Mej. SA Wêreld wil help ná seksuele aanranding

Sasha-Lee Laurel Olivier (Foto: Verskaf)

Sasha-Lee Laurel Olivier het pas die tema vir haar Mej. Wêreld se “Beauty with a purpose”-veldtog bekend gemaak.

Olivier was die naaswenner van vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie en het verlede maand aangekondig dat sy Suid-Afrika verder op die Mej. Wêreld-verhoog gaan verteenwoordig, terwyl die huidige Mej. Suid-Afrika, Zozibini Tunzi, aan Mej. Heelal sal deelneem.

Olivier is as kind seksueel mishandel en daarom het sy besluit om meisies, seuns, mans en vroue wat soortgelyke ervarings gehad het te ondersteun en te inspireer as deel van Mej. Wêreld se “Beauty with a purpose”-veldtog.

“ʼn Baie diep gevoel van skaamte gaan saam met verkragting en langtermyn- seksuele mishandeling. Die slagoffers voel verantwoordelik vir hul eie mishandeling en is skaam daaroor dat dit gebeur, of dat dit met hulle gebeur het. Ons moet dringend die status quo daaroor te verander – die skaamte behoort glad nie by die slagoffer te lê nie,” sê Olivier.

“Ek wil die slagspreuk #ItsNotYourFault gebruik om vir mans en vroue te wys dat hulle geensins die skuld moet dra vir wat aan hulle gedoen is nie.”

As deel van die veldtog sal Olivier uitreik na mense wat ʼn seksuele aanval by ʼn polisiestasie aanmeld, omdat dít die mense is wat die kwesbaarste is.

Zozibini Tunzi en Sasha-Lee Laurel (Foto: Instagram)

Olivier het verwys na die statistiek dat 80% van polisiestasies vroeër vanjaar nie ʼn verkragtingstoetsstel byderhand gehad het nie.

“Dit beteken dat vroue en meisies (of mans en seuns) moet sit met die gevoel, reuk en semen van hul aanvaller steeds binne in hulle, omdat hulle nie enigiets mag was of ander klere mag aantrek voordat ʼn ondersoek gedoen is nie. Hulle kan vir ure getraumatiseerd wag,” sê sy.

Olivier sê ondersteuning op ʼn emosionele vlak is wat sy tydens die aanmeld van haar eie seksuele aanranding gemis het, daarom sal sy ook geriefspakkies vir verkragtingslagoffers versprei as deel van haar #ItsNotYourFault-veldtog.

Dié pakkies sal basiese higiëneprodukte, ʼn teddiebeer, suiker en ʼn kaartjie wat hul gerusstel dat die aanval nie hul skuld was nie, insluit. “Dit bied ʼn oomblik van menslikheid vir die slagoffer in wat moontlik die slegste oomblik in hul lewens is,” sê sy.

“Ek wil hê die slagoffers moet weet dat hulle nie alleen is nie, dat hulle gesien en gehoor word en dat hul waardigheid nie minder is omdat hulle seksueel aangerand is nie.

Sasha-Lee Laurel (Foto: Instagram)

“Een uit elke drie vroue in Suid-Afrika het een of ander vorm van ʼn onwelkome seksuele ervaring gehad voor die ouderdom van 15, en ek is een van hulle,” sê Olivier.

Wanneer sy dus die Mej. Wêreld-loopplank in Londen in Desember aandurf, sal sy haar vurige begeerte om ʼn verskil te maak vir vroue, kinders en mans wat vervreemd voel as gevolg van seksuele mishandeling, saam met haar neem.

Olivier volg in die voetspore van Rolene Strauss (2014), Anneline Kriel (1974) en Penny Coelen (1958) wat elkeen op hul beurt die Mej. Wêreld-kroon vir Suid-Afrika gedra het.

Om by te dra tot die pakkies, besoek BackaBuddy hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marlene ·

Ek voel verkragters, kindermolesteerders, en mense wat kinders wreed aanrand moet doodstraf kry. Hul gaan tronk toe en tax gelde betaal vir alles wat aan hul behoeftes voldoen. Wat van die slagoffers wat jare lank in hul eie tronke sit(geestelik) en nie na vore kom nie om soveel mense te beskerm en uit eie skuldgevoelens. En die verkragters ens kan studeer, rehabiliteer ens. Wat van die slagoffers. Hul lewens is verwoes. Tax word verkeerd aangewend. Waar is geregtigheid

Nee Nee Nee ·

lees ek reg? suiker? hoe help suiker? pleks begin sy ‘n gesamentlike veldtog wat vergragting òok stopsit

Dankbaar ·

Sasha-Lee ek is baie dankbaar dat jy hierdie onderwerp aangryp, dit is los hande die grootste probleem in die land en jy is reg slagoffers (veral omdat party mense dit misbruik) word werklik stief behandel en dit nadat hul hierdie onmenslikheid deur is. As jy ondersteuning kry, kan dit beslis ‘n reuse verskil maak – al help dit net dogters en vroue om op te staan en ‘n saak te maak, sodat hierdie monsters wat dit aan hul doen uitgesorteer kan word. Onthou ook elke poging om ‘n verskil te maak is ongelooflik belangrik en waardevol.

Deborah ·

Niks van hierdie gaan NIKS help totdat die reg sisteem en OMKOOPBARE regters uitgevang gaan word nie…

Die staat laat die pap val op die grond, die prokureurtjies koop die regters om, GELD is wat die verskil maak meeste van die tyd…. die regsisteem beskerm nie die slagoffers nie, en die probleem sal dus voortgaan al hou ons 10 000 slagspreuke en fondsinsamelinge of bewusmakings, dit help niks.

Vrouens wat sake maak word sleg behandel en verloor die saak want die regters speel saam met die verdediging, veral as die GESIENE ryk mense is wat aangegee is, hulle geld hou hulle uit die tronk en klaar. KAN NIE MET RESULTATE STREI nie, probeer maar.

Ek het egter baie respek vir die dame wat minstens oor die onderwerp praat.
Dit help ongelukkig niks. Verkragters glimlag op die voorblaaie van die koerante…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.