Chanté Hinds-Möller se Kersfees in die Karoo

Gesinsfoto van ’n vorige Kersfees. Vlnr is Dawid, Jan, Chanté en Darius. (Foto: Verskaf)

Deur Elize Perrin

In die Karoo moet selfs Kersvader soms aanpassings maak en sy slee tydelik inruil vir ’n trekker met sleepwa, of motorfiets.

“Soms moet ons die takbokke se spore volg om by die geskenke uit te kom,” vertel Chanté Hinds-Möller tong in die kies. Met twee seuns in die huis is spoorsny groot pret.

Vir dié aktrise, skrywer en spreker was die skuif uit die stad na die Karoovlaktes egter geen aanpassing nie. Volgens haar het sy geen hunkering na iets wat die stad kan bied nie.

“Ek vermoed tydsberekening het baie daarmee te make,” sê sy. “Dan het ek ook ’n lewensmaat wat uit sy pad gaan om ander in hul behoeftes te bedien en wat op sy selflose manier die plaaslewe vir my verruklik maak.”

Chanté is in 2007 met Jan Möller, haar wolboer, getroud. So het Chanté deel van die Karoolewe geword.

Die Karoo is altyd gewillig om jou iets te leer. Vir Chanté was dit geduld.

“Met besluite, seisoene, natuur, gebede, mense en my groeiproses,” sê sy. “Ek het geleer om telkens oor te begin; as die saailinge net boontoe beur en die dassies vreet dit af, probeer ons weer. So ook met gebak, met foute maak, met kinders grootmaak en vassit in die modder!”

Hier in die Karoo met sy vlaktes en genadelose son, het haar begrip van mooi weer ook verander.

“Vir my is dit nou bewolkte, donker weer met die belofte van reën,” vertel sy.

Die gasvryheid van die Karoo en sy mense is deel van haar elke dag se bestaan.

“Dit is so lekker om vriendskappe met almal te sluit – ook met dié wat baie ouer en dié wat baie jonger as jy is,” sê sy. “Almal kuier saam omdat gesprekke maar skaars is in ons geweste. Mense kom haal jou by die kar en waai totsiens totdat die stofstreep gaan lê. Jy deel jou tafel en kos met enige een wat aankom vir lafenis; ongeag.”

Vir Chanté lê die skatte van dié wêreld in die onsigbare.

“Die dankbare veld, stiltes, eenvoud en nederigheid. Die Karoo maak jou binnewêreld sag en vir Kersfees is dit mos hoe die landskap moet lyk.”

Voorbereiding

Chanté Hinds-Möller. (Foto: Elize Perrin)

Die Karoovlakte is wyd en die plase ver van inkopiesentrums. Beplanning word gou deel van jou leefwyse. Vir Chanté begin die lekkerte al in September wanneer sy begin plant met die oog op die Kersseisoen.

“Hierdie jaar het ek ’n heining om my groentetuin. Dus is my moed hoog om eindelik ’n koue waatlemoen op die spyskaart te kan hê,” vertel sy.

Die rose se snoei en die plant van blomme vir die Kerstafel is ook op die lysie doendinge. Vir Chané is kleinkoekies, tuisgemaakte blaar- en skilferkorsdeeg en tuisgemaakte gemmerbier ’n moet.

“Ek maak altyd my eie gemmerbier en roomys,” vertel sy. Moerbeikonfyt is nog ’n gunsteling omdat dit so veelsydig is. “Van ontbyt met jogurt tot hamglaseersel,” vertel sy.

Mentblaartjies en roosknoppies in die ysblokkies dra ook op hul beskeie manier by tot die feestelikheid. Volgens Chanté beplan sy haar spyskaart drie weke vooraf.

“Vir ons op plase is dit noodsaaklik om vroegtydig aankope te doen en genoeg room en botter in die yskas te hê.”

Haar gunstelingslaai, wat sy graag deel, is ’n botterskorsieslaai.

“Die kleure is vir my feestelik en kikker die Kerstafel op,” sê sy.

Vir die slaai sny sy een botterskorsie in lang repe en geur dit met olyfolie, growwe sout, peper en ongeveer twee eetlepels heuning. Dan word dit vir twee uur teen 160 ℃ gerooster.

“Wanneer dit taai is met ’n karamelkleur, pak ek dit uit op ’n slaaibord met jongspinasieblare (baby spinach).

Gebruik die olyfolie en heuningmengsel wat in die pan agterbly as slaaisous. Garneer met rooi uie, Deense fetakaas en dennepitte. Dit is ’n wenner op die Kerstafel.”

En wat is Kersfees sonder ’n boom? Chanté is ’n ma met ’n plan. Behalwe vir die grootmensboom in die formele sitkamer, kry Darius en Dawid hul eie boom in die gesinskamer. Dié kan hulle na hartelus versier en elke dag die bekoring daarvan geniet.

Kersfees en die Kerskous

Alhoewel die Kersete belangrik is, vertel Chanté dat hulle almal bewus is van die groot geskenk wat met Jesus se geboorte ontvang is.

“Oukersaand dress ons op,” vertel sy. “Ons dek die tafel op die stoep met baie glas en baie rose. Ons speel Kersliedjies, steek al die kerse aan en wag vir Kersvader.”

Daarna is dit tyd vir sjampanje en ’n laataandbraai.

“Ons is bewus van die Groot Storie waarvan ons kan deel wees,” sê sy. “Ons deel in die rojale geskenk van ’n Verlosser met deurdagte geskenke aan mekaar en klein bederfies wat ons mekaar en onsself gun.”

Dit is asof die stilte van die Karoo ’n spesiale gewydheid aan Kersdag verleen. Chanté en haar hartsmense begin die dag rustig met koffie en croissants in afwagting vir die Kersdiens op TV. Laatmiddag word die resultaat van weke se beplanning op die tafel rangskik vir die tradisionele groot eet.

“Dit hou aan tot laataand wanneer ons Kersdag met ’n saligheid afsluit,” vertel sy.

Oor wat sy graag in haar Kerskous sou wou hê, is Chanté duidelik.

“Ek wil graag nuwe dinge hê,” sê sy. “Maar nie klatergoud of tasbare geskenke nie. Daarvoor het almal dié jaar te taai getrek en het ons as mensdom net te veel dié jaar verloor. Ek wil nuwe insigte hê. Nuwe visie en hoop. Ek wil nuwe gedagtegange hê en met nuwe oë na die mense om my kan kyk. Ek wil nuwe moontlikhede raaksien; nuwe gewoontes aanleer en dalk ’n vaardigheid ook. Ek wil vasklou aan die Waarheid en fokus op wat mooi is.”

Haar wens vir ons land is dat almal sal aanhou skep en hulle skeppingsdoel sal besef en uitleef.

“As ons aanhou om skeppend te wees – nie afbreek of vernietig nie – sal ons drome, ideale en toekoms ’n werklike bestaansreg hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.