Dis nou goeie maniere by trou-makietie

(Foto: Sinitta Leunen/Unsplash)

’n Oom wat net ʼn bietjie té diep in die bottel gekyk het, die wingerdgriep wat die gaste een vir een huis toe stuur en die bruid en bruidegom wat sukkel om ’n rustige oomblik saam deur te bring.

’n Trou-makietie kan vir groot pret sorg, maar daar is sekere grense wat nie oorgesteek moet word nie. Maroela Media het by troufoto- en videograwe, Sally Breytenbach en Cameron de Wet, oftewel That Other Couple, gaan inloer om meer uit te vind oor die moets en moenies by troues.

Sally Breytenbach en Cameron de Wet. (Foto: verskaf)

  1. Los die kalmeerpilletjie eerder tuis

Volgens die fotograafpaartjie is een van die grootste foute wat baie bruide maak, om te veel kalmeerpilletjies die dag van die troue te gebruik.

“Jy gaan senuweeagtig wees, dit is ʼn gegewe, maar moenie ses Rescues drink nie; jy gaan al die emosies wat jy deur die dag gaan ervaar heeltemal misloop.

“Hou matigheid voor oë, jy kan iets vir die senuwees drink, moet dit net nie oordoen nie,” het Breytenbach gesê.

  1. Grimering, grimering, grimering

Een van die groot kwelpunte is grimering wat deur die loop van die dag voetjies ontwikkel en swart strepe oor die bruid se gesig vorm.

“Aanvaar sommer van die begin af dat jy gaan huil. Gaan vir ʼn proefsessie voor die tyd en maak seker dat jou grimering gaan hou.”

Hulle verduidelik verder dat talle bruide van grimeerkunstenaars se dienste gebruik maak.

“Wanneer die trane tref, is die grimeerkunstenaar al weg. Dan sit jy met die gebakte pere. Maak seker dat die grimering wat jy die dag op jou gesig het teen trane bestand is.”

Hulle het ook voorgestel dat die bruid ʼn noodtassie met grimering reg het vir die dag.

  1. Knope gaan waai

Die einste noodtassie moet ongetwyfeld ook ʼn naald en garing insluit.

“Dis altyd die knopies wat afbreek; ek kan nie eers die hoeveelheid kere tel wat ek al knope weer moes vaswerk nie. Gewoonlik is daar nie ʼn naald en garing nie, so jy moet maar plan maak,” vertel Breytenbach.

Sy en De Wet staan self op trou, en dié het skertsend bygevoeg dat indien Breytenbach op knopies op haar trourok aandring, sy moet seker maak dat dit stewig sit.

  1. Stiptelikheid is goeie maniere

“Die bruid is altyd laat. ʼn Paar minute is seker nie die grootste krisis nie, maar dis eintlik sleg wanneer die bruid die gaste vir té lank laat wag.”

Die groter doring in die vlees vir dié twee is wanneer gaste laat by die troue aangeploeter kom.

“Stel jou net voor, die bruid was al kláár ʼn halfuur laat, en nou kom jy ná haar daar aan.”

  1. Wingerdgriep kraai koning

Wanneer die bruidegom en dié se strooijonkers die aand voor die troue aan’t kuier raak, is dit ʼn gegewe dat wingerdgriep die vrolikheid van die troudag gaan demp.

“Moenie die aand voor die troue kuier asof dit dan al die groot partytjie is nie. Dit het al menige kere gebeur wat ons by die troue aankom en die ouens in flenters kry omdat hulle die aand voor die tyd te veel gedrink het,” het De Wet gesê.

Die twee stel voor dat indien daar die aand voor die troue gekuier moet word, dat dit met matigheid voor oë gedoen word.

  1. Vir die gas: los jou slimfoon eerder in jou sak

Talle gaste wil graag die oomblik op hul slimfone vasvang, maar volgens De Wet en Breytenbach veroorsaak dit dikwels dat die opneem van sekere dele van die diens sneuwel.

“As jy voor ons kameras inspring, verloor ons die geleentheid om die oomblik vas te vang. As jy nou ʼn foto of video móét neem, doen dit op so ʼn manier dat dit nie in die pad van die videograaf staan nie.”

Talle bruidspare verkies deesdae om die gaste vooraf te vra om die slimfone liefs in hul motors of in hul sakke te los.

  1. Seremoniemeester (of -monster?)

Die seremoniemeester kan die troue maak of breek.

“Jy kry twee soorte seremoniemeesters: die een is baie georganiseerd maar redelik vervelig, die ander totaal en al ongeorganiseerd maar skreeusnaaks. Die geheim is om ʼn perfekte mengsel van die twee te kry,” verduidelik Breytenbach.

Die paartjie het ook verduidelik dat ouderdom ʼn rol in die kies van ʼn seremoniemeester speel.

“Jy moet jou gaste ken. Wanneer hulle deel van die ouer garde is, kry iemand uit hul portuurgroep wat grappies sal vertel waarby hulle gaan aanklank vind. Dieselfde reël geld wanneer die grootste gros van jou gaste jonger is.”

Hulle het ook benadruk dat die seremoniemeester gemaklik voor mense moet wees.

“Jou pel kan dalk vreeslik snaaks om die braaivleisvuur wees, maar dit beteken nie noodwendig dat hulle gemaklik voor mense is nie.”

  1. Liedjiemeester

“Mense vergeet dikwels hoe belangrik ʼn goeie platejoggie is. Nie almal kan ʼn vertrek goed lees nie, en dis belangrik dat die musiek reg vloei.”

Dis ook belangrik vir die gaste om te onthou dat die platejoggie nie noodwendig die liedjies gaan speel waarvoor die gaste deur die loop van die aand gaan vra nie.

  1. Aan die bruidspaar: bring genoeg tyd saam deur

“Dit gebeur dikwels dat die bruid op een plek is en die bruidegom op ʼn ander. Julle is nou een, beweeg saam.”

Die einste reël moet deur die gaste ook in ag geneem word.

“Ons weet jy wil ook saam met jou vriend of vriendin ʼn ou ietsietjie drink om dit te vier, maar onthou, hy of sy is nou getroud. Doen moeite om albei in te sluit.”

  1. Laat ons dans

Wanneer die oomblik vir die eerste dans aanbreek, stel die twee voor dat die gaste dit eerder veilig moet speel.

“Jy weet nie wat die bruidspaar beplan het nie, jy weet nie wat hulle verkies nie. Speel dit eerder veilig en wag vir die volgende liedjie om te begin speel voordat jy begin dans, laat die hulle die oomblik geniet.”

  1. Oor (argaïese) tradisies

Een van die tradisies waaraan die paartjie ʼn broertjie dood het, is wanneer die tyd aanbreek vir die bruidegom om sy toespraak te lewer.

“Dis veronderstel om ʼn mooi oomblik te wees, en dit word gewoonlik ontsier deur die mans wat voor gaan sit,” vertel De Wet.

  1. Gaste, dit gaan nie oor jou

Dit is vir die twee belangrik dat die bruidspaar se wense gerespekteer word, ongeag van die gaste se menings daaroor.

“Daar is ʼn goeie rede waarom hulle sekere besluite geneem het oor die troue. Of hulle meer modern of meer tradisievas is, dit bly hul keuse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.