Eerste blinde persoon slaag wyndiploma

Jacques Lombard (Foto: Verskaf)

In 1996, toe Jacques Lombard sy sig verloor het, het hy nie tou opgegooi nie. Inteendeel, hy het bo sy omstandighede uitgestyg en steeds sy drome uitgeleef.

Vandag is hy ʼn entrepreneur, eienaar van sy eie sakeonderneming en belegger. Hy het onlangs sy Cape Wine Academy-diploma voltooi, terwyl hy ook met die Cape Wine Master-program begin.

Lombard vertel dat hy nog altyd ʼn voorliefde vir wyn gehad het. Hy het in 1997 by ʼn wynklub aangesluit wat spesifiek vir blinde mense geskep is. Die klub is gestig deur Hermann Kirschbaum van Buitenverwachting omdat hy oortuig was daarvan dat blinde mense beter proe as ander mense. Die klub bestaan al 24 jaar lank.

Lombard het toe meer geïnteresseerd geraak in wynkunde toe iemand vir hom vertel dat hulle slegs bekroonde wyne drink. Hy wou dadelik weet wie die beoordelaars by hierdie soort kompetisies is en hoe ʼn mens een van die beoordelaars kan word.

Hy het ingeskryf om die South African Wine-kursus aanlyn te doen en het daarna ʼn hele rits ander kursusse ook voltooi. Jacques het sy diploma in 2019 met vlieënde vaandels voltooi. Hy het 82% vir sy proe-eksamen gekry wat die beste punt in die klas was.

“Hoe meer ek geweet het, hoe meer wou ek weet. Dis amper soos geld, liefde, ruimte en kennis: hoe meer jy het, hoe meer wil jy hê.”

Sy pad was wel nie net maanskyn en rose nie, en hy moes ekstra moeite insit om sy eksamens af te lê. “Een uur se studeer vir ʼn normale mens neem vyf uur vir ʼn persoon sonder sig,” sê hy.

Lombard moes ook iemand betaal het om die kursuswerk vir hom te lees en te help studeer. Hy het al sy eksamens mondeling by die Cape Wine Academy-kantore afgelê.

“Dit vat ʼn hele dag om een vraestel te voltooi. My assistent het die vrae aan my voorgelees en ek het die antwoorde dikteer.”

En, hoe het hy die praktiese eksamen afgelê? “Iemand het vir my die kleur van die wyn beskryf en ek het die res van die proe-eksamen self gedoen,” vertel hy.

Lombard sê die sleutel tot wynproe is om by die wenresep te hou: voorkoms, reuk, proe, en dan ʼn gevolgtrekking. “Jy kan nie verkeerd gaan as jy by die resep hou nie,” sê hy.

Hy sê dat die blindheid sy brein meer ingestel het om op sy ander sintuie staat te maak.

Hy glo ook dat sy neus baie beter as sy palet is. “Ek ruik dinge wat ander mense nie maklik kan ruik nie. Ek kan onmiddellik sekere eienskappe en foute identifiseer,” sê hy.

Lombard sê hy hoop om ander blinde mense te inspireer en dat hy meer as gewillig is om hulle te help.

Lombard glo daaraan om sy lewe voluit te leef. Hy is al 24 jaar lank getroud met sy vrou, Petro, en het ʼn 16-jarige seun, Daniel. Hy is lief vir fietsry en doen jaarliks die Cape Argus op ʼn tandemfiets.

“Baie mense dink dit is ʼn doodsvonnis wanneer jy jou sig verloor. Jy moenie jou gestremdheid as ʼn verskoning gebruik nie. Jy kan beslis steeds enigiets bereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SomeOne ·

wat ‘n wonderlike voorbeeld is dit vir ander wat gestremd is en niks wil doen nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.