Kanaalreis inspirasie agter Annelie Botes se boek

“Janna!” roep ek boontoe. “Kom drink by my tee, dan vertel ek jou van ʼn plan wat ek uitgedink het.”

Só skryf Annelie Botes in haar nuutste boek, Kammaland, oor die wintersdag in Junie 2017 toe sy haar man, Chris, oorreed het om saam met haar die kanale van Engeland met ʼn boot in te vaar. Min het sy toe geweet dat hierdie einste gedagte maande later ook ʼn bron van inspirasie sou wees.

“Toe man, ek sal Raaiselkind se fliekgeld bylas,” het Annelie daardie dag gemaan, totdat haar Janna in volle vaart begin het om die moontlikheid na ʼn kanaalreis te ondersoek. Weinig mense sou die waagmoed gehad het om spaargeld op ʼn oorsese reis te verkwis, maar vir die Botes-egpaar is avonture veel beter as weelde en aardse besittings.

“Ons het nooit gedink dat ons régtig op so ʼn toer sal gaan nie,” erken sy. Danksy ʼn meevaller kon hulle ʼn kanaalboot vir minder as die helfte van die normale prys privaat by ʼn vrou huur. Drie maande later vaar hulle toe in afsondering die verre vreemde in.

Die kanaalboot waarin Annelie en haar man, Chris, vir een-en-negentig dae gereis het (Foto: Verskaf)

Alhoewel hulle in die winter gereis het, het die titel van Botes se nuutste boek hoegenaamd niks met sneeuwit sprokiestonele te make nie: “Toe ons daar was, het die woord ‘kammaland’ nooit in my kop opgekom nie. Eers toe ek die boek geskryf het, het ek daaraan gedink”.

Op die vraag oor wat die titel vir háár beteken, antwoord Botes soos volg: “Kammaland beteken speel-speel. Dit is ʼn fantasieland wat nie regtig bestaan nie. Ons was regtig op die reis, maar nadat ons terug gekom het, het ons baie dae gevoel asof ons nie werklik daar was nie,” en sy voeg by: “Die kans is goed dat ek my lesers in ʼn ander era gaan plaas.”

Ten tyde van die reis was Botes, tussendeur die oop- en toemaak van sluise, skoonmaak van die boot en kosmaak, boonop nog besig om Kainsmerk, ʼn versameling van haar stories wat vantevore in tydskrifte verskyn het, te skryf. Die gedagte om hulle kanaalreis van meet af aan te dokumenteer was geensins deel van die beplanning nie.

Annelie maak ‘n sluis oop in haar pajamas (Foto: Verskaf)

“Toe my uitgewer my begin pes vir ʼn boek, was ek glad nie gereed daarvoor nie,” vertel Botes. Alhoewel sy nie emosioneel gereed was om die reis te herleef nie, was sy tóg voorbereid: “Ek skryf in Kammaland van ʼn dagboek wat ek gehou het, maar ek het nie. Die kaartspeelboek waarin ons telling gehou het, was my naaste aan ʼn dagboek. Maar toe het Chris my gehelp dat ons al die strokies en whatsapps en e-posse kon deurgaan om te kyk presies waar ons wanneer gereis het.” Botes vertel dat sy daagliks notas in dié kaartspeelboek gemaak het. Oor gebeure, tonele en oomblikke wat hulle saam beleef het. Op hierdie manier kon Botes agterna die hele reis chronologies orden om sodoende hul storie op papier neer te lê.

“Die skryf van die boek het maklik gekom, maar emosioneel het ek baie swaar gekry, want dit was asof ek weer op die reis was” erken Botes. Sy verduidelik dat die laaste helfte van hul reis vir haar uitsonderlik swaar was: “Ek het besef dat ons nou omgedraai het. Ons is nou op pad huis toe. Terug na ʼn plek van onstabiliteit”.

Een van die sluise wat Annelie en haar man, Chris, tydens hul reis oopgemaak het (Foto: Verskaf)

Ondanks die emosionele uitdaging wat Botes ervaar het, het sy hulle reis in ʼn boek omskep wat lesers ook sal meevoer na die kammaland wat húlle ervaar het. Die kreatiewe wyse waarmee Botes alledaagse voorwerpe beskryf, getuig daarvan dat sy haar woorde goed deurdink. Sy skryf op een plek byvoorbeeld dat dit “stokmannetjiekoud” is, in plaas daarvan om bloot na yskoud te verwys. “Soms tik ek die woord, maar dan merk ek dit in kleur. Dan weet ek om ʼn ander woord uit te dink. Soms vat dit weke voordat die regte beskrywing na vore kom,” verduidelik Botes oor haar proses om op ʼn nuwe manier na die alledaagse te verwys.

Deurgaans is die storie ʼn eerlike vertelling van gebeure – selfs Botes en haar man se troetelname vir mekaar. Dit laat ʼn mens wonder of hierdie gegewe moontlik grens aan té veel ontbloting van haar persoonlike lewe. Maar Botes vertel openhartig dat sy haarself oor ʼn tydperk van ongeveer 15 jaar se rubriekskrywes alreeds aan die publiek bekendgestel het en dat hierdie deel van haar storie net nog ʼn doodgewone vertelling van persoonlike gebeure is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Skerp Spioen ·

Goeiemore Annelie,
Baie geluk met jou uitstekende bemarkingveldtog. Dit is indrukwekkend en het beslis gesorg dat ek die boek vir my vrou gaan aanskaf.
Groete

Pandora ·

Annelie, jy bly my gunsteling skrywer en mens. Ek geniet jou eerlike siel en jou waarheid wat ‘n mens aan jou eie skandes en skades laat dink. Ek bewonder jou moed en jou onbeskryflike liefde vir die ou Gryse en syne vir jou. Jy koester mense in jou woorde en stel hulle in liefde bekend. Hoop ons kry nog hope boeke van jou.

My mening ·

Uitstekende skrywer! Sy is regtig in n klas van haar eie. Net soos Dana Snyman.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.