Gemeenskap kan help met vroue, kinders wat by verkeersligte bedel

bedelaar-armoede

Argieffoto.

Die verkeerslig is rooi en die motors stop op ʼn streep. Daar, in die middel van die oorgang, staan ʼn vrou met ʼn baba op die rug. Nog ʼn kleuter staan voor haar en waai vir die mense. Die kind glimlag breed. “Ice cream,” sê sy vir dié wat haar kan hoor. Van vroegdag tot laatmiddag staan hulle daar, en gaan dan huis toe ná die dag se “werk”.

Amper elke padoorgang het sy kind, en die probleem word steeds groter. Hierdie probleem, wat gereeld by CMR Gauteng-Oos se kantore aangemeld word, skep morele, gesondheids- en ander probleme. Die departement van gemeenskapsontwikkeling hou ook ʼn oog oor hierdie mense.

Takudzwa Madhina, maatskaplike werker van CMR Gauteng-Oos se Faerie Glen-kantoor, sê dit is egter ʼn verwikkelde probleem. Vroue gebruik babas en kinders – nie net hul eie nie, maar selfs geleende kinders – om op mense se gevoelens te speel. So ʼn ma met ʼn baba op die rug kan emosies van bejammering, selfs skuldgevoelens, wek by mense wat dan geredelik geld gee.

“Ons gaan uit en gesels met die vroue. Daar is verskillende situasies. Die meeste van die vroue is onwettig in die land, en weens ʼn gebrek aan wettige dokumente kan hulle nie werk in die formele sektor kry nie – met die nuwe verwikkelinge en voorgestelde wetgewing, selfs minder as voorheen. Baie van hulle woon in groepe in woonstelle in die stad, terwyl ander lang afstande van hul blyplek tot by hul verkeerslig aflê. Die uitdagings is groter in dele wat as meer gegoede gebiede bekendstaan,” verduidelik Madhina.

Volgens hom verdien van die vroue soveel geld dat as daar voorgestel word dat hulle skoonmaakwerk kan kry, hulle blatant nee dankie sê. Van hulle beskryf hul bedelary as hul beroep. “Easy money”, noem Madhina dit.

Madhina vertel dat ʼn vrou ʼn kospakkie wat hy haar wou gee, geweier het. Sy het verduidelik dat sy aan die einde van haar dag vir haar kos by Woolies gaan koop; die kospakkie het nie in haar smaak geval nie.

Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos, sê maatskaplike werkers se hande is afgekap. “Die wet gee ons nie ʼn mandaat om so ʼn kind net van die vrou af weg te neem nie, aangesien dit nie onwettig is nie. Die Kinderwet sê egter ’n kind mag nie misbruik of verwaarloos word nie, maar hoe word dit bewys? Lede van die publiek wat hierdie gevalle by ons aanmeld, is bekommerd oor die kinders wat in wind, weer en siedende sonskyn blootgestel word aan die verkeer. Dit voldoen beslis nie aan wat van ʼn ouer of versorger verwag word nie. Dan is daar natuurlik ook die feit dat hierdie kinders geen voorbereiding kry om skool toe te gaan nie, en baie van hulle maak dit ook nie tot in ʼn skool nie.”

Madhina beklemtoon die feit dat hierdie siklus hom maklik kan herhaal. Wat is ʼn kind se voorland wat geleer word om te bedel en nie skool toe gaan nie? Om self te bedel – of nog erger – ʼn misdadiger te word omdat hy nie vir homself kan sorg nie.

Hy noem dat van die vroue geensins bekommerd is oor die kinders wat hulle so blatant as lokaas gebruik nie. Die feit dat hulle hul dae deurbring langs strate, sypaadjies vir toiletgeriewe gebruik, nie reg gevoed word nie, onveilig en sonder opvoeding grootword, is nie vir die vrou ter sprake nie. Hulle beskou dit doodgewoon as hul lewensomstandighede.

Van der Merwe wys daarop dat die probleem alomteenwoordig is. “Die spreekwoord dat ʼn mens net iemand kan help wat gehelp wil word, is so waar. Van die vroue wil hul omstandighede verbeter en sal hulp aanvaar, maar hulle is in die minderheid.

“Vanuit ʼn oogpunt van maatskaplike hulp kan die probleem slegs hokgeslaan word as almal saamwerk. As lede van die publiek ophou om die bedelaars te ondersteun, sal hulle genoop word om ʼn manier te vind om ʼn bydrae tot die samelewing te kan lewer, maar dit is ʼn langtermynvisie. Dit is ʼn verwikkelde situasie wat ʼn multifaktoraanslag benodig en nie oornag opgelos kan word nie,” sluit sy af.

CMR Gauteng-Oos se 13 kantore in Pretoria reik jaarliks na meer as 27 000 mense uit.

  • Kontak CMR Gauteng-Oos se hoofkantoor by 012 361 4619 of die naaste tak van ʼn welsynsorganisasie vir meer inligting of hulp.
  • Besoek die CMR Gauteng-Oos se webblad of Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kobus ·

Vraag is waarom hulle dan nie Onwettige immigrante behandel word en teruggestuur word na hulle land van herkoms nie? Ek sal ook nie geld skenk nie. Nog ‘n bekommernis is die bedelaars wat in die middel van die pad by verkeersligte op hulle kniee bedel. Indien so ‘n persoon raakgery sal / gaan word, wat is die gevolge vir die motorris? Kan nie verstaan waarom SAPS / Metro / Verkeersbeamptes hierdie mense nie verwyder nie. Soos die berig lui, hulle stel nie belang in kos nie, slegs geld. Ek kan nie eens Woolies bekostig nie, maar hierdie mense rook, besit beter selfone as die meeste van ons en ons barmhartige samaritane doen ons Christelike plig om te skenk.

Janine ·

Ons het seker omtrent 10 jaar laas by Woolies gekoop. Kan dit nie bekostig nie. Meeste wat so bedel WIL NIE WERK nie.

Deon Ronald ·

Dit is onwettig om by die verkeersligte te bedel of smous selfs om deur tot deur te gaan. Sommige mense ken net die wet wanneer dit hulle pas. Die instansies se begrotings laat dit nie toe nie al is dit hulle plig. So nou kan hulle nie hulle werk behoorlik doen nie …korupsie kos die land baie meer as wat daar erken word. Praat meer en gereeld oor die skade wat ons land ly …en voed die volk met kennis.

piet ·

Hier is ‘n bedelaar hier naby wat naby een van die groot winkelsentrums by ‘n verkeerslig staan. Ek praat gereeld met haar. Hulle kry baie geld hoor. Ek het al vir haar gevra hoekom sy nie liewer iets verkoop nie, toe se sy sy sal nooit soveel geld kan maak as wanneer sy bedel nie. Ek het juis vanoggend met haar gepraat toe se sy die motormaatskappy net oorkant die straat het vanoggend ‘n volle R1000 aan haar oorhandig wat die personeel blykbaar oor ‘n tydperk ingesamel het. Ook een met ‘n klein dogtertjie, mense kry die kinders jammer. Ek dink sy pocket nogal heelwat want sy staan ook nie elke dag daar nie, seker so 3 dae in die week.

Akhenatha ·

Dankie vir hierdie artikel. Ek hoop ALMAL lees dit en DOEN dit. As mense ophou geld gee, sal hulle ophou kinders uitbuit. NIEMAND moet langs die pad staan nie. Daar is organisasies wat help, maar dan is daar reels – wat hulle nie wil volg nie.

Manie ·

Ons plaaslike buurtwag groep ontmoedig inwoners ook om kos op die asblikke te los op blikdag. Dit lok al meer “bin scratchers” en gepaardgaande daarmee, misdadige elemente. Die straatbewoners word by die week meer en sommiges raak agressief indien jy nie wil gee nie. Daar is deesdae in die stede omtrent nie ‘n park of oop stukkie grond wat nie deur straatbewoners beset word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.