisie die afgelope paar jaar goed naam op die wêreldverhoog gemaak het.

Mej. Suid-Afrika 2019, Zozibini Tunzi, is as vanjaar se Mej. Heelal aangewys en Tamaryn Green, Mej. Suid-Afrika 2018, was die vorige jaar die naaswenner by die Mej. Heelal-wedstryd. Demi-Leigh Nel-Peters het in 2017 die Mej. Suid-Afrika- en daarna die Mej. Heelal-titel gedra en voor dit was Rolene Strauss, Mej. Suid-Afrika 2014, ook as Mej. Wêreld aangewys.

Inskrywings kan slegs op www.misssa.co.za gedoen word. Inskrywings is tot 31 Mei oop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.