Kinkels en knope van troues

(Foto: Taras Budniak/Pexels)

Deur Elize Perrin

Februarie is nie net die kortste maand van die jaar nie, maar word ook die liefdesmaand genoem. Vir baie paartjies is Valentynsdag nie net ʼn geleentheid om hul liefde te vier nie, maar ook ʼn kans om voor die kansel te gaan staan.

Ongeag in watter maand van die jaar jou groot dag was, byna almal het ʼn storie om te vertel.

Knope wat loshaak

Tydens huwelikseremonies is daar nie net knope wat deurgehaak word nie; soms is daar ook knope wat bietjie loshaak en tot gevolg het dat alles nie altyd volgens plan verloop nie.

So is daar die plaasboer wat regtig moeite met sy trou-uitrusting gedoen het, net om die dag met die huwelikseremonie uit te vind dat hy sy hemp tuis vergeet het. Die troue was ver van sy tuisdorp en daar was nie tyd vir op-die-nippertjie-inkopies nie. Gelukkig kon ʼn vriend hom uithelp.

ʼn Bruidegom se pa het ʼn soortgelyke stel afgetrap. Hy het sy skoene vir die geleentheid vergeet. Sy Crocs sou nie die situasie kon red nie. Aangesien die winkels op die dorp beperk was, moes hy maar met nuwe skoene wat maar goed gedruk het die geleentheid aandurf.

Baie paartjies hou daarvan om kinders en diere vir die spesiale geleentheid te betrek. In een geval is ʼn gidshond gebruik om die ringdraer te wees. Met die vooraf oefening het alles goed verloop. Op die groot dag het die baie belangrike hond egter in ʼn diep slaap verval. Toe sy uiteindelik wakker word, was dit baie lekkerder om met die gaste te speel as om haar taak te verrig. Die bruidspaar en gaste het die onbeplande vermaak terdeë geniet.

Die hofknapie wat die trouring vanaf ʼn balkon in ʼn stoor laat val het, het egter vir meer spanning gesorg. Dit was die strooijonker se taak om na afloop van die seremonie daarna te gaan soek. Byna twee ure later is die ring gevind.

ʼn Ander knoop wat soms uitrafel, is wanneer paartjies hulle eie verskaffers gebruik. Soms is dit ʼn niggie wat die blomme sal doen en dan laat is. Of die platejoggie by ʼn bekende radiostasie wat nooit opdaag nie. En dan is daar die keer toe die peetma die troukoek moes bak, net om te vergeet om penne tussen die koeklae in te sit om dit stewig te hou. Die gevolg is ʼn glyende koek. Vir elke foto moes iemand die koek regop hou. Die bruidspaar was baie ontspanne daaroor en kon die humor daarvan geniet.

Predikante is soms ook deel van die drama. ʼn Bekende paartjie het ʼn ewe bekende leraar gevra om hulle in die huwelik te bevestig. Laasgenoemde het van die troue vergeet, maar sy tennisafspraak onthou. Toe dit duidelik word dat die leraar nie gaan opdaag nie, is daar inderhaas na ʼn plaasvervanger gesoek. ʼn Ander leraar wat bietjie in die tuin gevroetel het, is opgespoor en nadat hy sy hande gewas en sy toga gegryp het, is die huwelik voltrek.

ʼn Ander dominee vertel van ʼn bruidegom wat so effens met die oomblik meegevoer geraak het. Toe die bruid instap, het die bruidegom die orrelis stilgemaak. Niemand het geweet wat aangaan nie. Toe pluk die bruidegom, wie se naam aan ʼn bekende sanger herinner, ʼn kitaar onder ʼn bank uit en sing sy bruid toe. Ongelukkig was dit nie heeltemal ʼn sukses nie. Die man het die naam gehad, maar nie die stem nie.

Poetsbakkers sorg dikwels vir hul eie pret. ʼn Emeritusleraar vertel van ʼn huwelik wat hy jare gelede in ʼn hotel se tuin bevestig het. Met sy aankoms het die bruidegom hom ingelig dat hulle vir hom koeldrank met ys op die kateder neergesit het in plaas van water. Dit sou glo lekkerder wees in die hitte. Na die leraar hom uitasem gepraat het en die huwelik voltrek is, neem hy toe ʼn reusesluk van die lafenis. Sy gesigsuitdrukking en verstarde oë het ʼn eie storie vertel. Die gaste het byna almal in ʼn lagbui uitgebars. Coke se rum-maatjie was toe ook in die glas.

Groter uitdagings

Soms is daar egter groter uitdagings.

Beatrix Lourens, funksiekoördineerder van Midrand. (Foto: Luna Fay)

Beatrix Lourens, ʼn funksiekoördineerder met elf jaar ondervinding, vertel van die keer toe sy ʼn troue by Aerial Cableway in Hartbeespoortdam moes hanteer. Die paartjie wou op die berg trou. ʼn Week voor die troue het hulle uitgevind dat die kabelkarretjies buite werking is en dit sou nie betyds herstel wees vir die troue nie. Na ʼn bietjie ekstra spanning is ʼn Plan B inderhaas beraam en al honderd en tagtig gaste is met helikopters tot bo-op die berg geneem.

“Die logistieke reëlings was ʼn groot taak en natuurlik was daar gaste wat ʼn vrees gehad het vir die oefening, maar alles het mooi uitgewerk,” sê sy.

In 1998 was Lizaan van Heerden se grootste taak om die geleentheidsbeplanner vir haar troue by die begroting te laat hou; of so het sy gedink. Na twee ure se beplan, bespreek en besnoei, was die blomme die laaste item op die lys. Lizaan se keuse was proteas en fynbos. Dis net hier waar die beplanner gedreig het om hom te onttrek as sy op proteas aandring.

“Aanvanklik het ek gedink hy maak ʼn grap en wou weet waarom,” vertel sy. “Volgens die beplanner was dit kommin.” Ek is nie een wat my maklik laat beïnvloed nie, maar ek was so moeg dat ek toegegee het. Hy het lelies gebruik en dit het aan die einde baie mooi gelyk.”

ʼn Ander bruid vertel dat sy, na ʼn groot gesoek, ʼn trourok gekry het wat na haar smaak was en haar beursie gepas het.

“Die rok het ʼn baie mooi rugkant gehad, maar die sluier was so dig dat niemand die rugkant sou kon sien nie,” sê sy. “Ek en die boetiekeienaar het ooreengekom dat hulle die sluier met een sou vervang wat sou wys wat dit moes wys. Toe ek ʼn week voor die troue skakel om te hoor wanneer ek die sluier kan kry, kom ons agter dat die dame my troudatum as ʼn week later aangeteken het. Lang storie kort; die sluier het die middag voor die troue saam met my aanstaande skoonsuster opgedaag.”

Wenke

Geen bruid wil onnodige spanning voor of tydens die huwelikseremonie ervaar nie.

Beatrix Lourens gee die volgende wenke wat kan help om alles glad te laat verloop:

  • Geniet die proses. Moenie paniekerig raak nie. Alles werk uit soos dit moet, mits almal kalm bly.
  • Iemand op die troue moet alles weet en op die dag die leiding neem. Kies die kalmste persoon. Dis baie selde die ma van die bruid.
  • Moenie by almal se politiek en voorkeure ingetrek word nie. Reël ʼn dag wat julle (die bruidspaar) verteenwoordig.
  • Klassieke kleure bly tydloos.
  • Doen goeie navorsing oor verskaffers. Hulle bepaal die sukses van die dag.
  • Kies die regte seremoniemeester en platejoggie. Hulle maak of breek die gebeure.
  • Geniet elke oomblik. Dit gaan te vinnig verby.

Maroela se Bruid van die Jaar: Skryf in as Somerbruid!

Maroela Media bied hierdie jaar vir die eerste keer ʼn spesiale Bruid van die Jaar-kompetisie aan. Dit word in samewerking met Dream Hotels & Resorts aangebied en daar is boonop groot pryse op die spel.

Ons gaan elke seisoen ʼn seisoenebruid aankondig en aan die einde van die jaar gaan ons lesers die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar aan te wys. Jy kan in aanmerking kom vir ons Somerbruid as jy tussen Desember 2021 en Februarie 2022 trou. Inskrywings vir ons Somerbruid sluit op 4 Maart 2022. Klik hier om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.