Kersfees in Australië: kyk hoe vier ons dit

Kersfees in Australië. (Foto: Verskaf)

Vir jare was hulle gewoond aan ’n tafel wat kreun onder die oondgeroosterde varkboud, braaivleis en verskillende bygeregte. Families wat saamkuier op Stilbaai, Hartenbos, op ’n agterstoep in Pretoria of op die familieplaas in die Vrystaat. Helaas het misdaad, ’n tekort aan werkgeleenthede en ’n drang na avontuur veroorsaak dat hulle op ʼn vliegtuig na die “Land Down Under” gereis het om ʼn nuwe lewe in Australië te begin. Maar hoe lyk Kersfees nou? Is dit nog dieselfde of moes hulle nuwe tradisies aanleer? Tanya de Vente-Bijker het met ses gesinne in Australië gesels en geleer dat dit steeds ʼn somerson-Kersfees is, maar in plaas van lamsboud eet hulle vis en familie het plek gemaak vir vriende.

Ons mis die Christusfees in Kersfees

Carin Green en haar gesin. (Foto: Verskaf)

Carin en Roland Green en hul vier kinders woon nou al nege en ‘n half jaar in Perth, Wes-Australië. Carin vertel hulle het geëmigreer as gevolg van misdaad. Haar man was ‘n slagoffer van ‘n kaping en was daarna vir agtien maande verlam aan die een kant van sy gesig. Sy sê alhoewel dit nie aldag maklik was nie, het hulle nog nie een dag teruggekyk nie.

Australië het baie kulture, vertel Carin. En as jy nie ʼn gebore Aussie is nie, weet jy nie regtig hoe ʼn tradisionele Kersfees is of was nie.

“Ons ervaar dat Kerstyd meer ʼn tyd is vir feesvier, kuier en geskenke is. Dit is dus eerder meer ʼn festive season.”

Sy sê die ware betekenis van ʼn Christusfees gaan vir haar bietjie verlore. Hulle het dus doelbewus nie meer ʼn Kersboom in hul huis nie, maar ʼn geboortetoneel-uitstalling (nativity set) wat die geboorte van Christus uitbeeld, want vir hul gesin is Kersfees eintlik ʼn Christusfees.

Die geboorte uitstalling wat Carin Green se gesin in die plek van ‘n Kersboom het. (Foto: Verskaf)

Anneke Taljard het in 2005 saam met haar ouers, suster en broer na Australië geïmmigreer. Sy woon in Perth saam met haar (Afrikaanse) man. Sy stem saam met Carin en sê die grootste aanpassing was om te verstaan dat die gemeenskap om hulle Kersfees as ʼn holiday season beskou.

“Vir hulle is dit ʼn lekker tyd om verlof te hê en te eet en drink. Alhoewel dit seker in Suid-Afrika ook so is, gaan dit hier grotendeels oor die geskenke en die kuiers.”

Anneke meen dit is omdat Christenskap nie ʼn algemene verskynsel in Australië is nie.

Melissa Coetzee deel Anneke en Carin se sentiment. Sy en haar man Schalk het in 2011 na Perth verhuis vanaf Pretoria. Sy vertel die meerderheid mense in hul staat, Wes-Australië, kom van verskillende kulture en gelowe.

“Oor die algemeen is Australiërs glad nie gelowig nie en handhaaf hulle ‘n sekulêre lewensbeskouing. Daar is ook heelwat Italiaanse emigrante wat ‘n Katolieke invloed op die gemeenskap het.”

Lamsboud maak plek vir seekos

Izelle Barnard en haar gesin. (Foto: Verskaf)

Izelle Barnard het in 2014 met ‘n Suid-Afrikaanse Australiër getrou nadat sy hom op ‘n 1 300 km-motorfietssafari van Sydney na Yeppoon in 2011 ontmoet het en smoorverlief geraak het. Sy het met haar twee dogters (wat toe tieners was) vanaf Pretoria na Warwick verhuis.

Sy sê Australiërs spandeer Kersfees met hul families, nes Suid-Afrikaners. Hulle barbeque (hul weergawe van ‘n braai) en drink bier. Haar dogter Izabella sê Kersfees in Australië is vir haar sinoniem met garnale op Kersdag en krieket. Australiërs speel krieket op enige publieke vakansiedag. Gabriella, haar ander dogter, dink weer dadelik aan die tipiese pavlova-nagereg wat hulle eet en die feit dat dit ongelooflik warm is.

“Jy moet baie mooi beplan om jou garnale betyds vir Kersdag te bestel, anders kry jy net die oorblyfsels of niks,” vertel Izelle. “En die hitte is beslis erg. In daardie eerste somer in 2015 het ek vir my Ma gesê ek dink my skelet kry derdegraadse brandwonde deur my vel. Die hitte is anders as die hitte in Afrika.”

Nicolette Opperman en haar man woon al nege jaar in Australië en sy sê die seekos vir Kersfees was nogal iets om aan gewoond te raak.

“Dit verskil wêrelde van die oondgeroosterde geregte, bygeregte en poedings vir Kersfees waaraan ek gewoond was. Maar omdat dit so warm is hierdie tyd van die jaar, vermy almal warm geregte.”

ʼn Fees van liggies en liedere

Matilda Schoeman en haar gesin. (Foto: Verskaf)

Matilda Schoeman het 13 jaar gelede saam met haar man, Fanie, na Alice Springs geëmigreer. Sy sê hulle was baie jonk toe hulle na Australië gekom het, maar met Jesus se genade het hulle ‘n groot sukses van hul lewe gemaak en is hulle baie gelukkig. Hulle het twee seuns (agt en ses jaar oud).

Matilda vertel een van die grootste verskille is dat daar baie verskillende Kersfees-geleenthede in Australië is, soos byvoorbeeld Kersliedere by kerslig.

“Ons gaan almal saam na so ’n aand, sing saam Kersliedere, kyk opvoerings en die kinders hardloop vry rond saam met hul maats.”

Sy vertel hulle pak gewoonlik sommer ‘n lekker piekniekmandjie en kuier saam vriende.

“Elke jaar hou ons stadsraad ook ‘n Kersliggiesgeleentheid. Dit is weer gewoonlik ‘n piekniek en ons gaan kyk hoe hulle die dorp se groot Kersboom se liggies aanskakel.”

Sy vertel in haar dorp is daar vrywilligers wat bakkies of trokke mooi versier en dan deur die strate ry en roomys vir die kinders uitdeel.

Vir Anneke is die verskillende feeste ook ‘n belewenis wat hulle baie geniet. Sy reken hulle sou nooit in Suid-Afrika na sulke aandgeleenthede gegaan het nie omdat dit te onveilig is.

Melissa vertel ook van die liggies en feeste in hul omgewing. Sy en Schalk woon in die Mandurah-omgewing naby Perth en sy vertel die mense langs die kanale versier hul huise baie mooi.

“Dit is ‘n wonderlike ervaring om met ‘n boot deur die kanale te vaar en liggies te kyk, dit is so feestelik.”

Nicolette en haar man is ook lief vir die tradisie om na die huise in Mandurah te gaan kyk.

“Die stad Perth doen ook elke jaar moeite om ‘n gratis opvoering van Jesus se geboorte in die stad op te voer, sommer met lewendige donkies, kamele en skape op die verhoog,” sê Nicolette.

Kuier met ʼn aangenome familie

Melissa Coetzee en gesin tydens Kersfees verlede jaar. (Foto: Verskaf)

Maar hoe gemaak met die familie wat so ver is? Izelle sê hulle het ‘n vriendegroep van drie Suid-Afrikaanse gesinne wat mekaar as aangenome familie in Australië beskou.

“Ons spandeer elke Kersdag by een van ons se huise en sorg dat ons ‘n fees van die dag maak.”

Carin vertel in Suid-Afrika was Kersfees altyd ‘n groot familiefees. Maar in Australië bly hul naaste familie 4 000 km ver in die Gold Coast.

“Ons het ‘n Australiese ‘Granny en Grandad’ aangeneem en hulle spandeer gewoonlik Kersfees saam met ons en geniet ons Suid-Afrikaanse geselskap verskriklik.” Sy sê hulle het al ‘n paar keer vriende en kennisse oorgenooi vir die Kersete.

“Hier is ons baie meer ingestel op mense wat alleen is in hierdie tyd, so ‘n mens betrek hulle dat hulle ook ‘n lekker dag kan hê met ‘n feestelike bord kos.

So gaan dit ook by Melissa en haar gesin. “Ons het ‘n groot groep Afrikaanse vriende en het nuwe familiebande gevorm. Ons kuiergroep kom gewoonlik Oukersaand by ons huis bymekaar, dek ‘n tafel op die stoep en kuier en braai saam. Ons maak tyd om uit die Bybel te lees en saam te bid. En dan hou ons gewoonlik ‘n prettige “prezzie swop” waar ons geskenkies (van onder $20) met mekaar uitruil.

Nicolette erken Kersfees is vir haar elke jaar maar moeilik. Sy mis haar familie en hulle het gewoonlik in Mosselbaai saamgekuier. Sy kyk ook uit vir mense wat soos sy nie familie het nie, en hou dan ‘n “Orphan Christmas”. Maar sy erken dit is nie heeltemal soos haar Kersfees tuis in Suid-Afrika nie en die verlange loop hoog dié tyd van die jaar.

“Maar ek beplan altyd ‘n lekker partytjie met speletjies, pryse en baie pret sodat ouers en kinders dit kan geniet.”

Nicolette bak so nou en dan haar skoonma se malvapoeding – dit word altyd baie geniet deur gaste alhoewel dit eintlik gesien word as iets wat ‘n mens in kouer weer sal eet. Matilda vertel hulle maak altyd koekstruif vir nagereg, want dit is wat hulle altyd in hul grootwordjare in Suid-Afrika geëet het. Iets van hul kinderdae om die verlange na Suid-Afrika en die kinderjare se tradisies te probeer trotseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.