Ivermektien en die man op die maan

Vos le Roux wys die dubbelbladadvertensie wat op 23 Februarie 1983 in die landboutydskrif “Farmer’s Weekly” verskyn het. (Foto: Verskaf)

Deur Jan Bezuidenhout

Neil Armstrong, wat op 20 Julie 1969 die eerste mens op die maan was, het in 1983 ʼn medikasiemiddel wat veeartse gebruik met ivermektien as hoofbestanddeel in Suid-Afrika bekend gestel.

Dié middel, Ivomec Liquid, was só vol belofte dat MSD Agvet (Agricultural and veterinary chemicals), die landbou-farmaseutiese maatskappy wat dit in Suid-Afrika bemark het, dit vergelyk het met Armstrong se eerste woorde op die maan: “One small step for man… one giant leap for mankind”.

Ivermektien is om ander redes nou in die kollig: Sommige Suid-Afrikaners gebruik veemiddels met dié bestanddeel as teenvoeter vir Covid-19, hoewel dit nie vir menslike gebruik geregistreer is nie.

Op 21 Februarie 2021 is dit 38 jaar sedert Neil Armstrong dié unieke bekendstelling in Suid-Afrika kom doen het. Maar anders as die maanlanding, het Neil se besoek hier nie heeltemal seepglad verloop nie.

Vos le Roux, ʼn legende in die veebedryf oor sy betrokkenheid by MSD Agvet, is die man wat die gedagte gekry het om Armstrong na Suid-Afrika te nooi vir die bekendstelling van die nuwe veemiddel. Le Roux, vandag 80 jaar oud en saam met sy vrou, Elize, afgetree op Hermanus, vertel aan die hand van sy plakboeke van Armstrong se besoek aan Suid-Afrika.

Met ʼn vonkel in die oog skets hy hoe alles gebeur het:

“Ons was baie opgewonde oor die nuwe middel Ivomec Liquid en in ʼn bespreking oor die bemarking daarvan, het ek voorgestel ons moet Neil Armstrong in die hande kry – spesifiek oor sy gevleuelde woorde op die maan. My kollegas was redelik uit die veld geslaan en het gesê dit sou nie moontlik wees nie. Maar my een kollega, die Skotse veearts dr. John Davidson, het gesê hy sal Neil probeer kontak.”

Neil het ingestem. Dit sou MSD Agvet R30 000 kos, nogal baie geld vir daardie jare.

(Neil Armstrong het ʼn lang verbintenis met die landbou gehad. Hy is op 5 Augustus 1930 op sy oupa se plaas in Ohio gebore en het in 1961 ʼn plasie van 81 hektaar naby die dorp Lebanon gekoop, waar hy met beeste en gesaaides geboer het. ʼn Jaar ná die maanlanding op 22 Julie 1969 het hy by Nasa afgetree en na Ohio teruggekeer. Hy was van 1971 tot 1979 professor in lugvaartingenieurswese by die Universiteit van Cincinnati en het ná lesings teruggery plaas toe. Neil Armstrong is in 2012 oorlede. Bronne: Wikipedia en Cincinatti.com)

Die hele projek oor Neil se koms na Suid-Afrika is geheim gehou. Net vier mense het daarvan geweet. Dit was Vos, dr. John Davidson, Retief Kotzé, besturende direkteur van MSD Agvet, en Gert Heunis, die skakelman.

In dubbel- en volbladadvertensies in landboupublikasies is dié nuwe produk soos volg beskryf: “1983: MSD Agvet takes a giant step forward for parasite control in sheep. Ivomec Liquid is ivermectin, a unique new chemical compound unrelated to any other parasite-control product, its convenience wide range of activity and safety make it an ideal product to kill many of the dangerous parasites that plague sheep”.

Vos-hulle het die eerste nuuskonferensie in die Beach Hotel in Durban gereël vir 21 Februarie 1983.

“Ons het die hele nagklub in die hotel vir die bekendstelling bespreek en ʼn replika van die maantuig is gebou om atmosfeer aan die gebeure te gee. Die bekendstelling sou met rook, ligte en selfs die klankbaan van Neil se woorde op die maan gepaard gaan.

Toe Vos vir Neil na die nagklub neem om hom te wys wat hulle beoog, het die ruimtereisiger gesê: “This is bloody awful – I won’t have anything to do with it.”

Vos sê hy het sy as afgeskrik en Neil probeer paai, maar die promosie in die nagklub was van die baan.

“Neil het my duidelik laat verstaan dat hy nie oor politiek, godsdiens of die maan met enigiemand gesels nie. Ons projek was doodgebore. Die sowat 30 joernaliste wat genooi was, het maar droëbek inligting oor die nuwe middel ontvang. Omdat Neil nie oor die maan wou gesels nie, het een van die Durbanse joernaliste skertsend geskryf dat ivermektien gemaak is uit verf wat van die ruimtetuig afgekrap is.” En Vos wys die knipsel.

“Ons tweede bekendstelling was in Bloemfontein, en ek het by Neil gepleit om tog die uitsondering te maak om, weens al ons moeite, met die media te gesels oor die maanlanding. Hy het toe ingestem.

“Tydens sy praatjie kon jy ʼn speld hoor val: Neil het vertel van die duisende mense wat by die Apollo 11-projek betrokke was, asook gebeure op die ruimtevlug en die maan. Dit was ʼn wonderlike aanbieding, en publikasies en radiouitsendings het dié boodskap wyd uitgedra. Ek het hom gevra wat die kans was dat hy van die maan af sou terugkeer aarde toe. Neil het gesê sy kans was 50/50 dat hy sou terugkom. Ek was diep geraak!”

Neil Armstrong het dié advertensie onderteken. (Foto: Verskaf)

Maar dit was nog nie einde van Vos se bontstaan met dié ruimteman nie: Op die Bloemfonteinse bekendstelling moes Neil ʼn skaap met die Ivomec Liquid doseer. Hy vra Vos toe wat is in die toediening. Vos sê dis water, want dis net vir die vertoon, vir doeleindes van die foto. Neil se antwoord was dat hy net die dosering sal doen as dit die werklike produk is.

“Dis oneties om dit met water te doen.” Dít was Neil Armstrong, sê Vos.

Ná die bekendstelling, toe Vos vir Neil na die Bloemfonteinse lughawe neem om vir ʼn kort besoek wildtuin toe te vlieg, het een van die grondwaardinne by die inweegtoonbank Neil se paspoort gelees en vir haar kollega gesê: “Weet jy wie is dit dié? Dis die man in die maan.”

Die tweede meisie vra hom toe: “Sir, how is it on the moon?”

Vos sê hy het gevrees oor wat Neil se reaksie sou wees. Maar die koel antwoord was: “Quiet, my dear, very quiet.”

Een van die dinge wat Vos van Neil onthou, is wat hy oor sy maanekskursie gesê het: “I could tell you that there is a god out there.”

Vos sê dié projek met Neil het die beste bewustheid van alle ander bekendstellings van die maatskappy oortref.

“Ons het binne twee maande ʼn 82%-bewustheid behaal. Dit was die hoogste nog vir ʼn nuwe produk.”

Nou ja, verskeie mense beskou ivermektien as ʼn wonderkuur teen Covid-19. ʼn Mens kan net wonder wat Neil Armstrong daaroor sou sê!

Ivermektien is in 1975 uitgevind en William C. Campbell en Satoshi Ōmura het in 2015 die Nobelprys vir geneeskunde daarvoor gekry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Stefaan ·

Daar word plaaslik Ivermetien vervaardig vir menslike gebruik wat deur die Wereld Gesonheids Organisasie goed gekeur is.

Eendrag ·

God met n kleinletter gespel.Is dit nou om polities korrek te wees??? Vra maar net.

Wielspore ·

Dit is korrek om die woord god met kleinletters te gebruik in ‘n sin as ‘n selfstandige naamwoord.

OW ·

As daar van die God van Israel gepraat word in enige sinsverband,word dit altyd met ‘n hoofletter geskryf.

Anti-Verkramp ·

‘n Entstof word gemaak van deeltjies van die organisme wat die siekte veroorsaak.

Anti-Verkramp ·

Soos destyds die geval was, is daar baie skapies wat dit nou wil probeer.

Eend Bessinger ·

Miskien, as ons ‘n soortgelyke veldtog van stapel stuur, kan daar van Ivermektien se probleme uitgestryk word…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.