Jong Rus wen ATKV-spelathon

Dasha Levanets by die finaal van ATKV-Spelathon 2019. (Foto: Des Janse van Rensburg)

Toe Dasha Levanets saam met haar ouers na Suid-Afrika geïmmigreer het, kon sy slegs Russies en Oekraïens en ʼn klein bietjie Engels praat, maar nóú is dié Rus ʼn Afrikaanse spelkampioen.

Dasha, ’n matriekleerder aan die Hoërskool Ferdinand Postma in Potchefstroom, het gewys sy het ’n slag met tale toe sy die naweek die ATKV-Spelathon 2019 in die afdeling Afrikaans Eerste Addisionele Taal, graad 10 tot graad 12, gewen het.

Dasha berei haar tans voor vir haar matriekeindeksamen en het saam met haar ouers na Suid-Afrika geïmmigreer toe sy ses jaar oud was. Haar huistaal is steeds Russies.

“Dit is eerlikwaar skokkend. Ek het glad nie verwag dat ek so goed sou vaar nie. Ek was baie bly,” sê Dasha.

“Ek was in ’n Afrikaanse kleuterskool en dit is waar ek geleer het om Afrikaans te praat,” vertel sy.

Oor haar belangstelling in Afrikaans sê Dasha dat dit vir haar waardevol was om Afrikaans te leer.

“Daar is so baie mense wat Afrikaans praat. Dit is nie net ’n modus van kommunikasie nie, maar dra ook kultuur en erfenis oor. Dis ’n fassinerende en kultuurryke taal.”

Jolanda Rosin, Dasha se Afrikaansonderwyseres, kan nie uitgepraat raak oor Dasha se talent nie.

“Sy is vir tale aangelê. Ek het nog nooit so iets gesien nie. Dasha is begaafd en leergierig.”

Dasha is nog nie seker wat sy ná matriek gaan doen nie, maar stel belang in forensiese rekeningkunde en dataontginning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tienie

Mooi so, Dasha! SA is trots op jou. Jou leergierigheid en harde werk sal jou nog ver bring!

Lee

Dis nou ;n GROOT – “WOW” !!!!

Baie geluk jonge meisietjie !

J

Hierdie spreek dele oor Afrikaansprekendes. Ek volstaan met my mening dat Afrikaans nie deur politiek bedreig word nie maar deur die sogenaamde Afrikaansprekendes self. Hulle behandel hulle taal soos wat ‘n 6-jarige sy speelgoed behandel, hy mors daarmee en verniel dit maar sodra jy dreig om dit weg te neem wil hy ‘n vloermoer gooi. Ek krimp daagliks ineen net met dit wat op RSG geuiter word, wat nog van spelling en grammatika in die openbare domein.

Melanie

Baie geluk Dasha. Dit is nou ‘n kind om op trots te wees!

Boskind

Baie geluk Dasha!!! Dankie dat jy ons pragtige taal Afrikaans so waardeer!
Van ‘n trotse Hoërskool Ferdinand Postma Mamma