Die lewe van die onstuitbare Phyllis Woolf

Plyllis Woolf met pers hare. (Foto: verskaf.)

Dit het haar 31 jaar geneem om ’n piesang te skil. Sowaar! Dit is dan ook ’n metafoor vir en die titel van die boek wat Phyllis Woolf (70) van Centurion geskryf het: 31 Years to Peel a Banana.

Vir hierdie lewenslustige vrou wat nie eers 1,52 m lank is nie, gaan dit egter nie oor die feit dat sy weens serebrale gestremdheid in ’n gemotoriseerde bromponie sit nie, maar eerder dat almal van ons sekere probleme moet oorkom – ook niegestremdes. Daarmee kan almal identifiseer.

“Ons gaan almal deur iets, in my geval is dit net op wiele. Ek skryf veral oor die emosies wat mens beleef en het besluit om nie te veel op die gestremdheid te fokus nie, hoewel dit natuurlik die prentjie skep. Ek skryf oor die goed wat ek kan doen, eerder as oor dit wat ek nie kan doen nie. Miskien sal iemand wat die boek lees, gehoor en verstaan word. En dis my doelwit.”

In haar boek van 137 bladsye lank skryf sy soms byna onthutsend eerlik oor al haar ervarings. Van haar liefdeslewe tot haar geen-onsin-houding met die “Ag shame”-mentaliteit teenoor gestremdes.

Sy is uitgesproke, lief vir boeke, die digkuns, en ja, reis – na soms onmoontlike plekke met honderde trappies en uitdagings. Dan skryf sy met groot dankbaarheid oor al die “engele” wat oor haar pad gekom het en hul arms vir haar oopgemaak het. Dit is dan ook die fokus van haar boek – die wonderlike mense op haar lewensreis. Daar is natuurlik ook diegene na wie sy dwarsklappe uitdeel as dit nodig is.

Phyllis het net besluit dat sy voortaan nie meer Amerika toe gaan vlieg om haar suster in Florida te besoek nie, aangesien die vlug van 18 uur lank te uitputtend is.

Phyllis se boek gaan jou laat lag, huil en verstom. (Foto: Verskaf.)

Net om die boek te skryf, was op sigself ’n kragtoer. Sy het dit met haar een hand op die rekenaar getik teen 15 woorde per minuut. Sy vertel:

“Ek het as ’n soort terapie begin skryf. Ek wou myself uitdruk en die maklikste manier waarop ek dit kon doen, was deur te skryf.

“Dit was eers ’n outobiografie, maar toe raak ek verveeld met die onderwerp. Dus het begin kyk na die mense wat ’n impak op my lewe gehad het. Ek het ’n lys van name saamgestel.”

So skryf sy oor onderwysers, mentors, kollegas, vriende, familievriende wat die vaderlike rol ingeneem het (haar biologiese pa was afkrakend en afwesig) en mense wat sy toevallig ontmoet het vir wie sy nooit sal vergeet nie. Haar terapeut het ’n vriendin geword en die predikant het so lank gedurende haar trouseremonie gebid dat “die bruidspaar en al die gaste hulle op die randjie van ’n koma bevind het”, skryf sy skertsend.

Sy beskryf die uitdagings wat die ouers van ’n gestremde kind moet beleef en die besondere waardering wat sy vir haar ma en stiefpa gehad het ná ’n moeilike verhouding met haar pa.

Phyllis op haar fiets. (Foto: Verskaf.)

Een ding wat haar vurig maak, is die feit dat ons in ’n wêreld leef waar die meeste mense alles glo wat gesagsfigure sê.

“As ’n dokter iets sê, is sy woord wet. Wel, raai wat, die dokter het gesê ek gaan nie ouer as 50 word nie. Ek is nou 70. Hulle kan mos nie God speel nie. Hoe kan jy jouself as God aanstel? Ek is skandalig gesond. Ek het geen siektes nie, behalwe vir ’n bietjie osteoporose. Ek rook, en ek drink ’n bietjie en ek vloek baie”, voeg sy stout by.

Phyllis se eerste gewaarwording dat sy anders as ander kinders was, was toe sy vier jaar oud was.

“Almal het boom geklim, maar ek kon nie.” Haar ouers het vroeër agtergekom dat sy haar bottel met een hand vashou en nie al die gewone kindermylpale bereik nie.

Terapeute het deel van haar uitgebreide familie geword. Later is sy na ’n “tweetalige” skool in Kimberley gestuur waar sy toe uitvind dat alles in Afrikaans is. Sy het verlore gevoel, want by die huis het hul huiswerker, Sarah, haar met alles gehelp – van kos kook tot met ’n mes en vurk eet. As Jodin was die hoogtepunt vir haar om die shul (sinagoge) en Bar Mitzvahs by te woon waar daar altyd heerlike kos was wat hemel op aarde vir ’n koshuiskind is en om naweke by haar pleeggesin te kuier.

Niks stuit vir Phyllis nie, nie eers die water nie. Hier neem sy haar eerste duikles. (Foto: Verskaf.)

Sy is op skool oor haar Afrikaans gespot, maar het die taal met suiwer wilskrag onder die knie gekry en is later die “Afrikaans Engelsman” genoem. “Dis ’n titel wat ek met trots dra. Dit het my ook gehelp om plekke waar tweetaligheid belangrik was, werk te kry.”

Die hospitaal het byna haar tweede tuiste geword. Sy het agt of nege ortopediese operasies gehad waarvan sy oor uitgerekte tye moes herstel.

Nooit op haar mond geval nie, het sy altyd ’n antwoord gereed. Toe ’n sielkundige haar vra of sy anders voel omdat sy gestremd is, vra sy haar of sý anders voel omdat sy nié gestremd is nie.

Moenie dink Kupido het nie sy pyltjies skerp geslyp vir haar nie. Sy het drie mans in haar lewe gehad wat elkeen ’n unieke rol vertolk het. Een het verlief geraak op haar brein en nog een het polio gehad. Dan was daar ’n vryer met ’n lang poniestert wat die ewebeeld van Johannes die Doper was.

Phyllis wou op haar eie en onafhanklik woon, maar in haar strewe na onafhanklikheid was dit ’n prestasie om kookwater in ’n koppie te gooi sonder om water te mors.

Haar leuse was egter: “What are you going to do about it?”

Phyllis het in ’n stadium vir ’n maatskappy gewerk wat met werkverskaffing vir gestremdes gemoeid was. Sy het haar daarvoor beywer dat die houding teenoor gestremdes in die werkplek verander word. Die ironie was dat sy in hierdie einste gebou waar sy gewerk het, 19 trappe moes uitklim! Sy het soms haar krukke gebruik, maar dit was moeilik en tydrowend. Om nie te praat van wanneer sy weer trapaf badkamer toe moes gaan nie.

“Dit verskaf ’n mens egter groot bevrediging as jy iemand ontmoet wat geheel en al van die wêreld afhanklik is, maar ses maande later inderdaad ’n bestaan kan maak.”

Wat haar omkrap, is wanneer mense van gestremdes praat asof hulle onsigbaar is.

Uitdagings is deel van haar leefwyse. So het sy ’n Toastmasters-organisasie vir blindes bestuur. Haar liefde vir reis het haar met dolfyne laat swem, ’n canopy-toer in die Tsitsikamma laat onderneem en na Turkye en Israel geneem.

Phyllis onder die water tydens haar eerste duikles. (Foto: Verskaf.)

Volgende op haar lys is die Camino.

“Het jy geweet daar is ’n Wheelie Camino?” vra sy asof dit die doodgewoonste ding op aarde is.

Sy skryf met humor oor haar “skisofreniese oomblikke” toe haar gemotoriseerde bromponie tydens oorsese reise nie gelaai kon word nie en die stamperige stootmodel maar die ding moes doen.

Maar dis nie asof haar lewe een lang en vrolike wipwarit is nie, want sy skryf ook eerlik oor haar depressie, uitbranding, bronchitis, swaar medikasie se newe-effekte en pynlike spasmas ná ’n lang reis Amerika toe en terug.

Phyllis verwys egter elke keer weer na die wonderlike vriendskappe wat sy aangeknoop het.

“Dit wat ek wou gehad het, is wat ons almal nodig het. Dit gaan nie oor wat jy van die gestremde sien nie. Dis dit wat in jou binneste aangaan wat regtig belangrik is. Mense se voorkoms is misleidend. Ek kan in werklikheid net een hand beweeg, maar my mond en my kop werk. En ek het ’n humorsin. Dit het my deurgetrek.

“Ek sê glad nie my pad was moeiliker as ander mense s’n nie. Dit was nie, maar jy moet jou eie krag soek. En as jy daardie krag vind, kan niks jou keer nie.

“Die donkerte en die lig in mens se lewe is ewe relevant. Dis die wese van wie en wat ons is.”

Die slot in haar boek lui so: “Ek was 31 jaar oud toe ek vir die eerste keer ’n piesang in my linkerhand kon vashou sonder om dit pap te druk of met my tande te skil. Nouja, dít was inderdaad ’n beloning!”

  • Phyllis se boek is teen R220 by alle goeie boekwinkels asook op Amazon en Takealot beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae