Boere en moeilike besluite

Karoo_windpomp_skape_dam_ABrits.jpeg

(Argieffoto: Annelize Brits)

Deur Elize Perrin

Eers was dit net die droogte waarteen boere moes veg. Groot dele van die land is die afgelope paar jaar op die knieë gedwing as gevolg van ’n tekort aan reën. Alhoewel sekere dele verligting ontvang het, is daar steeds gebiede wat daarna smag dat die hemelsluise moet ooptrek.

“Graaff-Reinet en omstreke is reeds in die sewende jaar van droogte,” vertel dr. Ben van Tonder van die NG kerk in die dorp.

“Alhoewel die Groot-Karoo ’n semiwoestyngebied is en waterskaarste nie vreemd nie, het die afgelope jare se tekort aan reën kritiese afmetings aangeneem.”

Volgens dr. Van Tonder het die opdroging van plaaslike damme Graaff-Reinet afhanklik van boorgate gemaak. Hy wys daarop dat van die informele gemeenskappe moet staatmaak op watertenks en skenkings van liefdadigheidsorganisasies.

“In die afgelope maande is Graaff-Reinet geseën en oorlaai met talle skenkings van water en watertenks van oor die hele Suid-Afrika,” sê hy. “Oor kleurgrense en kerkgrense heen is hande gevat om mense in nood by te staan.”

Soos in baie ander plattelandse gebiede is hier ook gebedsgeleenthede vir reën gehou. Die land het saam gebid. Intussen moes boere planne begin maak. Van die boere in naburige gebiede het skape na dele in die Vrystaat verskuif. Ander boere moes begin om van hul kudde te verkoop. Baie moes hul personeel verminder, of staan op die punt om dit te doen.

Vra jy dr. Van Tonder hoe ’n leraar die boere bemoedig, wys hy daarop dat boere nie met hul swaarkry op hul mou loop nie.

“Hulle is trotse en sterk mense wat deur vorige droogtes en ook hierdie droogte sal veg. Hulle deel steeds uit dit wat hulle het en versorg hul mense, diere en plase na die beste van hul vermoë. Hulle is steeds hoopvol.”

Hy verwys na ’n ouer boer wat tydens ’n plaasbiduur die jonger boere bemoedig het met die woorde dat daar nog nooit ’n droogte was wat nie gebreek is nie.

“My gebed bly steeds dat God die droogte sal breek, maar dat die droogte ons nie sal breek nie,” sê hy.

(Argieffoto: Liezel Hodgson)

En terwyl dié stryd aan die gang is, bekruip ’n virus die wêreld. Weer word die boerderygemeenskappe swaar getref deur die grendeltyd. Boere se finansiële posisies kry ’n verdere knou en nog meer belangrike besluite moet geneem word. Wat staan die boere te doen? Hoe kan hulle die situasie die beste hanteer?

Volgens ds. Pieter Oberholzer, emeritusleraar en besigheidskonsultant, word in hierdie tyd vrae gevra soos: Sal my besigheid oorleef en sal ek my finansiële verpligtinge kan nakom?

Hy wys daarop dat tydens die grendeltydperk sommige besluite deur die parlement namens besighede geneem word en dat dit tot frustrasie lei.

Oberholzer lig vier faktore uit wat nodig is om ’n besigheid suksesvol te herstel, naamlik mense/werknemers, plan/strategie, ’n mark en finansies. Hy noem dat die belangrikste aspek in ’n besigheid die werknemers is. Werkgewers moet hulself afvra of hulle weet hoe hulle voel oor die grendeltyd? Watter emosies ervaar hulle? Wat verwag hulle ná die grendeltyd verby is en die belangrikste, wat verwag hulle van jou as werkgewer?

Volgens Oberholzer moet werkgewers besluit of hulle hulleself as toegerus beskou om leiding te gee. Verstaan hulle nie net werknemers se besigheidsverwagtinge nie, maar ook hul persoonlike behoeftes? Hy wys daarop dat gevoelens van skok, woede, frustrasie en magteloosheid algemeen voorkom in ’n krisissituasie.

Angs is ook ’n gedeelde emosie in hierdie tyd.

“Nie net vrees mense die virus nie, maar daar is ook die vrees oor hul geliefdes se veiligheid en dan ook die vrees of hulle hul werk gaan verloor,” verduidelik Oberholzer.

Laasgenoemde was by ’n blitspeiling betrokke waarin aan respondente gevra is hoe hulle die Covid-19-situasie hanteer en waar hulle die krag en inspirasie vandaan kry om aan te gaan. Die meerderheid het geantwoord dat hul krag van God kom. Vriende, familie en innerlike krag is ook deurgegee as rede vir hul uithouvermoë.

“Die peiling het aangedui dat respondente die minste ondersteuning van hul werkgewers ontvang,” sê Oberholzer.

Hoe moet werkgewers dan die situasie hanteer? Oberholzer gee die volgende wenke:

  • Werkgewers moet eerstens na hulself omsien. Jy kan nie vir ander tot hulp wees as jyself nie fisiek en geestelik sterk is nie;
  • Kommunikeer baie. Daar kan eerder tot vervelens toe gekommunikeer word as glad nie;
  • Motiveer en rus jou werknemers met emosionele vaardighede toe sodat hulle die veerkragtigheid sal hê om ná die krisis “terug te bons.”

Alles in ag genome word die boerderygemeenskap deur geweldige uitdagings in die oë gestaar en moet hulle verreikende besluite geneem word. Met twee vyande wat beveg moet word, is dit geen maklike taak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.