Erfenis van ’n familienaam

Isabel Groesbeek in die FAK se Afrikaanse liedjietuin. (Foto: Seugnet van Zyl)

Deur Elize Perrin

Wat het ’n familienaam en ’n ietermago in gemeen? Albei word bedreig.

Alhoewel dit dalk ’n tong-in-die-kies en ietwat oordrewe stelling is, stem Isabel Groesbeek saam dat daar tog waarheid insteek. Isabel beoefen reeds twee en dertig jaar haar passie vir genealogie en is ook onlangs aangestel as  FAK-konsultant om ’n genealogiese lessenaar, ter aanvulling van die Afrikanergeskiedenis platform, te vestig.

’n Paar geslagte gelede was dit ondenkbaar dat kinders nie familiename sou kry nie. Dit is algemeen aanvaar dat die oupa aan vaderskant se name aan die oudste seun oorgedra sal word en so ook die ouma aan moederskant se name aan die oudste dogter.

Sodanige vernoemings het ook dikwels tot onmin gelei aangesien ander kleinkinders afgeskeep kon voel omdat die oupa en ouma se naamgenote voorgetrek sou word. Groter erfporsies aan naamgenote het ook al baie ongelukkigheid veroorsaak. Staaltjies word ook vertel van kinderlose egpare, of oujongkêrels, wat familielede sou nader om hulle te vernoem. Dit het gewoonlik gepaard gegaan met die belofte van ’n groot erfporsie aan die kind. En dan is daar die dogters wat dikwels moes swaar dra aan seunsname omdat daar geen of te min seuns in die gesin was.

Vandag sien dinge baie anders daaruit.

“Dit is nie net ’n persepsie dat mense minder familiename gee nie,” sê Isabel. “Ek reken dit is meer dikwels die geval veral met betrekking tot dogters. Die interessante tendens is dat ouers ook nuwe voorname skep deur kombinasies van gedeeltes van die ouma se twee of drie voorname. Ek moedig families aan om dan die herkoms van ’n voornaam as deel van hul storie te beskryf.”

Die feit dat minder ouerpare familiename gee, beteken nie dat naamgewing nie vir hulle belangrik is nie. Die saak word steeds met groot erns benader.

Menings

Vir Marietha Dignon (48) het die naamgee van haar kinders nie ’n groot kopseer veroorsaak nie. Elrie was altyd vir haar ’n mooi naam en dit het goed uitgewerk as ’n kombinasie van die twee oumas se name. Haar seun het een van sy pa en een van sy oupa aan vaderskant se name gekry, want hy is die enigste kleinseun in die Dignon familie.

Franco Koen (21) het familiename en hou van die idee.

“Dit voel of ek en my oupa ’n band het wat anders is as met sy ander kleinkinders,” sê hy. “Ek weet nie of dit is oor ek ’n seun is en of dit oor die familiename is nie.”

Alhoewel Franco se ouers self nie baie gesteld is op familiename nie, is hy trots daarop dat hy na sy oupa vernoem is en hy waardig genoeg geag word om die familiename te dra. Franco is verloof en noem dat hy nie eendag vir sy dogter familiename sal gee nie, maar dat dit ’n seun se plig is om deur familiename die erfenis te laat voortleef.

Cobus Blignaut (31) is na sy oupa aan moederskant vernoem en is gelukkig met sy familiename. Met sy geboorte was sy oupa reeds oorlede.

“Ek het dus nie ’n voorbeeld van sy persoonlikheid en wie hy was, gehad nie. My name, Jacobus Daniël, het vir my meer waarde gekry toe ek die Bybel beter leer ken en verstaan het. Soos ek meer volwasse geraak het, het ek gepoog om die karaktereienskappe van die twee Bybelse karakters na te streef.”

Cobus en sy vrou het lank na name vir hul seuntjie gesoek. Hulle wou nie die Blignaut familienaam gee nie aangesien Cobus voel dit is die voorreg van sy ouboet om die naam aan te gee. Alhoewel Cobus ten gunste van familiename is, voel sy vrou nie so sterk daaroor nie. Die betekenis van name is egter vir albei belangrik. Met bevestiging van Bo is besluit op die Bybelnaam David vir hul seun. Indien hul met nog kinders geseën word, sou hulle, volgens Cobus, wéér Bybelname wou gee.

Izanne en Ruani Smit (26) is ’n tweeling en albei nog jonk getroud.

Izanne meen familiename was belangriker in die verlede as nou. Volgens haar kan die gebruik konflik veroorsaak oor wie vernoem moet word. Sy vind dit ook ongemaklik dat ’n pa en seun dieselfde name het en daar voortdurend na senior en junior verwys moet word.

“Ekself sal my kinders name wil gee wat maklik gespel word sodat die kind nie elke keer die naam vir mense moet spel nie en wat ook maklik in Engels uitgespreek kan word,” sê sy.

Ruani was nog nooit ’n aanhanger van familiename nie. Haar man het wel die Duitse familiename.

“Nou voel dit of ons ’n stukkie geskiedenis en familietrots verlore sal laat gaan as ons nie vir ons toekomstige seun familiename gee nie,” meen sy.

Sy en haar man beplan om te immigreer en sal name oorweeg wat maklik in die nuwe landstaal uitgespreek kan word. Sy is sterk gekant teen familiename wat aan die teenoorgestelde geslag van kinders gegee word.

“Moenie jou kinders se lewe vir ewig versuur nie,” sê sy.

Stambome

Volgens Isabel groei belangstelling in familiestambome wêreldwyd. Alhoewel die meeste navrae deur middeljariges gedoen word, vertel sy dat die jonger geslag wat hul eerste kind verwag, oor naamgewing wonder en dan navraag oor hul herkoms doen.

“In Suid-Afrika het die inperking mense meer laat besef watter dinge werklik waarde het en hulle meer op persoonlike erfenis laat fokus,” sê Isabel. “Die media doen ook meer navraag en op die Facebook-blad Families Info SA, ontvang ons weekliks nuwe navrae.”

Op ’n vraag of die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) ook behulpsaam is om aangenome kinders se biologiese ouers op te spoor, noem sy dat daar navorsers is wat daarop fokus. Sy gee net rigtingwysers deur persone na ’n maatskaplike werker en registrateur van aanneming te verwys.

“Ná die biologiese ouers gevind is, help ons met die opspoor van die voorouers.”

Diegene wat belangstel om ’n eie stamboom te skep, kan www.myheritage.com besoek.

Besoek die FAK se Genealogiese lessenaar hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adam Adriaan ·

My voorvader het in 1671 in die Kaap aangekom. Van daar het ek die stamregister tot by my seun. Een van my oupas het met Maria Adriaana Tas getrou. Dogter van Adam Tas. Van daar my name Adam Adriaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.