Die skaduwee van Jan Smuts

Genl. Jan Smuts (Argieffoto/SADF)

Jan Christian Smuts is 71 jaar gelede op 11 September 1950 op 80-jarige ouderdom oorlede. Op Sondag 10 September het hy nog goed genoeg gevoel om, ten spyte van ʼn reeks hartaanvalle wat hom verswak het, buitetoe te gaan en saam met sy kleinkinders op Doornkloof se grasperk te speel. Die volgende dag sou hy sy laaste motorrit saam met sy vrou Isie onderneem. Ná aandete het hy, terwyl sy dogters Sylma en Louis hom bed toe gehelp het, vooroor geval en sy bewussyn verloor.

By die Smutshuismuseum in Irene vertel Christo Rabie, ʼn kenner wat vrywillige werk by die museum doen, dat Smuts se reusenalatenskap dikwels misken word. “Hy het ʼn baie ingewikkelde persoonlikheid gehad, maar was in murg en been ʼn Afrikaner, lief vir mens en natuur, en baie gelowig.”

Mense onthou Smuts veral as militaris en staatsman, maar hy was ook ʼn vredemaker en beyweraar vir menseregte. Hy was baie intellektueel, maar ook kreatief. Hy was filosofies, maar ook pragmaties – hy het sy idees prakties toegepas.

“Hy het presies geweet wat nodig was, hoe om dit te doen en hoe vinnig dit bereik kon word,” sê Rabie.

Menslike man

Smuts word as militaris onthou, maar sy menslikheid staan veral uit wanneer ʼn mens sy lewe bestudeer. Hy het byvoorbeeld ná die Eerste Wêreldoorlog besef hoeveel weduwees daar was en hoeveel oudsoldate nie sou kon werk nadat hulle in veldslae beseer is nie. Sy simpatie was veral met hierdie persone en daarom het hy die Memorable Order of Tin Hats (MOTH)-beweging ondersteun.

Hy het ook dikwels oudstryders besoek om te hoor hoe dit met hulle gaan en hoe hy hulle kan help. Sy hoflikheid en nederigheid wanneer hy hulle hoed in die hand besoek het, het baie van hulle bygebly. Hy was opreg oor hul welstand begaan.

“Mense sien nie vir Smuts in die hulpverlening wat na die oorloë van stapel gestuur is nie, maar hy het baie daarvan geïnisieer. Hy het vaardige mense geïdentifiseer of opgelei en hulle aan stuur van verskeie inisiatiewe geplaas, sonder om die eer daarvoor vir homself op te eis,” voeg Rabie by.

Smuts het ʼn besondere sagte plek vir kinders gehad. Hy het in gesprekke altyd apart aan kinders aandag gegee. Saterdagaande was fliekaand by die Smutshuis en dan het die omgewing se kinders kom kuier.

Rabie vertel van sy humorsin en dat hy selfs tussen koninklikes vlymskerp was. “Smuts is na Koningin Elizabeth II en Prins Phillip se troue genooi. Ná die seremonie in die Westminster Abbey het Smuts en ander Europese koninklikes die paartjie ingewag voordat die banketmaal in Buckingham-paleis sou begin. Koningin Mary, Elizabeth se ouma, het aangestap gekom waarna Smuts opgemerk het: ‘Ah, here comes the queen of all queens and the rest of you are all but small potatoes.’ Elizabeth se ma sou daarna tydens die ete aan die kelner (“footman”) wat groente bedien het, opmerk: ‘The general does not like small potatoes.’ So het Smuts blykbaar sy maal sonder aartappels geniet!”

Afrikaner, Boer, Brit

’n Borsbeeld van Jan Smuts. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Smuts was ongetwyfeld ʼn Afrikaner. Hy het homself ook graag ʼn Boer genoem. Aan die ander kant was hy ook gemaklik in Britse geselskap. Hy het gemaklik op albei stoele gesit. “Mense verkwalik hom vir hierdie dualisme in sy persoonlikheid, maar hy het verkies om die goeie uit die verskillende wêrelde waarvan hy deel was te neem. Vandag besef meer ouers die waarde daarvan dat hul kinders goeie Engels magtig is, om sodoende op ʼn internasionale verhoog te kan skyn. Smuts het dit bloot gedoen en aangemoedig in ʼn tyd voordat dit algemeen aanvaarbaar was,” sê Rabie.

Soos ander Afrikaners was hy aan sy plaas en die natuur geheg. Hy het ʼn uitgebreide kennis van plante gehad en graag op sy plaas gewandel.

Isie, sy vrou, was ook stewig in die Afrikaanse gemeenskap gewortel, maar kon haarself goed tussen Engelse gaste handhaaf. Volgens Rabie is dit nie wyd bekend hoeveel Isie ook van haar kant af vir die Afrikaanse gemeenskap gedoen het nie. “Op persoonlike vlak was die Smutse beslis Afrikaners, maar hulle het nie hul rug vir die voordele wat die Britse invloed ingehou het gedraai nie.”

Onmisbare nalatenskap

Die era tussen die Anglo-Boereoorlog (wat in 1902 geëindig het) en Apartheid (wat in 1948 as segregasie bekendgestel is) is ʼn ietwat vae tydperk in ons historiese geheue, glo Rabie. “Maar dis juis in hierdie tyd wat Smuts sy bydraes gelewer het. Dié era se geskiedenis kan by die Smutshuismuseum gesien en ervaar word. In hierdie jare is die grondslag vir ons taal, kultuur en nywerhede gelê.”

Een van Smuts se belangrikste bydraes was sy bydrae tot onderrig. Hy het besef dat opvoeding geweldig belangrik vir voortuitgang was en daarom het hy met ywer skole en universiteite gebou, veral ook vir Afrikaanse kinders.

“Omdat hy self met ʼn beurs in die buiteland moes gaan studeer het, wou hy dit vir die nageslag in Suid-Afrika moontlik maak om plaaslik te studeer. Deur vir Afrikaners toegang tot hoër onderwys te gee, het hy gesorg dat hulle ʼn belangrike skakel in die ekonomiese ketting word. Die spesialiste wat Suid-Afrika tans op verskeie gebiede opgelewer het, is te danke aan Smuts se visie vir onderrig en opleiding,” sê Rabie.

Ekonomiese vooruitgang was hoog op sy agenda en hy het ʼn sleutelrol in die uitbou van nywerhede soos Yskor, landbou en mynbou gespeel. Hy het ook sy eie plaaslike kultuur bevorder deur oorsese besoekers na plaaslike museums te lok.

Smuts was altyd besig om kennis oor te dra – hetsy aan sy kinders en hul maats, of aan soldate in oorlogstye. Hy het geglo dat ʼn mens nooit moet ophou leer nie.

Rabie glo Jan Smuts was versiende – ʼn Siener van Rensburg in eie reg. Sy groot fokus was op die plaaslike bevordering van die Westerse kultuur.

Richard Steyn skryf in sy boek, Jan Smuts: Afrikaner sonder grense, dat wat vandag se kritici ook al met agternawysheid oor Smuts te sê het, vriend en vyand destyds saamgestem het dat sy bereidheid om die las van leierskap dwarsdeur sy lang lewe te dra, ten spyte van uitmergelende uitdagings en terugslae, eenvoudig verstommend was. “Hy het altyd gedoen wat hy geglo het die beste vir sy medemens was en nooit die begeerte of vasberadenheid om sy land te dien verloor nie.”

Of jy dit nou as ʼn koel lafenis of as ʼn donker skans voor die son beskou, een ding is seker: 71 jaar na sy dood sit ons nog in die skaduwee wat Jan Christian Smuts gewerp het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jasper

Ek ken nie al die feite nie maar my oupa het nooit goed van Smuts gepraat nie glo oor die oorlog wat hy saam met Engeland baklei het,soos ek dit onthou was hy soos ‘n fw van vandag.

Wim

Vertel ons meer van sy betrokkendheid toe die myners gestaak het in die 1920s

Richard

Hy het ongetwyfeld goed in hom gehad, en baie bereik, en hy was hoogs intelligent op akademiese gebied. Hy was egter beslis NIE “in murg en been ‘n Afrikaner” nie. Hy was uiteindelik amper meer Brit as Afrikaner. As hy wel “in murg en been ‘n Afrikaner” was, sou hy nie van die konsentrasiekampe vergeet het, en die werklike Afrikaners gelei het om vir die Britte te gaan veg in die Eerste Wêreldoorlog nie. Dit ‘n skamele 12 jaar na die konsentrasiekampe. Hy het vir sy nuwe meesters gaan veg in die Eerste Wêreldoorlog, en iemand soos Jopie Fourie vermoor… Lees meer »

Phillip

Ja daar sal negatiewe kommentaar wees van die wie se voorsate ossewa brandwag terroriste was. Die feit bly staan hy was n baie goeie leier. Hulle het meer van hom nodig vandag. Hy het nie opstande teen die staat geduld nie en dink net wat hy sou doen met hierdie riots van Julie. Gepraat van die myn staking. Daar was nie weer een daarna nie nê.

annie

… ‘n Afrikaner in murg en been? Natuurlik sal ‘n museum mooi kluitjies bak. Hy het die Afrikaners se saak nooit ooit in Brittanje bepleit nie. Die klater uit Suid-Afrika in die Britse kroon het hom uitgeboul. Hy het ook die VN help stig wat later SA sou druk om die land boots en all aan die ANC te oorhandig via nog ‘n goue-koets-van-die-queen-bewonderaar…