Bruid op landwye soektog na droom-trourok

Nadene Else en JW le Roux. (Foto: Michelle Pienaar Fotografie)

Elke vrou droom oor die mooiste dag in haar lewe, haar troudag. Die bruidegom, die blomme, die versierings … en daardie wit droomrok.

Nadene Els, wat aanstaande jaar aan haar verloofde, JW le Roux, by Rivierplaas in Meyerton trou gaan beloof, sê hoewel sy bitter opgewonde is om met die liefde van haar lewe te trou, maak sy egter nie veel vordering op die trourok-front nie. “Ek soek nou al ʼn jaar lank na my droomrok, maar die soektog werp tans geen vrugte af nie.”

Die voornemende bruid, wat ʼn verkoopskonsultant vir ʼn sakeonderneming in Vereeniging is, is nou op ʼn landwye soektog na ʼn nommerpas-rok vir haar 54-grootte liggaam.

“Tot dusver was elke passing ʼn mislukking,” sê sy. “Ek is ʼn plus-grootte bruid en as ek na televisieprogramme soos Curvy Brides op die TLC-kanaal kyk, wens ek ons kon in Suid-Afrika ook so iets hê.”

Op die program, verduidelik Els, is dit asof elke rok die vroue altyd perfek pas. Els het eers daaraan gedink om ʼn rok te laat maak, soos wat sy normaalweg laat doen, maar toe sy die program sien, het sy begin hoop dat daar tog ʼn rok in ʼn winkel sal wees wat haar gaan pas.

Sy sê dat sy al verskeie plekke gebel het, maar dat die groottes van rokke by die ondernemings net tot ʼn 48-grootte gaan. “Ek kan nie vir jou sê by hoeveel plekke ek al weggewys is nie. Ek is amper te bang om te gaan pas en voel bitter sleg wanneer ek ʼn rok wil aantrek en dit pas nie. Die meeste plekke het nie plus-grootte rokke nie en mense kyk jou snaaks aan. Ek huil my oë uit, ek droom van hierdie dag al my hele lewe lank.”

Els sê sy soek tans raad oor waar sy kan aanklop vir trourokke wat aan die behoeftes van groter mense voldoen. Sy sê sy kyk ook na ʼn pasgemaakte rok, maar weet nie waar om met die soektog vir ʼn ontwerper te begin nie.

Els, een van drie kinders, vertel haar verloofde het op haar ma, Comine Els, se 60ste verjaardag verlede September die jawoord gevra.

Die datum waarop Els en Le Roux trou, is ook vir hulle baie spesiaal. “Ons trou op 13 Junie 2020, dan is ons drie jaar saam. Ek wil nie graag ons troudatum uitstel nie. Ek soek nou al so lank na ʼn rok. Ek weet nie of ek ooit een gaan kry nie,” sê sy.

Die paartjie het by ʼn karwassery in Meyerton ontmoet. “Hy was ʼn nuwe intrekker in die gebied en ons het toevallig een dag by dieselfde karwasplek beland waar ons begin gesels het.”

Nadene Els en JW le Roux. (Foto: Michelle Pienaar Fotografie)

Die paartjie doen alles saam en hou daarvan om op nuwe avonture te gaan. “Ons hou baie daarvan om nuwe plekke te verken en te reis, so ons gaan beslis vir ons wittebrood ʼn reis deur die land aanpak.”

ʼn Gewigtige saak

Els erken dat sy dalk makliker ʼn trourok sou kon opspoor as sy gewig verloor, maar sê ook dat sy al van haar grootwordjare af met haar gewig sukkel en boonop uit ʼn “groot” familie kom. “Ek het al baie pogings aangewend om gewig te verloor, soos dieetpille, maar dit het my siek gemaak. Ek het oefeninge probeer, maar dit is baie moeilik om fisieke bewegings te doen as jy in só ʼn groot lyf vasgevang is. Daar is niks wat ek nou op die ingewing van die oomblik kan doen nie.”

ʼn Maagomleidingsoperasie is ook nie ʼn opsie vir haar nie weens die koste daaraan verbonde.

“Wanneer ek rokke aanpas en dit nie mooi lyk of reg sit nie, voel ek terneergedruk, maar dan tree ek daadwerklik op. Ek kan nie toelaat dat ʼn rok my laat sleg voel of dat my liggaam niks minder as perfek is nie. Ek moet van my liggaam hou, dit is die enigste een wat ek het. Ek kyk baie na myself in die spieël en sê hardop: jy is volmaak en ek is lief vir jou.”

Els voer verder aan dat sy nie die enigste plus-grootte bruid in Suid-Afrika is nie. “Moet elke bruid dan nou ʼn dieet volg om in ʼn rok van normale grootte te kan pas, eerder as om haarself te aanvaar en lief te wees vir haarself soos sy is? Elkeen is uniek. Maer, mollig, kort en lank, en ook plus-grootte mense, soos ek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Odette ·

Bruid van 2020: Dalk net n voorstel – hoekom laat maak jy nie jou eie spesiale rok nie… Dis immers baie minder stress ook, en dan is die rok net vir jou gemaak….

Dylan ·

Jy is perfek nes jy is… moenie laat enige een enige iets anders vir jou vertel nie. Ek weet dat jy die perfekte rok vir hierdie spesiale dag in jou lewe sal vind. En as dit beteken ons almal moet help met die soektog, dan doen ons dit. Jy soek daar bo en ons hier in die Weskaap… Ek waag enige een anders uit om te soektog te verbreed. Kan nie wag om die spesiale dag te sien, veral net hoe mooi jy gaan lyk nie.

Katryn ·

Kyk na Jacoba Clothing se webtuiste en Facebook-blad. Hulle maak die mooiste rokke in enige nommer.

Mariet Landman ·

Wow!! Ek het nou so vinnig gaan loer na Jacoba Clothing se klere. Dit is pragtig!! Ek is seker Nadine gaan hier ‘n trou rok kry wat haar soos ‘n prinses gaan laat lyk. Dankie Katryn! Ek is seker daar is nou baie vrouens wat bly is dat jy hierdie plek se naam op gesit het.

Soosditis ·

Hartjie, ek het my rok op DH Gate bestel. Online. Jy neem self jou mates en sit so 2cm by (vir ingeval)
Dan kies jy jou rok, vul in al jou details en viola, daars jou rok. Veral nou omdat black Friday om die draai is, sal jy n goeie prys betaal. Myne was so R2000 met die black Friday special laas jaar en was in minder as n maand afgelaai van China af en was presies wat ek wou gehad het.

Mense vertrou nie sommer online nie, maar ek, twee van my sussies EN twee van my niggies (almal verskillende groottes) het ons trourokke daar bestel.

Kyk gerus.

Hoop jy kom reg xx

Jodi ·

Ken die pyn en teleurstelling my dogter trou ook en agv groot hoefeelhede kortisoon behandeling vir lupus sit sy in die selfde boot.sy trou februarie en het nog nie n rok nie

my opinie ·

ek stem ek is ‘n size 50 en ek laat maak al my rokke dit kom net so mooi uit soos uit ‘n winkel en ek kry gereeld komplimente, as jy gewig verloor doen dit vir JOU nie om in ‘n rok te pas nie ek sukkel net so met gewigsverlies en het nou vrede gemaak daarmee , laat maak jou rok en weet hy is presies reg vir jou en dis presies wat jy soek dis veel meer pret as ‘n gekoopte rok jy kan self alles kies ;-) Sterkte en hoop jy kom reg

JP ·

Connie Verster Trourokke in Potgietersrus. Sy het baie rokke van alle grotes en kleure om van te kies en te keer.

Nettie ·

Meisie, jy het nog 7 maande om te gaan voor jou troudag. Begin nou minder en reg eet, asook oefen en jy kan DALK net in in grootte 38 op jou troudag inpas.

**anoniem** ·

Nettie, ek stem saam jou. Maar om my opinie by te voeg; jy verloor nie net gewig vir jou troue en die rok nie, verloor gewig vir jou gesondheid meisie. Gaan lees gerus die storie oor Janja Wills (https://maroelamedia.co.za/leefstyl/gesondheid/vrou-skud-89-kg-af-danksy-die-regte-manier/ ). As jy regtig wil, sal jy beter na jouself en jou gesondheid omsien. Ek self was oorgewig (ook ‘n groot familie), maar ek het besluit de hel daarmee en beheer oor my eie gewig, gesondheid en mindset geneem en is nou 25kg ligter!! Komaan, jy het meer as ‘n halwe jaar oor, ja jy gaan dalk nie baie verloor nie, maar ‘n begin is beter as niks. Maak ‘n punt daarvan om suiker totaal en al uit jou lewe te sny en jy gaan klaar ‘n drastiese verskil sien. Hoop jy kry jou droom trourok!

Bolletjie Blom ·

Nadine, ek het die grootste simpatie vir jou. Dit is ongelukkig dat mense party keer iemand wat oorgewig is soos ‘n melaatse behandel. Mens moenie ‘n persoon oordeel as jy nie in sy skoene geloop het nie. Dit is nie altyd dat iemand oorgewig is van te veel eet nie daar kan siektes toestande ook wees wat dit veroorsaak.
Nadine jy is ‘n koningskind en Jesus het vir jou die perfekte maat gestuur wat vir jou lief is net soos jy is. Iewers gaan jy jou perfekte rok ook kry. Ons hou duim vas.

Tannie ·

Ek het ook altyd na oorgewig mense gekyk en gedink – hoekom verloor jy nie net gewig nie? Dit kan tog nie so moeilik wees nie?? Maar noudat ek ouer is en ook ‘n paar ekstra kilogramme langs die lewenspad versamel het, kom ek agter hoe vrek moeilik is dit om gewig te verloor en af te hou. Ek het nou baie meer simpatie met jul situasie…

Suster Sê ·

Dit klink vir my of sy net te veel verskonings het. Eet net beter en gaan stap ‘n paar km ‘n dag en kyk watse verskil dit maak. Daar is dalk ‘n goeie rede hoekom meeste klere net tot ‘n sekere size gaan. Maak ‘n plan, skud ‘n paar kilos af.

M G ·

Regtig??? En jy ken al haar omstandighede rondom haar gewig ens. Lees wat sy skryf! Sommige mense eet meer wanneer hulle stress. Duidelik is jy volmaak.

Melinda Venter ·

Ek kan met plesier jo trourok
drome waar maak!
Melinda Venter Couture
Vanderbijlpark

Nella ·

Hoekom mense altyd ander wil afkraak, lelik wees en voorskryf kan ek nie verstaan nie….
Dankie Melinda jy is ‘n stêr om haar drome te wil waarmaak net soos sy is.
Sterkte Nadine jy gaan ‘n baie mooi bruid wees net soos jy is.

Simpatie ·

Selfde probleem gehad so 2jaar terug. Was my 2de huwelik En het toe deur die vrou my dogter en skoon dogter se trou rokke gemaak, vir my die mooiste rok laat maak, ivoor kleur sagte materiaal en lank en kant – en maar R1600 betaal. en soos ons die rok gemaak het kon ek vir haar se nee hou nie van dit nie of verander hier of sit hierby – en die rok was pragtig!! En van so n aard dat ek dit na n aand funksie weer kan aantrek! Laat maak iets en kies iemand met wie jy gemaklik is met jou lyf.

**anoniem** ·

Dit verstom my regtig om te sien hoeveel mense nie worry oor ander, of hulle eie gesondheid nie. Ja, ek gee toe, daar is baie mediese toestande soos skildklier, hormone etc. wat ‘n rol speel, maar daar is behandeling daarvoor. En om eerlik te wees, stress-eating is net ‘n flou verskoning. Kry iets anders om jouself mee besig te hou, soos oefen. Dit is al medies en wetenskaplik bewys dat oefening onsaglik baie help vir stres, depressie en ander verwante siektes. Natuurlik is dit vir sommige mense nie lekker om te gaan oefen nie, maar as jy gesonder wil wees moet jy na jouself en jou liggaam kyk!! Ek sê nie jy moet brandmaer wees nie, maar kry jouself net tot op ‘n gesonde gewig en maak dit ‘n leefstyl verandering nie ‘n dieet nie. Daar is deesdae soveel mediese hulpmiddels en mense wat bereid is om jou by te staan…maak gebruik daarvan!! Suiker en verwerkte kosse is ons grootste vyand, sny dit heeltemal uit en jy sal alreeds ‘n groot verandering in jouself en gesondheid raaksien. O ja…drink ten minste 3liter water per dag.

Sê maar net ·

Ek het soveel empatie met jou. Ek is ‘n grootte 42 en probeer al 3 jaar gewig verloor. Niks werk nie. Ek eet gesond en min, drink nie gaskoeldrank nie maar verloor baie bitter moeilik. Mense wat oordeel was nog nie in jou skoene nie. Sterkte!

vetplant ·

Ons almal kan saamstem, dit is nie altyd maklik om gewig te verloor nie, veral as jy gewoond is aan n leefstyl van hoe suiker en verfynde koolhidrade nie. Ek het ook nou besluit genoeg is genoeg, ek moet beheer oor my lewe neem,
my gesondheid is belangriker as lekker eet. Verskonings is altyd n maklike uitweg .Jy is pragtig en ek glo as jy gewig verloor sal jy soveel meer selvertroue he, ek glo alles word makliker met tyd, wel ek hoop so want ek is op dieselfde paadjie om gewig te verloor. Die probleem gaan kom as jy kinders wil he, en oorgewig kan jou laat sukkel om swanger te word, wat nog van agter n kind aan te hardloop?
My familie is ook “groot” gebou, maar niemand was vet in die konsentrasiekampe nie, so ons eet te veel. Kom ons word 2020 gesonde, maerder en gelukkiger mense.

SoosDitIs ·

Mag ek ook net se dat die dames wat so gal braak oor die vrou se gewig is ongevraagd. Sy is gemaklik soos sy is en dit is wat vir haar belangrik is.

Ja sy kan gewig verloor (al gaan dit dalk hoe stadig) maar dis haar keuse en ek dink die doel van die berig was om te kyk of daar wel mense is wat “cater” vir groter vroumense.

Ek is self bietjie oorgewig (nie uitspattig dik dat ek nie jan beweeg nie soos lelike mense dit noem nie) maar ek is ook gemaklik met myself en ek voel nie sieklik nie. So ja, hoekom moet ek myself “fix” vir ander mense? Nee wat, die wat so vinnig is om te se sy moet oefen moet dalk besef ons vroumense moet ophou mekaar sleg se en afbreek en mekaar aanmoedig en aanvaar.

Mariaan ·

Medilean gewig verlies program word deur ñ mediese dokter gedoen. Dis absoluut die moeite werd vir jou eie gesondheid. Ek het al 40kg verloor met die program.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.