Die waarheid oor leuens

Lizette Volkwyn. (Foto: Lizette Volkwyn/Facebook)

Met ’n streng oog en ’n aanvoeling vir wanneer die waarheid ontbreek hou Lizette Volkwyn die kandidaat wat voor haar sit dop. Elke mikro-gesigsuitdrukking en verandering in liggaamshouding word ondersoek en wanneer ’n onafwendbare leuen deurglip, kan sy dit identifiseer.

Volkwyn is een van slegs twee menslike leuenverklikkers in Suid-Afrika en sy het haar kennis hieroor met Maroela Media gedeel.

Sy benadruk dat mense meer leuens vertel as wat hulle besef. Die blote kop-knik en “dit gaan goed met my”-antwoord wanneer dit nie werklik die geval is nie, word as ’n leuen beskou.

Sy verduidelik ook dat mense dikwels op ’n onbewustelike vlak inligting van ander weerhou, iets wat verhoed het dat sy sekere mense volhoubaar met lewensafrigting kon bystaan.

Met die kennis in leuenverklikking kan sy in haar eie praktyk identifiseer waar diegene wat na haar toe kom vir hulp, se werklike probleme lê.

Volkwyn sê mense jok vir twee redes; een is om pyn te vermy en die ander om iets uit die leuen kry. Daar is ook verskeie redes waarom iemand pyn sou wou vermy, of selfs waarom iemand iets deur ’n leuen sou wou verkry.

Dit is dus moeilik om te bepaal watter leuens deur kan glip sonder dat te veel stof daaroor opgeskop word, en watter nie.

Sy meen egter ʼn mens moet versigtig kies watter strydbyl jy oor leuens optel.

Groot korporatiewe maatskappye rig ook dikwels uitnodigings aan Volkwyn om deel van onderhoudpanele te wees. Dit is dan wanneer sy help om fopantwoorde van die kandidaat te identifiseer.

“Al wat ek doen is om te luister na wat die persoon sê en hoe hy dit sê; halfpad deur die onderhoud stop ons en ek sê watter vrae op uitgebrei moet word.”

Volkwyn, wat die ma van drie en die ouma van twee is, se kennis oor leuenverklikking het in die begin oorgevloei na haar gesinslewe. Sy het egter intussen geleer om nie te oplettend te wees wanneer sy ’n gesprek met iemand in ʼn persoonlike hoedanigheid voer nie.

Ná 25 jaar in die korporatiewe wêreld het Volkwyn besluit om ’n beroepsverandering aan te pak deur ’n meesterlewensafrigter te word.

“Ek het mense begin oplei, ek het hulle gehelp om van punt A tot B te kom. Met dit het ek begin besef dat ons almal jok.”

Sy het ’n passie na die vraagstuk van leuens ontdek en in 2013 die pad na Manchester in Engeland gevind om formele opleiding in leuenverklikking te ontvang.

Ná die streng keuringsproses en strawwe opleiding is sy terug Suid-Afrika toe, reg om dié kennis en vaardighede met die mense in haar tuisland te deel.

  • Luister boaan die artikel na die onderhoud wat Maroela Media met Lizette Volkwyn gevoer het.
  • Volkwyn bied op 11 en 12 November vanjaar ‘n werkswinkel by die Centurion Club Country Estate aan. Vir meer inligting of om te bespreek, stuur ’n e-pos na [email protected] of besoek www.lizettevolkwyn.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.