Dogter onthou geliefde kunstenaar Wim Bosman

Louis die Laeveld Leeu. (Foto: Lapa Uitgewers)

“Hy was so deel van die Afrikaner-volksmond, ʼn paar generasies het grootgeword met hom as deel van hul daaglikse dosis humor en het hom gevolg soos sy karakters ontwikkel het en nuwes bygevoeg is.”

So onthou Chantal Hoole haar pa Wim Bosman, die bekende kunstenaar wat lewe in Louis die Laeveld Leeu en sy vriende, Bobbejaan en sy verlangse neef Werfbobbejaan, Floors die vlakvark en talle ander karakters geblaas het, wat gereeld in Suid-Afrika se dagblaaie te siene was.

Bosman, wat op 7 Desember sy 83ste verjaarsdag sou vier, is op 28 November in Wolmaransstad aan longontsteking dood. Hy het in Junie vanjaar sy laaste strokiesprent geteken.

Hoole onthou ook haar pa as ʼn terggees.

“Hy het altyd die humor in enige situasie na vore gebring. Soms was ons as familie ietwat verleë oor die tergery waaraan hy byvoorbeeld die kelners in ʼn restaurant onderwerp het, of as hy by ʼn betaalpunt in ʼn winkel staan of stap in die straat.

“Selde het hy twee sinne geuiter sonder om iemand se been te trek. Met die jare het ons sy humorsin leer ken en verstaan, maar buitestanders kon dit nie altyd snap nie en dan moes ons inspring en die saak beredder,” vertel sy.

Bosman se as sal in die nuwe jaar gestrooi word en daar sal ʼn klein gedenkdiens by die geleentheid plaasvind. “My pa was nie een vir groot partytjies en baie mense nie. Hy was ’n uiters private mens en het nie in die kollig belanggestel nie.”

Bosman se gesin oorweeg egter nog waar die seremonie gehou moet word.

“Ons het in 1973 Laeveld toe verhuis uit Pretoria. Daar het my pa ʼn stukkie grond gekoop aan die voet van Renosterkop [sowat 13 km vanaf Nelspruit] en ons familiehuis ontwerp en begin bou. Dit sou ons ‘forever‘-plekkie gewees het, maar hy het besef daar is nie genoeg water daar om voort te gaan en daar te bly nie. Dit was baie hartseer,” sê sy.

Dit is ook hier, in Nelspruit, waar sy idees vir Louis die Laeveld Leeu ontwikkel het. Hoole sê die gesin was dikwels tydens hul kinderjare in die Krugerwildtuin. “Ek glo die geboorte van Louis het deels daarmee te make. Sy karakters was ʼn uitlaatklep vir sy oorvloed kreatiwiteit.

“Tesame met sy vlymskerp sin vir humor, was dit ʼn natuurlike vloei van gebeure dat sy spotprente vorm aangeneem het wat sy liefde vir die Laeveld, die natuur en sy kunssinnigheid in die talle diere-karakters ten toon stel,” sê Hoole.

oos-vrystaat-deur-jb

Landskap in die ooste van die Vrystaat. Foto: Juanita Badenhorst.

Die gesin oorweeg ook die Oos-Vrystaat, omdat Bosman só ʼn liefde vir die streek gehad het. Hoole vertel dat haar pa talle kere die dorpe in die streek besoek het. “Hy het een keer vir my vertel dat hy dink dit is hoe dit in die hemel lyk. Sy laaste besoek daar was in Desember 2017.”

Buiten sy talent om die humoristiese strokiesprente te teken, het hy ook vele ander verborge talente gehad. Min mense het geweet dat Bosman opera gesing het saam met die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste, dat hy ʼn digter was, geskilder het met water- en olieverf, asook met pastelle geskets het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boer-in-die-Wind ·

Van kindsbeen af, toe ek nog koerante met die fiets afgelewer het, was Louis die Laeveld Leeu deel van ons streekskoerant.

Dankie Wim Bosman.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.