Affies-matrikulant se Nasa-droom word bewaarheid

PW van der Westhuizen saam met Henré Jacobs van Montana Hoër in die Kaap, wat ook vir die program gekies is (Foto: Verskaf)

Terwyl sy vriende met wiskunde-formules gestoei het en smiddae aan buitemuurse aktiwiteite deelgeneem het, was PW van der Westhuizen, ʼn matriekleerling aan Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, besig om ʼn bemande sending na Mars te beplan en te konseptualiseer.

Van der Westhuizen is een van 53 studente wêreldwyd wat vroeër vanjaar deur die Stigting vir Internasionale Ruimteonderrig gekies is om aan ʼn interdissiplinêre ruimteprogram by die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie (Nasa) deel te neem.

ʼn Nasa-droom word bewaarheid

“Ek was stomgeslaan toe ek hoor dat ek gekies is,” vertel Van der Westhuizen, wat van 22 Julie tot 2 Augustus by die Universiteit van Clear Lake in Houston, Texas, onder leiding van ingenieurs, wetenskaplikes en leiers in die ruimtelugvaartbedryf gewerk het. Hy beskou die besoek aan Nasa se Mission Control-sentrum by die Lyndon B Johnson-ruimtestasie as ʼn hoogtepunt.

Dié sentrum is verantwoordelik vir alle opleiding, navorsing en vlugbeheer vir menslike ruimtereise wat in die VSA gedoen word.

“Dit is ʼn reuseorganisasie met sóveel uiteenlopende mense wat daar werk, van skoonmakers tot skubaduikers wat die ruimtevaarders byvoorbeeld help met opleiding in gewigloosheid,” vertel hy.

Van der Westhuizen beskou die besoek aan Nasa as ʼn droom wat bewaarheid is.

“Vandat ek kan onthou het ruimtetuie en -vaarders my baie gefassineer.” Hoewel hy bitter opgewonde was, was hy ook senuweeagtig om as plattelandse seun die wêreldleier in ruimtevaart en tegnologie te gaan besoek.

PW sit met sy Affie-hoedjie tussen Bayzhan van Kazakhstan, Petr van Rusland, Ian van
Nederland en Benjamin van Frankryk. Agter hulle is die vaartuig van Apollo 18 (Foto: Verskaf)

Van der Westhuizen onthou dat hy in gr. 6 die eerste keer van Nasa te hore gekom het en intussen het hy in sy vrye tyd al hoe meer navorsing oor die agentskap gedoen.

Hoogtepunte van sy besoek aan Nasa

Van der Westhuizen meen dis moeilik om net één hoogtepunt van sy reis uit te sonder. Die program was propvol pret én insiggewende oomblikke. ʼn Mens sou kon dink dat ʼn besoek aan Nasa geen ruimte laat vir speel nie, maar dis juis die dag toe die studente teen hul mentors sokker gespeel het, wat vir hom uitstaan.

“Ons het almal wat deel van die program was beter leer ken en behoorlik geskater van die lag,” onthou Van der Westhuizen.

Nog ʼn hoogtepunt vir hom was ʼn besoek aan die Neutral Buoyancy Lab (NBL) waar dele van die internasionale ruimtestasie onder water in ʼn reuseswembad nageboots word. Hier oefen ruimtevaarders voor hulle op ekspedisies gaan.

Studente is tydens die program deur gasheergesinne gehuisves. Van der Westhuizen vertel met groot dankbaarheid van sy verblyf by Mark, ook ʼn ruimtevaarder, en Julie van de Hei, ʼn onderwyseres.

“Ek het baie by hulle geleer: hoe om dankbaar vir my ouers en vir ons land te wees – al is dinge nie perfek in ons tuisland nie,” vertel hy. “Ek het besef dat Amerikaners ook met geweld en woede wat ʼn effek op hul nasie het, sukkel.”

“Maar die een ding wat ek altyd sal onthou, is dat dit nie saak maak wat of wie jy is nie, jy het ʼn plek in die samelewing wat jy moet volstaan.”

Oor matriek en sy toekoms

PW saam met vriende (Foto: Verskaf)

“Om ʼn Affie-matriekdas oor my kop te trek en die jaar saam met my beste vriende te kon aanpak, was ʼn groot voorreg,” vertel Van der Westhuizen.

Hy is ʼn veelsydige leerling wat dalk meer aandag aan sport as kultuur bestee het, maar tog gebalanseerd was. Hy het onder meer aan gholf, waterpolo en redenaarskompetisies deelgeneem, maar in sy matriekjaar was hy net by hokkie, atletiek en die skool se strykorkes betrokke.

“Ek het in my hoërskoolloopbaan aan soveel as moontlik deelgeneem. Dít was die opdrag toe ek in gr. 8 as ʼn “koshuisbrak” by Affies ingestap het, maar ek is glad nie spyt daaroor nie.”

ʼn Laagtepunt wat sy matriekgroep moes deurmaak, was toe hulle ʼn klasmaat aan die dood afgestaan het. “Dit was ʼn moeilike tyd vir ons almal, maar ek weet hy kyk af na ons met ʼn breë glimlag.”

PW saam met sy gesin (Foto: Verskaf)

“Matriek was toe rowwer as wat ek gedink het,” erken Van der Westhuizen. “Maar ek sal dit vir niks verruil nie. Dit is in ’n oogwink verby, maar die herinneringe is onvervangbaar.”

Wanneer hy tuis is of nie besig is met skoolverwante aktiwiteite nie bring hy graag tyd saam met sy familie en vriende deur. Sy gesin gaan gereeld plaas toe waar daar gejag en visgevang word.

Van der Westhuizen beplan om volgende jaar meganiese ingenieurswese aan Tukkies te studeer en daarna ʼn meestersgraad in gevorderde tegnologie aan die Universiteit van Twente in Nederland te voltooi. Hy wil uiteindelik in robotiese prosteses spesialiseer wat mense sal help om sover moontlik normale lewens te lei ten spyte van hul gebrekke.

Vinnige vrae

  1. Sal jy liewer altyd 10 minute laat wees of altyd 20 minute te vroeg wees? Altyd 20 minute te vroeg.
  2. Sal jy eerder vir 30 dae sonder jou selfoon funksioneer of vir die res van jou lewe sonder nagereg gaan? Sonder twyfel 30 dae sonder my foon! My Ma se nagereg is heeltemal te lekker.
  3. Watter fiktiewe karakter sal die verveligste wees om in die regte lewe te ontmoet? Penelope Pitstop van Wacky Races.
  4. Wie is jou gunsteling-onderwyser en waarom? Juffrou Carmi Viljoen, my praktiese musiekonderwyseres. Sy het van gr. 8 af vir my vioolles gegee en daar was nie een dag wat sy suur was nie. Haar saggeaardheid en passie vir musiek het my geïnspireer en ek sal ewig dankbaar wees vir al haar moeite. Ek weet ek was nie die maklikste student nie!
  5. Wie inspireer jou en waarom? My ouers. Ek sou nie dié jaar gemaak het sonder my pa se lewenslesse en my ma wat kort-kort seker maak dat ek ʼn moeilike week oorleef nie. Hulle motiveer my om hard te werk en voluit te lewe. My ouers stel die voorbeeld en ek kan net hoop om eendag so ʼn goeie ouer vir my kinders te wees.

Onthou om nou reeds te registreer om seker te maak jy weet wanneer jou uitslae op Maroela Media beskikbaar is. Registreer hier: https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/projekte/matrieks-2019-registreer-nou-om-jou-uitslae-te-kry/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

CK ·

Genade wat ‘n voorreg, maak gebruik van daai talent PW. Sterkte vir jou toekoms. Hier sien ek SA’ner wat nog groot hoogtes sal bereik.

Lizelda ·

Baie bly vir jou jongman. Kanp gedaan en geniet elke oomblik.

Jerry B ·

Welgedaan jong man. Jy en jou ouers kan trots wees op hierdie merkwaardige prestasie.

Koos ·

Nasa is n klug.gaan kyk op youtube na eric dubay en paul on the plane se videos dis regte wetenskap

Ai Koos ·

Is dit nou regtig nodig? Almal het al van Nasa gehoor, maar niemand het al gehoor van wie jy praat nie. Nasa is ongelooflik! Gaan besoek hul gerus indien jy na Amerika reis. Welgedaan PW en geniet die nuwe avontuur!

Koos ·

Ja dit is uiters nodig.nasa belieg en bedeieg al vir dekades die publiek.gaan kyk op youtube na eric dubay en paul on the plane se fantastiese videos en besluit self..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.