Mej. SA se top-3 sal almal vanjaar internasionaal deelneem

Zozibini Tunzi en Sasha-Lee Olivier (Foto: Instagram)

Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie sal die drie top- finaliste Suid-Afrika in internasionale skoonheidskompetisies verteenwoordig.

Die Mej. Suid-Afrika-organisasie het in die verlede die wenner en naaswenner van Mej. SA na onderskeidelik die Mej. Heelal- en die Mej. Wêreld-kompetisie gestuur, afhangend van waar elkeen die beste sou inpas. Vanjaar sal een van die top-drie ook na die Mej. Supranasionaal-kompetisie gestuur word.

Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, sê hulle is opgewonde dat ʼn derde finalis nou ook op die internasionale verhoog kan skyn.

“Sodra Mej. SA en die twee naaswenners in Augustus aangekondig word, sal ons besluit watter kandidaat die beste is vir watter kompetisie,” sê sy.

Gerhard Parzutka von Lipinski, president van die Mej. Supranasionaal-organisasie, sê hulle is opgewonde hieroor omdat Mej. SA ’n lang geskiedenis het van merkwaardige vroue.

“Ons is ongelooflik beïndruk met die transformasie wat die Mej. SA-handelsmerk in die laaste jaar ondergaan het en ons sien uit daarna om een van die top-drie Mej. SA-finaliste by ons 12de Mej. Supranasionaal-kompetisie te ontvang.”

Die eerste Mej. Supranasionaal-kompetisie is in 2009 in Pole aangebied met verteenwoordigers van 40 lande wat deelgeneem het. Vanjaar is daar reeds meer as 80 deelnemers van al die vastelande.

Suid-Afrika het al voorheen verteenwoordigers by dié kompetisie gehad, maar vanjaar sal dit die eerste keer wees dat die Mej. Suid-Afrika-organisasie dit bestuur.

Suid-Afrika is bekend daarvoor om goed te vaar in internasionale skoonheidskompetisies. Zozibini Tunzi, Mej. Suid-Afrika 2019, is as vanjaar se Mej. Heelal aangewys en Tamaryn Green, Mej. Suid-Afrika 2018, was die vorige jaar die naaswenner by die Mej. Heelal-kompetisie. Demi-Leigh Nel-Peters het in 2017 die Mej. Suid-Afrika- en daarna die Mej. Heelal-titel gedra en voor dit is Rolene Strauss, Mej. Suid-Afrika 2014, ook as Mej. Wêreld aangewys.

Maroela Media het vroeër berig die Mej. SA-kompetisie gaan vanjaar virtueel voortgaan en die kroning sal in die eerste naweek van Augustus, aan die begin van Vrouemaand, plaasvind. Die geleentheid sal regstreeks op M-Net en Mzanzi Magic uitgesaai word.

Inskrywings vir Mej. SA is reeds oop en sluit op 31 Mei om middernag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.